DA-raadslid, man glo met stomp voorwerp vermoor

Monica en Basil Deniacos. (Foto: verskaf)

Die DA-raadslid van Dealesville en haar man wie se liggame Vrydagoggend in hul huis gevind is, is met ʼn stomp voorwerp doodgeslaan.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn huiswerker het omstreeks 07:30 op Monica Deniacos (68) se bebloede liggaam in die gang van die egpaar se huis in Dealestraat afgekom. Haar man, Basil (74), se bebloede liggaam is in ʼn kamer tussen ʼn bed en die muur gevind.

Volgens Makhele is die egpaar se Toyota-bakkie met registrasienommer DPL 149 FS tydens die voorval gesteel en nog nie teruggevind nie. Dit is in dié stadium nog nie duidelik hoeveel verdagtes daar was nie, maar volgens Makhele is ʼn grootskaalse soektog na die moordenaar(s) begin.

“Ons sal onvermoeid werk om hierdie genadelose moord op die bejaarde egpaar op te los. Ons het ʼn multidissiplinêre span aangestel wat bestaan uit kundige ondersoekers van georganiseerde misdaad asook ondersoekers verbonde aan die Valke en misdaadintelligensie om die skuldiges vas te trek,” het lt.genl. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, AO Hennie Brummer, by 082 466 8604 in te lig.

Monica, ʼn gemeenskapsaktivis, was sedert 2017 die DA se enigste raadslid in die Tokologo- plaaslike munisipaliteit.

“Dit is ʼn verskriklike groot skok. Ons is geweldig hartseer,” het Nomawethu Sbukwana, die DA se provinsiale woordvoerder in die Vrystaat, aan Maroela Media gesê.

“Raadslid Deniacos het altyd die gemeenskap van Tokologo, wat Dealesville, Boshof en Hertzogville insluit, na die beste van haar vermoëns gedien. Sy was ʼn geliefde openbare verteenwoordiger van die party.

“Monica was ook jare lank ʼn vooraanstaande sakevrou in Dealesville,” het Patricia Kopane, DA-leier in die Vrystaat, gesê.

“Die DA wil sy medelye met haar familie, geliefdes, vriende en die gemeenskap van Tokologo in dié hartseer tyd betuig.”

Die polisie ondersoek sake van moord en roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan ·

Ek hoop dat die saak spoedig opgelos sal word en die skuldiges aan die pen sal ry….

Muffin ·

Die doodsstraf sal maar net terug gebring moet word.
Dit is tragies. Lees elke dag van moorde.

Susan ·

Julle skree hard vir die doodstraf, maar net witmense sal doodstraf kry, net soos net witmense tronkstraf kry vir rassisme. Dit sal nie konsekwent toegepas word nie.

PJC ·

Iemand sal ń grootse poging moet aanwend om ons mense te leer om hulself te beveilig en absoluut paraat te wees vir 24 uur van die dag. Dit sal deel van ons kultuur moet word as ons nie op die lang duur almal wil uitgemoor word nie.

HP ·

Stem 100% saam met jou. Paraat en op jou hoede 24 uur van die dag. Dis erg frustrerend om telkens te hoor dat slagoffers onverhoeds betrap is.

Anne ·

Nou wat gaan die DA aan moorde en geweld doen? Ek glo nie vir ‘n oomblik politiek het niks hiermee te doen nie. Ons wag nog dat CR se planne in werking kom tov plaasmoorde.
Alle simpatie aan hulle naasbestaandes.

TN ·

Veiligheid is die verantwoordelikheid van die nasionale regering . Indien die DA aan bewind was sou dit nie so gegaan het nie ; polariserende partye is onder andere die oorsaak hiervan .

Michelle ·

Sinnelose moorde op onskuldige mense. Wend van die geld aan wat so gebruik word vir korrupsie en stel ‘n taakspan van lede wat polisie verlaat het oor hul beter opsies buite gekry gekry het (top speurders ) of laat Cele die moorde oplos . Laat hy ons wys hoe word dit gedoen asb

Abe ·

Michelle,
Onredelike voorstel wat jy maak. Dis nie Cele se werk nie. Die polisie moet dit doen as hulle kan.

Emma ·

Dit is hartseer, hulle probeer die wittes nou drasties minder maak in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.