DA se Mbali Ntuli bedank

Mbali Ntuli. (Foto: Facebook)

Een van die DA se prominentste politieke figure, Mbali Ntuli, het bedank as ʼn lid van die party en as lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer.

Sy het Donderdag in haar bedankingsbrief gesê hoewel moeilik, hierdie ʼn nodige stap is vir haar groei as gemeenskapsleier.

“Verandering is goed. Dit bied ʼn geleentheid vir besinning en vernuwing,” sê sy.

“Dit is in daardie gees dat ek aankondig dat ek vandag my bedanking as lid van die DA en lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer formeel ingedien het.”

Ntuli is al 15 jaar ʼn lid van die amptelike opposisie en is in 2020 oorgeslaan as die DA se partyleier ten gunste van die huidige leier, John Steenhuisen.

“My bedanking is ʼn kans om my energie te vernuwe en ander maniere te vind om terug te gee aan my gemeenskap. Ek is opgewonde om terug te gaan en in gemeenskappe te werk.”

Ntuli het in haar bedanking uiteengesit watter struikelblokke sy te bowe moes kom sedert sy op die ouderdom van 19 by die party aangesluit het.

“My kollegas weet beter as die meeste mense van die moeilike en meedoënlose uitdagings in die party wat my in die gesig gestaar het, deels omdat so baie daarvan in die openbare oog afgespeel het,” sê sy.

“Ek was deurlopend reguit oor gevalle waar die DA fouteer het in sy behandeling van sy lede en die negatiewe kultuur wat binne die organisasie gekweek word – my teenkanting daarvan was ʼn deel van my jaar lange veldtog om in 2020 as DA-leier verkies te word.

“Ek gaan dus met ʼn diep gevoel van deernis vir dié van julle wat oorbly en ek wens julle alle sterkte toe terwyl julle voortgaan met die werk wat julle as individue doen om Suid-Afrika te help verbeter.”

Ntuli het destyds ʼn hand daarin gehad om die DA se Rhodes Universiteit-afdeling te begin, die DA-jeug te vestig en te lei, asook die party se teenwoordigheid oor verskeie tersiêre instellings en jeugstrukture uit te brei.

“Ek wil nou saam met gemeenskapsleiers reg oor Suid-Afrika werk om hul potensiaal te benut om verandering te verwesenlik,” sê sy.

“Dit is dus tyd vir my om ʼn blaaskans van formele politiek te neem om weer diegene wat werklik ʼn verskil maak, te help om die land te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pablo ·

Nog n uitstekende leier was die DA verlaat. Dis tyd dat die DA wakkerskrik.

krodedil ·

So val al die vrot hout af. As jy die persoon nie kan “Fire” nie maak dit net onmoontlik vir hom of haar om te bly. Ek dink dis wat hier gebeur het. Die DA doen goeie werk.

JohanR ·

Mbali – wat sal die naam van jou nuwe politieke party, met jou as leier, heet?

Dries ·

Ag tog. Hierdie is weer nuwe moeilikheid. More byt sy weer die hand wat haar gevoer het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.