DA wil ook hof toe oor Tuinroete-strande

Argieffoto (Foto: falco/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het pres. Cyril Ramaphosa en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, skriftelik versoek om die besluit te regverdig waarom strande in die Tuinroete-distrik vir die feesgety gesluit is.

John Steenhuisen, leier van die DA, het gesê die president het Woensdag tot 17:00 kans om te reageer, anders sal die party die hof nader vir dringende verligting.

“Premier Alan Winde het die nasionale regering al herhaaldelik daarop gewys dat strande in die Wes-Kaap nie ʼn beduidende bedreiging inhou vir oordrag van Covid-19 nie. Die provinsiale regering het verskeie brandpunt-planne ingedien wat wys dat die Wes-Kaap voldoende voorberei is om die seisoenale invloei van toeriste te hanteer,” het Steenhuisen bygevoeg.

Die DA en sy regerings in die Wes-Kaapse kusdorp-munisipaliteite het ook baklei teen die sluiting van strande tydens die feesgety. “Só regulasie is nie gebaseer op die wetenskaplike raad van mediese kenners nie en is onmoontlik om toe te pas,” het hy bygevoeg. “Dit sal ook die finale spyker in die doodskis wees vir die Tuinroete se kus-ekonomieë wat op die randjie van ineenstorting staan.”

Steenhuisen sê dit was van die begin af duidelik dat die Wes-Kaap nie strande wou sluit nie, en dit was ook nie nodig vir die provinsie nie. “Die nasionale regering het dié versoeke blatant geïgnoreer en onderskat die bekwaamheid van die Wes-Kaapse regering, ten koste van die lewens en lewensbestaan van die kusgemeenskappe.

“Dit is ook ons mening dat die nasionale regering nie regverdig en konsekwent opgetree het om die regulasies toe te pas nie. Infeksiekoerse tussen die Tuinroete en KwaZulu-Natal, byvoorbeeld, verskil nie van mekaar nie. Terwyl strande egter in KwaZulu-Natal slegs vir ʼn paar dae gesluit word, is daar ʼn onregverdige algehele beperking op die Tuinroete vir die hele feesseisoen.”

Steenhuisen meen daar is nie enige regverdige rede waarom strande op enige plek in die Wes-Kaap gesluit moet word nie en die nasionale regering se besluit om die Tuinroete se strande te sluit, is dus irrasioneel.

“Alle Wes-Kaapse strande moet oop bly vir die res van die feesgety, soos versoek deur die provinsiale regering. Indien nie, moet die Tuinroete, minstens, dieselfde benadering geniet as KwaZulu-Natal.”

Hy sê die inwoners van die Wes-Kaap plaas hul vertroue in die DA om hul regte te beskerm, om in ʼn regverdige en gelyke samelewing te woon en ʼn lewe van vryheid en menswaardigheid na te jaag. “Ons sal hof toe gaan om seker te maak ons voldoen aan dié verbintenis vir ons kiesers en om te waarborg dat daar lank ná die Covid-19-pandemie steeds welvarende kusdorp-ekonomieë in die provinsie sal wees.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn dringende hofaansoek is intussen Dinsdag namens die Grootbrakrivier-sakeforum, Louis Cook, ’n gastehuiseienaar en voorsitter van die Gastehuisgilde van Mosselbaai, en AfriForum as derde applikant, in die Pretoriase hooggeregshof gebring teen Dlamini-Zuma oor haar besluit om strande in die Tuinroete-distrik, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal te sluit gedurende die feestyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jaco ·

Dis weens die DA se gedurige alewige toets toets toets vir corona dat die Tuinroete se corona syfers so hoog is. Nou hardloop hulle hof toe nou dat dinge teen hulle draai. Dis egter nou te laat. ‘n meer traak my nie agtige benadering soos in ander ANC-beheerde provinsies sou die corona syfers in die Wes-Kaap, insluitend die Tuinroete, laer gehou het. Die DA moet asseblief besef dat ALLES wat hulle doen, selfs goeie goed in landsbelang soos om Corona te keer, word nie so deur die ANC beoordeel nie. Die ANC stel NET in 1 ding belang: om totale mag oraloor te hê. Die ANC beskryf die DA as “die rassistiese DA”. Niks van die DA is dus goed nie.
Nog iets: die DA toets uiters ywerig teen corona, maar ek sukkel nou al 4 maande met dieselfde DA om ‘n onwettige karwassery naby my huis te stop. Dis in ‘n ten volle DA-beheerde munisipaliteit. Hulle slagspreuk van “the DA delivers” werk dus net waar dit hulle pas. In elk geval het hulle wonderlike delivery met Corona nou teen hulle gedraai.

Kenny ·

Soos ek nou hier tik, lê ek op die strand. So maak maar oop want geen reëls word elkgeval toegepas hier in Danabaai nie.

Sobymykoolkop ·

Jy is dan reeds besig om die reëls te verontagsaam maar jy kla dat dit nie toegepas word nie.

Carel ·

Eenvoudige verduideliking
Stout munisipaliteite wat DA gestem het, word gestraf
BUSINESS INSIDER BERIG: “Initiation practices are prohibited nationally, except in the Eastern Cape, excluding Nelson Mandela Bay, from 17 December 2020”
Niemand gaan my oortuig dat ‘n sekere demografie gestraf nie nou gestraf word vir hulle stemkeuses nie

Thinus ·

As ons kan getalle reguleer in geboue en reëls kan toepas, hoekom is strande dan so onmoontlik om te bestuur? Om strande toe te maak is ‘n indirekte manier om die ekonomie nog ‘n direkte knou toe te dien vir al die klein dorpies teen die kus af wat staatmaak op Desembermaande se vakansiegangers se besigheid. Wat gaan hofsake in elkgeval help? Niks gaan verander tot na die nuwe jaar nie. Net ‘n groot lawaai. Dan wonder hulle nog hoekom mense nie meer hul wil steur aan alles nie. Belaglik!

Debbie ·

Daar is vandag 10,000 nuwe gevalle maar hulle wil alles oop he. Dink n bietjie

Blomme ·

Debbie.. Geld is mos belangriker as lewe. Dis waaroor dit gaan… Sien ń donker tyd vir ons land.

Alleen Wolf ·

Daar is nog nie een lewe gered nie, skrik wakker, die golf word net vertraag en die ekomomie verder verwoes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.