DA wys vinger na Rand Water oor waterkrisis

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Gautengers het al wéér beperkte toegang tot water en die DA sê dit is weens Rand Water se “onbekwaamheid”.

Solly Msimanga, Gautengse leier van die DA, sê dit is nou al weke dat beurtkrag ’n negatiewe uitwerking op die watervoorsiener se vermoë het om reservoirs in Gauteng van water te voorsien. Dít terwyl munisipaliteite nie genoeg tyd kry om die reservoirs tussen geskeduleerde kragonderbrekings vol te maak nie.

“Dit is hoog tyd dat Rand Water sy huis in orde kry sodat van die druk van munisipaliteite afgehaal kan word,” sê Msimanga.

Maroela Media het Maandag berig sommige gebiede in Pretoria sit al vir meer as ʼn week lank sonder water, deels omdat reservoirs leegloop. Inwoners kla egter ook dat die Tshwane-metroraad, met die DA-burgemeester Randall Williams, lank vat om lekkende waterpype te herstel, wat tot die probleem bydra.

Msimanga het nietemin Dinsdag geëis dat Rand Water betyds met Gautengers by monde van hul munisipaliteite kommunikeer oor beplande wateronderbrekings weens die instandhouding van waterinfrastruktuur.

Rand Water behoort ook die publiek op hoogte te hou oor die reservoirvlakke per munisipaliteit, meen Msimanga.

“Rand Water behoort dringend ’n vergadering met al die munisipaliteite in die provinsie te belê om ’n oplossing te vind vir die huidige probleem met die voorsiening van water in die provinsie.”

Williams het reeds Maandag met onder meer die uitvoerende hoof van Rand Water vergader oor die watervoorsiener se onvermoë om hoogliggende reservoirs in gebiede soos Soshanguve, Mooikloof, Grootfontein en Laudium van genoegsame water te voorsien.

Volgens Williams het Rand Water hom daartoe verbind om die watertoevoer na hierdie gebiede beter te bestuur en sommige van die reservoirs het oornag reeds effense herstel getoon weens verhoogde waterdruk.

Die metro beplan om binnekort met Rand Water in gesprek te tree oor die waterkwota wat tans aan Tshwane toegeken is.

Williams sê die Stad Tshwane ontvang tans die minste hoeveelheid grootmaatwater van al drie metro’s in Gauteng, ten spyte daarvan dat dit geografies gesproke die grootste stad in die provinsie is en ’n beduidende vervaardigingsektor het.

Die metro sal graag met Rand Water daaroor in gesprek wil tree, aldus Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christo ·

Die DA is die laaste 1 wat vinger kan wys. Hulle is baie kort op die ANC se hakke

Nettie ·

Hierdie is nie meer “onbekwaamheid” nie. Hierdie is oorlog teen landsburgers. Ons het die reg op voedsel, water, elektrisiteit, veiligheid en gesondheid. Dit word nie meer verskaf nie, en dis duidelik dat daar beplanning agter dit sit, dis nie meer net “onbekwaamheid” nie. Dis beplande oorlog met optimale trefkrag vir chaos, woede en deurmekaarspul.

Vir die wat dit nie glo nie… hoekom is ‘n plant sopas in Amerika afgebrand en 100 000 hoenders vernietig? Herinner dit nie aan die 50 000 hoenders wat hier vernietig was nie? Sien die patrone raak!! En begin wonder wie sit agter dit als en hoekom!

Blikkies ·

‘Binnekort’ is te laat julle. Wat kan ons doen om Rand Water weer op die pad te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.