Water skaarser as krag in Pta

Dele van Pretoria is al vir sewe tot tien dae sonder water. (Foto: Unsplash)

Die voortslepende waterkrisis in die ooste van Pretoria het daartoe gelei dat sommige gebiede al vir sewe tot tien dae sonder water sit en inwoners is meer as moedeloos.

Waterlekkasies, beurtkrag en leë reservoirs kry skynbaar die skuld dat sommige dele nou al tien dae lank sonder water sit en amptenare van die Tshwane-metro spook om die veelvuldige waterprobleme saam met Rand Water op te los.

“Ons water het die 20ste vandeesmaand opgeraak en sedertdien was daar nog nie weer ʼn druppel in ons krane nie,” sê Salome Esterhuizen, ʼn inwoner van Newlands naby Menlyn.

“Baie van ons het dit die dag wat dit opgeraak het reeds gerapporteer, maar iemand het eers vier dae later uitgekom om vas te stel wat die fout is.”

Volgens plaaslike raadslede in die gebied is daar ʼn lekkasie in een van die pype wat dele van Newlands van water voorsien. Die metro kon egter nog nie daarin slaag om dié lekkasie op te spoor om dit reg te maak nie.

“Dit is soos om keer op keer teen ʼn muur vas te loop want almal trek net hul skouers op,” sê Esterhuizen.

Intussen moes haar gesin, en talle ander in die gebied, honderde rande uitgee om ten duurste water by winkels aan te koop.

“Ons koop water om die toilette mee te spoel en elke dag ry ons na vriende toe sodat ons en die kinders voor die volgende dag gestort kan wees,” sê sy.

“ʼn Mens kan nie veel aan die situasie doen nie. Jy kan nie eens kwaad raak nie, want wat help dit?”

Nog ʼn inwoner, dié keer in die hoogliggende dele van Mooikloof, se krane is ook nou al ʼn week lank droog.

“Daar is nie duidelike redes vir die watertekort gegee nie,” sê Ezette Roberts.

“Van beurtkrag, die hittegolf, ʼn waterpyp wat onklaar geraak het en hoë waterverbruik word as redes vir die situasie aangegee. Ons het nog geen aanduiding van hoe lank dit gaan neem om ons watertoevoer te herstel nie en die frustrasie loop hoog.”

Luidens die jongste kennisgewing van die Tshwane-metro is die reservoir wat water aan Mooikloof verskaf, bykans leeg.

“Daar is geen beweging by die Mooikloof-reservoir nie; dit staan tans op 1,98% omdat daar geen watertoevoer vanaf Rand Water is nie.”

Randall Williams, burgemeester van Tshwane, het intussen in ʼn skrywe aan die inwoners van Mooikloof gesê hy vergader vandag met Rand Water se uitvoerende hoof en sy span om die voortslepende wateronderbreking by Mooikloof en ander gebiede in Tshwane te bespreek.

Die res van Pretoria sukkel ook

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Hoewel sommige dele van Pretoria se reservoirvlakke oornag ietwat verbeter het, lyk die situasie elders in die stad steeds beroerd.

Volgens die metro staan die watervlakke by die Grootfontein-reservoir steeds op 4,16%. Dit nadat die reservoir se uitlaat Sondag en oornag geïsoleer is in ʼn poging om al die water in die reservoir te behou.

“Die span probeer sedert verlede week om ʼn aanjaagpomp in te span, maar daar is niks water om van Rand Water se stelsel af te pomp nie,” lui die kennisgewing.

Intussen spartel die westelike dele van Tshwane ook vir water met die Laudium-reservoir se vlak wat nog nie genoegsaam verbeter het nie. Hoewel dié reservoir se vlak nou op 25% staan, moes dit onder normale omstandighede al op 50% gestaan het.

Die Atteridgeville HL-reservoir, wat ook die Kalafong-hospitaal van water voorsien, is steeds leeg “omdat die druk van Rand Water nie voldoende is vir die water om die reservoir te bereik nie”.

“ʼn Toegewyde watertenkwa is ontplooi om die hospitaal se tenks vol te maak,” lui die metro se kennisgewing.

Die Lotus Gardens-reservoir het oornag van 21% tot 28% beweeg, wat volgens die metro beteken dat die vloei van Rand Water na die reservoir baie min is.

Volgens Williams het die metro die afgelope week gespook om reservoirs te isoleer sodat die vlakke kan herstel. Fase 2-waterbeperkings is ook ingestel in ʼn poging om water te bespaar. Dié pogings word egter voortdurend gekniehalter deur ʼn tekort aan genoegsame watertoevoer van Rand Water.

“Ons inisiatiewe om te verseker dat ons reservoirs herstel kan slegs werk as daar genoegsame watertoevoer na die reservoirs is. Dit is egter al bewys dat van die geïsoleerde reservoirs slegs met ʼn minimale persentasie herstel het, wat daarop dui dat die aanbod eenvoudig onvoldoende is,” sê hy.

“Dit is duidelik dat ons dringend verhoogde watervoorsiening na hierdie gebiede benodig om voldoende watervlakke vir inwoners te verseker.”

Williams sal vandag om 16:00 met Rand Water se bestuur vergader, waarna werkbare oplossings hopelik vir die krisis gevind sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ministers het seker water, en krag.

JohanR ·

Oe ja…..ministers eerste die gepeupel iewers daar doer in die agtergrond. Kan nie he ‘n minister moet stink rondloop!

JohanR ·

Sal liewer met ‘n kers sit as wat ek nie my hande kan was, kook of ‘n stort/bad kan vat nie! Met Pretoria soe stuk warm kan jy seker nie eers ys maak nie? Jy gebruik wat jy het en dan sonder water niks verder.

Johann ·

So RAND WATER het die mag en pag om bloot water toevoer na PTA af te sit? En wat is die naam van die Rand Water individu wat dit doen? En terloops selfde tyd wat ESKOM als wil afsit?

Christoff ·

Daar is duidelik eerder ‘n skuld probleem en dus word verskeie ander tegniese redes gegee vir dit wat eintlik swak en korrupte dienslewering is.

Christoff ·

Die beurtkrag en hoë temperature het die onvermoë en swak beplanning uitgewys en dus die water krises, onder andere (soos met krag) vinniger navore gebring.

Marius ·

Die amptenare het nie nodig om te spook nie , daar is meer as genoeg spoke in die land .
Hulle moet net hulle werk doen waarvoor hulle betaal word. Stel vir hulle n sperdatum .

Hendrik ·

As daar vorentoe gekyk word lyk dit vir my of buurte maar hulle eie tenk reservoires moet opsit. Klein dorpies sukkel al lankal en dit lyk of die metros nou ook slagoffers word van staatsverval.

Patch ·

Volgens sawx.co.za se inligting van 25 Januarie 2023, is daar geen damme in Gauteng se opvangsgebied wat onder 90% is nie. Hoekom sukkel ons dan so met water?

Piet parys ·

Alles kry die skuld vir die water krissis behalwe die onopgeleides en onbevoegdes wat steeds hulle salaris kry . Tyd dat die mense op prestasie salaris kry en dit geld van bo tot onder in die salaris skaal

Amelia ·

En net so voor verkiesing volg jaar is als weer klop disselboom vir n week of twee Laat die ministers en ramaposa sonder krag en water dans dit binne 10 min herstel en geen probleme nie

Christoff ·

Die beurtkrag en hoë temperature het die onvermoë en swak beplanning uitgewys en dus die water krises, onder andere (soos met krag) vinniger navore gebring.
Daar is duidelik eerder ‘n skuld probleem en dus word verskeie ander tegniese redes gegee
vir dit wat eintlik swak en korrupte dienslewering is.

domheks ·

Man die cANCer het ons nou net waar hulle ons wil het – sonder krag, sonder water sonder vertroue!

Kokerboom ·

Die wil ontbreek. Omgee by agterdeur uit!
Kaders weet hul word nie aanspreeklik gehou.
Hoe lank gaan belastingbetalers die situasie so sito sito aanvaar?

Truman Burbank ·

En daarvoor help sonpanele en inverters sweet blow boggerall

annie ·

Wie sou kon dink dat Pretoria en Bloemfontein in die verre toekoms sou kompeteer oor wie die swakste munisipaliteit in die land het. Kaapstad moet oppas vir ‘n driemanskap.

Vriendelike Frikkie ·

Dis wat gebeur as jy politici aanstel om regte werk te doen. Kry die politici om te gaan babatjies soen en sentrums oop te maak en los die bestuur van multi-biljoen besighede soos die metros vir opgeleide bestuurders.

Jacobus ·

So terroriseer die ANC stadsrade wat nie onder hulle beheer is nie. Die ANC is mos nie verniet n kommunisties terroristiese party nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.