Waterbeperkings wink (weer) vir Tshwane

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Met die skroeiende hitte wat inwoners van Tshwane die afgelope paar weke ervaar, het waterverbruik in die stad só beduidend toegeneem dat Rand Water nou dalk genoop is om waterbeperkings in te stel.

Boonop lyk dit nie asof die hitte gou gaan padgee nie, veral met ʼn hittegolf wat Gauteng vandeesweek tref.

Die Tshwane-metroraad doen ʼn beroep op inwoners om hul waterverbruik drasties te beperk, om te verhoed dat waterbeperkings ingestel word. Rand Water het in Oktober verlede jaar waterbeperkings in dele van Gauteng ingestel en later die watertoevoer na wonings verminder, toe geen afname in waterverbruik plaasvind nie.

Volgens Daryl Johnston, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en streeksbedrywighede in die metroraad, het Rand Water die metroraad verlede week in kennis gestel dat hy die waterdruk in die stad gaan aanpas om waterverbruik te verminder.

Dit volg nadat die watervoorsiener al vroeg in verlede week ʼn kennisgewing uitgereik het oor die toename in waterverbruik in Gauteng. In die kennisgewing het hy gesê indien die waterverbruik hoog bly, sal hy waterbeperkings moet instel. Ondanks die waarskuwing het die waterverbruik in Tshwane steeds die ooreengestemde daaglikse limiet oorskry.

Rand Water en die metroraad het Saterdag ontmoet om vas te stel hoe om watervloei te beperk en sodoende die stad se waterverbruik te verminder en te verhoed dat waterbeperkings die inwoners se voorland word.

“Waterverbruik neem toe weens die warm weer en beperkte reënval. Boonop beïnvloed beurtkrag die waterpompstasies se vermoë om water na die reservoirs te pomp. Dit het veroorsaak dat die watervlakke in Rand Water se reservoirstelsel sak – wat water aan ʼn groot deel van Gauteng [insluitend die Stad Tshwane] voorsien,” sê Johnston.

“Daar is reeds areas in die stad wat in hierdie stadium lae waterdruk ondervind of selfs geen water het nie.”

Ingevolge die waterbeperkings wat dreig raai Johnston inwoners aan om nie hul tuine met ʼn tuinslang of besproeiingstelsel nat te lei nie, nie ʼn tuinslang te gebruik om hul opritte of patio’s skoon te maak, hul voertuie met ʼn tuinslang te was of hul swembaddens vol te maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

H.A. ·

Wat van die mense wat nie vir water betaal nie, selfde soos eskom.

Papsak ·

Presies vra ek ook jy wat betaal elke maand moet maar tevrede wees sonder water menseregte skending !!!!!!!

Danie ·

Hoe misdaad geen water en krag ons raak al gewoond daaraan.

Jacques ·

Net te goed hoe inwoners water beperkings kry terwyl die damme vol is. Dit terwyl ontelbare water lekkasies geen prioriteit van die stadsrade is nie. Hier is een onder my straat wat al van November af lek. Dis al hordes male aangemeld ook. Hierdie hele ding sit nie reg met my nie. Moet amptenare nie eerder salaris beperkings kry nie? Hoekom moet inwoners gestraf word as die probleem by die amptenare van die stadsrade lê? Is water pompstasies nie veronder om kragopwekkers te hê nie. Word geen beplanning in hierdie land gedoen nie. Kan Afriform nie bietjie spiere wys nie?

Vriendelike Frikkie ·

Hier in Capital Park het ons waterlekke wat so oud is, hulle word al op Google Earth aangedui as nasionale besienswaardighede…

Anel ·

Dis soos die krag!!! Ons wat betaal mag nie gebruik nie of word beperk! Die ander kan mors soos hulle wil. Maak die lekkadies reg, draai die krane toe op die plekke in die openbaar! Maar dit is ‘n vloekwoord om iets toe te draai. So ja, voeter maar aan!!!

Erika ·

Wel, ons sit in elk geval sonder water, van gister af, omdat dieselfde pyp(e) keer op keer gebars het, herstel word, intsussen stroom liters en liters water die teer af, en ons moet “suffer” gister kon mens nie eers behoorlik bad nie. Desember het die hele Noord vir dae lank sonder water gesit, omdat daar een of ander pyp gebars het, dit het hulle 4 dae gevat om hierdie pyp reg te maak, intussen moes mens by ander mense gaan bad, gaan water “bedel” net om jou toilet te kan spoel. Hoekom moet ons almal elke keer boet vir hulle laksheid?

Pietertjie ·

O, ek dag dis die pompstelsel se skuld. Of Eskom s’n. ‘n Vars verskoning is altyd welkom! Want vars oplossings is daar nie…

Andre ·

Load shedding , water shedding en dan kom sun shedding en breath shedding

Hendrik ·

Net soos krag moet mense sorg vir ‘n watertenk. Ons bly in ZA en moet gereed wees vir alles.

Genis ·

Die wat wettig betaal word gestraf, maar die wat roof, het mense regte…

Harley Davidson ·

Ek kan nie glo daar is n water skaarste nie daar was vloede en hoë reenval syfers en nou water beperkings ,ek dink dit is bog die elektrisiteit is die probleem en die wat verantwoordelik is vir eskom se val is nog steeds op vrye voet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.