Dag twee van ANC-konferensie ʼn voortslepende maraton

President Cyril Ramaphosa tydens die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg (Foto: LUCA SOLA / AFP)

ʼn Trae eerste dag van die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie is opgevolg met ʼn uitgerekte tweede dag van verrigtinge.

Zuma en Ramaphosa lag saam

ʼn Video het vanoggend vroeg reeds die ronde gedoen waarin president Cyril Ramaphosa en oudpresident Jacob Zuma saam staan en lag het. Dié video, wat Vrydag by die konferensie geneem is, laat dit lyk asof daar geen politieke spanning tussen die twee heers nie.

Zuma se dogter het ook in ʼn laatnag Twitter-plasing verduidelik hoe sy ontwrigtende aankoms by die konferensie nie beplan was nie. “Dit was God se plan gewees,” volgens Duduzile Zuma-Sambudla.

Die ontwrigtende optrede van talle KwaZulu-Natalse afgevaardigdes tydens Ramaphosa se toespraak van die vorige dag, is ook deur die ANC-leier in dié provinsie, Siboniso Duma, veroordeel.

Vroegdag volharding om voort te beur

Talle agendapunte van Vrydag het oorgestaan na dag twee van die konferensie wat groot druk op die program geplaas het.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het dit vroegdag reeds duidelik gemaak dat die ANC met erns deur die program vir die dag sal werk. Hy het benadruk hoe die konferensie beslis afgehandel sal word ondanks vroeë uitdagings.

“Ons het ʼn morele en politieke plig om ʼn sukses van die konferensie te maak,” het Mabe gesê.

Mabe het ook uitgelig hoe beleidskwessies nie sentraal in dié konferensie staan nie, maar eerder die leierskapsvraagstuk. Daarom sal hulle die nodige tyd en aandag aan laasgenoemde spandeer.

Teen 11:00 het die program ʼn aanvang geneem met talle geslote sessies wat deur die afgevaardigdes gehou moes word. Tydens die eerste sessie het adjunkpresident David Mabuza die organisatoriese verslag gelewer.

In dié verslag is daar onder meer uitgelig dat figure soos Zuma en geskorste sekretaris-generaal Ace Magashule die party verdeel. Dit is veral in die lig van korrupsieklagtes wat teen hulle aanhangig is en ook sloer.

Akkreditasieverslag

ʼn Volgende geslote sessie was toe die party se akkreditasieverslag bespreek en aanvaar moes word.

Debat rondom dié verslag het uiteindelik byna die hele dag lank geduur. Dié verslag sal na verwagting vanaand nog deur die afgevaardigdes aanvaar word.

Die ANC-verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg (Foto: Marco Longari/AFP)

Dit is die eerste keer dat die ANC sy elektroniese lidmaatskapstelsel gebruik het vir ʼn nasionale konferensie. Dié stelsel het talle bykomende probleme veroorsaak, omdat alle provinsies nie in aanloop tot die konferensie daarvan gebruik gemaak het nie. Sodoende het stelselbelyningskwessies opgeduik wat lidmaatskap van afgevaardigdes betref.

Alle geakkrediteerde afgevaardigdes word by die konferensie toegelaat om vir beide leierskap- sowel as beleidskwessies te stem. Daar is dit so belangrik vir die party dat die akkreditasie onkreukbaar moet wees.

Sodra die akkreditasieverslag aanvaar word, kan daar finaal bepaal word hoeveel geakkrediteerdes die konferensie bywoon. Hierdie getal sal egter eers aan die media bekendgemaak word sodra dit aan die konferensie self voorgelê is.

Topses word dalk topsewe

Een van die grondwetwysigings waaroor die afgevaardigdes ook vannag nog moet stem, is om die ANC se topleierskapsposisies met een te vermeerder met die byvoeging van ʼn adjunk- sekretaris-generaalpos.

Indien hierdie wysiging goedgekeur word, gaan kandidate vir hierdie posisie van die vloer af genomineer moet word, aangesien dit tydens die nominasieproses – wat die konferensie voorafgegaan het – nog nie bestaan het nie.

ANC woordvoerder Pule Mabe spreek die media toe (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

Laatnag stemmery verwag

Na afloop van hul laatmiddagete het Pule Mabe in nog ʼn mediakonferensie bevestig dat die afgevaardigdes gaan poog om vanaand nog vir die topleierskap te stem.

Voordat hierdie stemmery kan plaasvind, moet die vloer eers oopgemaak word vir bykomende nominasies. Dit is veral ʼn belangrike stap in die lig van die moontlik bykomende adjunk- sekretaris-generaalposisie wat bygevoeg kan word.

Vrygestel van beurtkrag

Dit het Saterdag ook aan die lig gekom dat die verkiesingskonferensie, wat by Nasrec in Johannesburg gehou word, van die heersende fase 6-beurtkrag vrygestel is. Die ANC hou egter vol dat hulle nie om hierdie vrystelling aansoek gedoen het nie.

Mabe het verduidelik hoe die ANC nooit sal verwag om anders as sy mense hanteer te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.