‘Dagga-paartjie’-man op kleinhoewe doodgeskiet

Julian Stobbs (Foto: The Dagga Couple/Facebook)

Julian Stobbs, van die sogenaamde ‘Dagga-paartjie’, is Vrydagoggend tydens ʼn gewapende roof op ʼn kleinhoewe naby Lanseria in Gauteng doodgeskiet.

Volgens die Facebook-blad, The Dagga Couple, het aanvallers Julian en sy vrou Myrtle Clarke se slaapkamer betree en hy is doodgeskiet. Myrtle het nie enige fisiese beserings opgedoen nie. Die aanvallers het twee selfone en twee skootrekenaars gebuit.

“Die Cannabis-gemeenskap betreur die afsterwe van ons held. Die familie versoek dat die publiek hul privaatheid sal respekteer en Myrtle en die familie ruimte sal gun in hierdie moeilike tyd,” lui die boodskap. “Dankie vir al die liefde wat ons reeds ontvang het.”

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê die voorval het Vrydagoggend omstreeks 02:30 plaasgevind. Volgens hom is dit nog nie bevestig of die aanvallers moontlik eers items gesteel het voor hulle teruggekeer het om Stobbs te skiet, en of hulle Stobbs dadelik doodgeskiet het nie. “ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur na die verdagtes.”

Stobbs en Clarke het opslae gemaak toe hulle in 2010 vir die besit van dagga in hegtenis geneem is. Die egpaar het vyf jaar lank in die hof baklei om dagga te wettig. Hulle bedryf ook ʼn privaat lidmaatskapklub en musiekvenue op hul perseel. Hulle het ook by ander aktiviste aangesluit in die Fields of Green for All-beweging.

Maroela Media wag vir terugvoer van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johanf ·

Tragies, my simpatie aan sy vrou, familie en naarbestaandes……

Cleopatra69 ·

En die regering se steeds daar is nie plaasmoorde nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.