‘Daling’ in padsterftes ‘gʼn oorwinning’

(Foto: Departement van vervoer/X)

Hoewel daar ʼn effense afname in die getal padsterftes oor die feestyd was, is dit ʼn skrale troos vir die naasbestaandes van die 1 427 mense wat steeds op die land se paaie dood is.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het Dinsdag in reaksie op die jongste statistieke gesê hoewel hy die afname van 25 padsterftes vergeleke die 2022-’23-tydperk verwelkom, baie meer gedoen moet word om padveiligheid in Suid-Afrika te bevorder.

“Ons gee erkenning aan die pogings van wetstoepassers om padveiligheid te verbeter, maar hierdie syfer [1 427] is steeds te hoog. Ons moet daarteen waak om die afname as ’n oorwinning te beskou,” het die AA gesê.

“Ons herhaal ons siening dat verhoogde wetstoepassing oor ’n tydperk van vier weke nie tot verbeterde padveiligheid gaan lei wanneer wetstoepassing oor die ander 48 weke van die jaar swak is nie.”

In kommentaar op die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, se opmerkings dat menslike faktore – oftewel bestuurdersgedrag – vir 80% van padsterftes oor die feestyd verantwoordelik was, het die AA gesê daar moet in ag geneem word dat bestuurdersgedrag slegs met verloop van tyd sal verander. En vir dít om te gebeur is meer en beter polisiëring op paaie nodig.

Daarbenewens moet meer bewusmakingsveldtogte regdeur die jaar gedoen word.

“Dringende ingryping is nodig om padveiligheid meer doeltreffend te bevorder. Sonder sodanige ingryping sal die verskriklike padsterftegetalle wat jaarliks ​​deur die departement van vervoer aangemeld word, eenvoudig nie sinvol afneem nie.

“Die haglike padveiligheidsituasie in Suid-Afrika is ’n nasionale krisis en kos die ekonomie jaarliks ​​sowat R200 miljard, aldus die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC). Die verbetering van padveiligheid sal alle Suid-Afrikaners bevoordeel en is owerhede se plig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Laurika ·

Ek woon in KZN, en was JHB toe oor Kersfees. Ek was verstom en geskok om te sien hoeveel mense toelaat dat hul kinders op die agter sitplek regop staan. Ja hulle is opgewonde hulle gaan see toe, maar goeie genade, kan jy nie vir jouself DINK wat met daai kind gaan gebeur as iemand voor jou inswaai nie? Verder was daar voertuie wat oor soliede wit strepe op die onveiligste plekke motors verbysteek, en ander voertuie wat sommer die noodbaan gebruik as ‘n additionele baan. Ek het verwag om baie verkeersbeamptes te sien, maar hulle was bitter min en skaars.

Johan ·

Sou die mynwese in een jaar 1 427 sterftes aankondig, sou die agbare minister dadelik ‘n kommissie van ondersoek instel, die betrokke myne onmiddelik gesluit word en die bestuur voor die hof gedaag word. Om nie eers te praat van die duisende wat sou opruk, betoog, brand en amok maak nie! Maar die regering laat toe dat pad infrastruktuur verval en slaggate word nie meer herstel nie.
Met die goeie reëns die afgelope drie jaar is dit verstommend om te sien hoe mense sonder hoofligte in die reënsproei voortjaag en nie die gevolge van hul optrede besef nie.
Weet maar, ons gaan elke jaar hierdie tendens sien, hoor my lied…….

George ·

@laurika, jy wil nie in Pretoria sien nie, mense ry met babas, ja babas voor op hul skoot.

electricmango ·

Kyk maar net na die huise wat gekoop word deur die verkeers beamptes na die kers seisoen. Sandton, Waterkloof, Woodhill word bewoon deur verkeers beamptes. Ek skat n goeie verkeers beampte maak R200 000 lag lag in omkoop geld net in Desember. Die land van melk en heuning inderdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.