Damme vol, sluise in Namibië oopgemaak

Die Hardap-dam in Namibie op 12 Januarie 2021. (Foto: Dawie de Klerk)

Die sluise van die Hardap-dam, Namibië se tweede grootste binnelandse waterreservoir, is Dinsdag oopgemaak nadat die damvlak tot meer as 70% gestyg het.

Namibië beleef tans die grootste oorstromings sedert die negentigs en swaar reën val sedert einde verlede maand landwyd.

Die Hardap-dam het ʼn kapasiteit van byna 294,6 miljoen kubieke meter en is tans 71,6% vol. The Namibian berig die sluise is oopgemaak om water as voorkomingsmaatreël te laat uitvloei.

Die dam voorsien water aan die Hardap-besproeiingskema, een van die land se grootste besproeiingskemas.

“In November 2019 was die dam basies leeg en ʼn groot waterkrisis het Mariental asook die hele Hardap-skema in die gesig gestaar. Die sluise is die vorige kere in Maart en April eers oopgemaak; so hierdie is baie vroeg,” vertel Stefan Saayman, ʼn Namibiër, aan Maroela Media.

“Ons reënseisoen in die suide het eintlik nog nie eens amptelik begin nie en nou het die Here dit so bepaal dat die dam 70% vol is op 12 Januarie 2021 – ʼn nuwe rekord wat moeilik verbeter sal word.”

In die suide van Namibië het plekke soos Ai-Ais, Alexanderbaai, Oranjemund en Sendelingsdrif ook oorspoel. Groot skade is plek-plek aangerig en volgens The Namibian is die gewilde toeristebestemming, die Ai-Ais-warmwaterbron en spa, vir drie maande gesluit om herstelwerk te doen.

Namibia Wildlife Resorts (NWR) het Dinsdag gesê die swaar reën het blitsvloede in die riviere langs die oord veroorsaak wat hewige skade aan die oord en kampterrein tot gevolg gehad het.

“Hoewel die oord groot skade gely het, is ek dankbaar dat ons klante wat gekamp het, die aand suksesvol ontruim en na veiligheid gebring is,” het Robert Mailume, oordbestuurder, gesê.

Ai-Ais is geleë in die //Kharasstreek op die basis van die Groot Karasberge sowat 128 km suidwes van Keetmanshoop. Dit is ook geleë in die Ai-Ais Richtersveld Transfrontier Park naby die Visrivier-canyon.

Groot volumes water het oor die afgelope 24 uur ook na drie ander damme gestroom.

Die sluise van die Hardap-dam is Dinsdag oopgetrek. (Foto: Dawie de Klerk)

Die Omatako-dam, een van die damme wat water voorsien aan sentrale gedeeltes van die land, het 3,5 miljoen kubieke meter water opgegaar. Dit terwyl die Neckartal-dam naby Keetmanshoop sowat 3,2 miljoen kubieke meter opgegaar het.

Die Von Bach-dam is 79,5% vol en het invloei van 1,6 miljoen kubieke meter gehad. Namibia Water Corporation (NamWater) het aangedui dat die oordrag van water van die Omatako-dam na die Von Bach-dam Dinsdagmiddag gestaak is.

Hoewel daar kommer bestaan oor sommige dorpe wat weer kan oorstroom, is inwoners in dorpe soos Mariental gereed om te ontruim. Dié dorp, wat in 2000 oorstroom het, het in 2006 weer gedeeltelik oorstroom toe die Hardap-dam oorgeloop het.

“’n Paar jaar gelede het die dam ook vol geraak, meer as 70%, en toe hulle die sluise ooptrek het die hele dorp van Mariental oorstroom. Dit bly ʼn sensitiewe saak en sedertdien word die sluise oopgemaak op 70% om ʼn herhaling van die katastrofe te voorkom,” verduidelik Ina van Tonder van die Namibiese radiostasie Kanaal 7.

“Die Dabibrivier loop parallel met die Visrivier en kom dan teen ʼn 90°-hoek by die Vis in. Dit is dan altyd waar die probleme kom, want die Dabibrivier stoot op en oorspoel ʼn deel van die dorp wat nie probleme sou gehad het nie.

“Gelukkig loop die Dabibrivier nie op die oomblik nie, so dit is redelik veilig om die sluise nou so bietjie oop te trek. Die meeste mense in Mariental, wes van die treinspoor, is op gereedheidsgrondslag om vinnig te ontruim,” sê Van Tonder.

Volgens Saayman reën dit sedert 28 Desember nog elke dag sonder uitsondering in sy tuisdorp van Windhoek.

“Die voorspelling dui aan dat dit nog gaan aanhou tot eerskomende Sondag. Dit klink vir my of dit nog taamlik wyd reën, op sommige plekke meer en ander minder. Die verre suide en suidweste het blykbaar opgeklaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam Adriaan ·

In 1978 was daar net sulke swaar reen in veral Grootfontein distrik. Die boere het eers teen Novenber daardie jaar die beeste wat vasgekeer was op eilande tussen die omarambas by die huis gekry. Daar is met buiteboord opblaaa bote oor lyndrade gery om na vee te soek. By die swembad kafee9Grootfontein) was daar een enorme donga gespoel..

Johan ·

Kan iemand vertel wat aangaan in my geboortedorp,Gobabis,of word daar nie juis oor die Kalahari berig nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.