Deelnemer sterf tydens Kaapse fietstoer

(Foto: Facebook / City of Cape Town)

ʼn Deelnemer aan vanjaar se gewilde Kaapstad-fietstoer is Sondag tydens dié wedren dood.

Die organiseerders het Maandag hul medelye met die familie en vriende van die oorledene betuig en gesê die omstandighede rakende die voorval word tans nog ondersoek.

Die persoon se naam en ouderdom is nie bekend nie.

Verder moes ongeveer 220 deelnemers mediese behandeling op hul roete en by die eindstreep ontvang.

“Uit dié sowat 220 gevalle is 72 mense deur beamptes van nood- mediese voertuie op die roete behandel. Altesaam 19 mense is na hospitale vir verdere behandeling verwys,” het Nicole Felix, mediaskakelbeampte van die fietstoer, by navraag gesê.

“Die meeste beserings was sagteweefselbeserings weens valle, en het meestal op die knieë, elmboë, skouers en gewrigte voorgekom.”

Maroela Media het vroeër berig dat meer as 28 000 deelnemers Sondag met hul fietse deur die Moederstad geblits het. Sowat 25 000 mense het vir die 109 km-roete ingeskryf en ongeveer 3 000 vir die 42 km-roete.

Suid-Afrika se Chris Jooste was die eerste elite-renjaer oor die wenstreep in die mansafdeling toe hy die afstand (109 km) in ʼn tyd van 2:34:14 voltooi het. Oudergewoonte was Kim le Court de Billot die wenner van die elite-vrouekategorie toe sy die 79 km in 2:13:20 kafgetrap het.

Kaapstad se burgemeester, Geordin-Hill Lewis, was een van die deelnemers wat die 42 km-roete voltooi het.

“Tot by die eindstreep gemaak. Dit was ʼn lekker dag en ek het die motivering langs die pad waardeer,” het hy Sondag op sy Facebook-blad geskryf.

“Wanneer jy my sien stap het, was ek eintlik net besig om met inwoners te gesels, oukei,” het hy geskerts.

Dit was die 45ste keer dat die gewilde fietswedren aangebied is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adri ·

Ek veronderstel hulle sal sy mediese rekords en geskiedenis nagaan …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.