Dele van Oos-Rand dae lank sonder krag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Woongebiede in Benoni aan die Oos-Rand is al vier dae lank sonder krag en sal dalk vir die volgende paar dae steeds wisselvallige kragvoorsiening hê terwyl die Ekurhuleni-metro spook om die probleem op te klaar.

Die jongste kragonderbreking is egter een van vele wat glo weens die verouderde kraginfrastruktuur veroorsaak word.

Intussen moet inwoners honderde rand per dag opdok om self krag op te wek, of die risiko loop om die inhoud van hulle vrieskaste te verloor.

Dele van Northmead, Rynfield en omliggende gebiede is sedert Donderdagoggend sonder krag. Ander dele in dieselfde woongebiede is sedert Sondagaand ook sonder krag gelaat nadat hulle kraglyne nie die bykomende las kon dra nie.

Lornette Joseph, ʼn DA-raadslid in die gebied, sê die dae lange kragonderbreking spruit uit ʼn 132 kV‑ olie‑gevulde kabel wat in die vroeë oggendure onklaar geraak het.

“Daar was ʼn lekkasie op die lyn wat die olievlak kritiek gelaat het en die onklaarraking veroorsaak het. Die lekkasie moet geïsoleer en herstel word voordat die olie teen ʼn sekere druk teruggepomp word.”

Volgens Joseph het spanne van die metro se departement van energie kort ná die onklaarraking besluit om van die geraakte inwoners op ander kraglyne in Farrarmere en Rynfield te plaas.

Hoewel die meeste van die gebiede toe teen Sondagaand krag gehad het, is inwoners oomblikke later weer in duisternis gedompel. Diegene wat nie sonder krag gesit het nie, is toe ook sonder krag gelaat.

“Die aanvanklike onklaarraking het ʼn soort kettingreaksie veroorsaak. Nou is daar verskeie kragfoute in Benoni wat duisende inwoners sonder krag laat,” sê sy.

Joseph gee toe dat die hele gebied se infrastruktuur erg verouderd is en skynbaar nie doeltreffend onderhou is nie.

“Dit is die metro se verantwoordelikheid om die betrokke kraginfrastruktuur te onderhou; ek wil dus weet hoe ons tot op hierdie punt gekom het,” sê sy.

“Hierdie fout moes nooit gebeur het nie, aangesien die stelsel twee alarms het wat waarsku teen die olievlakke wat daal. Een alarm moes afgegaan het om te sê dat die olievlakke laag is en nog een om te waarsku dat dit kritieke vlakke bereik het. Nie een van die alarms het afgegaan nie.”

Die metro het ten tyde van publikasie nie op hierdie bewerings gereageer nie.

Joseph sê die metro se spanne beplan om Dinsdag die olie in die kragkabel terug te pomp. Hierdie proses kan egter tot 12 ure neem om afgehandel te word.

Intussen is die kragvoorsiening uiters onstabiel.

“Inwoners word aangemoedig om nie al hulle toestelle op een slag te gebruik wanneer die krag aangaan nie, want dit kan die stelsel oorlaai en tot verdere onklaarrakings lei.”

Lassie Vogel van Rynfield moes reeds al haar vleis in haar vrieskaste weggooi weens die 100 uur lange kragonderbreking. Dit terwyl ander mense nou spook om kragopwekkers in die hande te kry.

“Diegene wat omsetterbatterye het, kan dit lank reeds nie meer gebruik nie en sommige woonkomplekse moet nou ten duurste bykomende veiligheidswagte reël, aangesien die hekke en elektrieseomheining nie werk nie,” sê sy.

Dit gebeur glo gereeld dat inwoners vir twee dae sonder krag moet klaar kom. Maar dit is die eerste keer wat die krag so lank af is.

“Ons almal is al dik die duiwel in vir die hele situasie,” sê Vogel.

Watertoevoer ook geraak

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die kragsituasie in Benoni het oudergewoonte ook ʼn impak op die dorp se watertoevoer gehad.

Volgens Joseph het die Northmead‑watertoring ophou water pomp toe die 132 kV‑ olie‑gevulde kabel onklaar geraak het.

“Sommige gebiede was vir ʼn tyd lank sonder water, maar teen Saterdag kon die departement daarin slaag om die betrokke watertoring op ʼn ander kraglyn te kry. Hierdie toring verskaf weer water en tot my kennis het almal in Benoni weer toegang tot water.”

Daar is wel een woongebied, wat grotendeels uit tehuise bestaan, wat steeds nie water het nie. Dié tekort word egter nie toegeskryf aan die kragsituasie nie, maar word eerder voor Rand Water se deur gelê.

Joseph sê van die reservoirs in Benoni se vlakke het Vrydag erg gedaal nadat Rand Water versuim het om genoegsame water na die reservoirs te pomp. Die vlakke het tot onder 20% gedaal wat veroorsaak het dat die metro nie die water na die betrokke watertorings kon pomp en aan inwoners verskaf nie.

Hoewel watertoevoer intussen herstel is, het ʼn klein deel van Rynfield en Rynpark – wat almal tehuise is – egter steeds nie water nie.

Dit is onbekend wat die wateronderbreking veroorsaak, maar tegnici is glo op die toneel om die fout op te spoor. Intussen het Joseph gereël dat watertenkwaens twee keer per dag na die gebiede ontplooi word. ʼn Aangewese tenkwa gaan laai ook direk by die tehuise water af.

“Ons besef die situasie is nie ideaal nie, maar inwoners kan daarvan verseker wees dat die metro onverpoos werk om die probleem reg te stel,” sê sy.

Joseph het inwoners van Benoni aangemoedig om uit te vind wie hulle wyksraadslid is en by die betrokke raadslid se WhatsApp‑groep aan te sluit om verdere kommunikasie oor die stand van sake te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.