Dele van Pta-Oos donker ná brand

Argieffoto (Foto: Mujahid Safodien/AFP)ag argief

Sommige woongebiede aan die ooste van Pretoria is Woensdagmiddag skielik sonder krag gelaat nadat daar ʼn ontploffing by die Njala-substasie was.

Weens die las wat dié kragonderbreking op die netwerk veroorsaak, moet nog gebiede se krag afgeskakel word. Sou dit nie gedoen word nie, kan groter dele van Pretoria-Oos sonder krag sit.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê ʼn 132 kV-isoleerder op die Njala Watloo-lyn 2 het die middag aan die brand geraak en die kragtoevoer na verskeie woongebiede onderbreek.

Dele van Wapadrand, Lombardy, Faerie Glen, Silver Lakes, Koedoeberg en Mooikloof sit gevolglik nou sonder krag.

“Weens die las op die netwerk sal nog gebiede se krag afgeskakel moet word om die risiko te verminder om al die kragtoevoer na die ooste van Pretoria te verloor,” sê Mashigo.

“Die kragonderbreking van hierdie gebiede sal egter volgens die gewone beurtkragskedule plaasvind.”

Dele van Montana sou dus van 16:00 tot 18:00 nie krag gehad het nie, terwyl Watloo weer van 22:00 tot 00:00 nie krag sal hê nie.

“Die herstelwerk is tans aan die gang en na raming sal die kragtoevoer na die gebiede teen 00:00 herstel word.”

Dit is in hierdie stadium onduidelik wat die brand veroorsaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Dalk weer sabotasie! Die land gaan gebuk onder “terroriste” wat alles wil vernietig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.