Departement gekap oor R10,7 miljoen vir drie Vrouedaggeleenthede

Argieffoto van die Vrouedag-funksie in Petrusburg. Dié funksie alleen het die departement meer as R3 miljoen gekos. (Foto: X)

Die Vrystaatse departement van onderwys het in Augustus verlede jaar meer as R10 miljoen aan drie geleenthede ter viering van Vrouedag bestee.

Die Vrystaatse LUR vir onderwys, Makalo Mohale, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA onthul dat sy departement ʼn totaal van R10 769 242,89 aan drie geleenthede in onderskeidelik Petrusburg, Heilbron en Bultfontein bestee het.

Die eerste geleentheid is op 19 Augustus in Petrusburg aangebied en het die departement presies R3 283 340,44 gekos. Sowat 1 300 mense het dié geleentheid by die Ipetleng Secondary School bygewoon.

ʼn Tweede geleentheid vir sowat 1 700 mense by die Phirihadi Primary School in Heilbron op 25 Augustus het die departement ʼn paar honderd duisend rand meer (R3 740 673,95) gekos.

Nog R3 745 228,50 is eindelik bestee aan ʼn geleentheid vir sowat 1 700 mense by die Ntuthuzelo Primary School in Bultfontein op 31 Augustus.

Só lyk die departement se besteding:

PetrusburgHeilbronBultfonteinTotale koste
Markiestent/ stoele/ dekorR787 370,50R881 070,00R890 460,00R2 558 900,50
GeleentheidsbeplannerR683 000,00R920 300,00R905 659,50R2 508 959,50
Vervoer & spysenieringR940 269,94R916 835,95R908 855,00R2 765 960,89
Higiëne-pakkiesR585 200,00R734 968,00R752 754,00R2 072 922,00
Radio-uitsending: Lesedi FMR287 500,00R287 500,00R287 500,00R862 500,00
Totale koste: R3 283 340.44R3 740 673.95R3 745 228.50R10 769 242.89

Volgens Mohale het hierdie drie geleenthede ten doel gehad om Vrouemaand saam met hoërskoolmeisies te vier en hulle te motiveer oor die verskillende loopbaanpaaie wat hulle ná skool kan volg.

Roy Jankielsohn, die DA se premierskandidaat in die Vrystaat, wys egter daarop dat die Vrystaatse departement van onderwys ʼn swak rekord van finansiële bestuur het. “In 2022 het die department R232 666 000 se onreëlmatige uitgawes aangegaan sonder dat dissiplinêre stappe teen verantwoordelike individue geneem is.

“Die geld wat aan geleenthede van hierdie aard bestee word terwyl 62% van ons provinsie sukkel om kos op die tafel te sit, is ʼn bewys dat die ANC-bestuurde regering meer omgee vir persoonlike ego’s as honger kinders.

“Hierdie tipe uitgawes is ʼn verdere bewys dat besuinigingsmaatreëls blote retoriek is aangesien die ANC en sy makkers voortgaan om provinsiale koffers te melk voor die nasionale en provinsiale verkiesing in 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karen ·

Ek kan myself net indink hoeveel kruideniersware met daardie enorme bedrag geld gekoop kon word en derduisende gesinne wat honger gaan slaap, kon voed vir n baie lang tyd.

Martie ·

Alles gaan in hierdie land gaan net om vreet, sorry vir die woord, maar dis die waarheid. Almal is bekommerd oor honger mense, wees liewer bekommerd oor werklose mense. As jy werk hoef jy nie honger te ly nie. Maar luiheid is die bevolking se doodsteek.

Ore ·

Vandag “blink Stefaans” en more soek ons kos. Al wat tel is vandag.

Quilty ·

Ja klomp skelm mense het weer lekker geld gemaak. Daar moet gekyk word na wie het hierdie bedrae gekwoteer.

Anna84 ·

Dit is om die minste te sê, skokkend!! Nie dat ek enigsins verbaas is nie.

Ronel ·

Ag asseblief – hierdie dekselse vrouedag en vrouemaand is so overrated. Small things….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.