Departement moet sê oor ondersoek na uitgelekte vraestelle – AfriForum

(Argieffoto)

AfriForum het Maandag ’n prokureursbrief aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gerig waarin hy ’n vorderingsverslag oor die ondersoek na die twee uitgelekte matriekeindeksamenvraestelle van verlede jaar versoek.

Motshekga het vroeg in Desember aangekondig dat die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskap-vraestel landwyd oorgeskryf moet word nadat dit vroeër uitgelek het.

Net na dié aankondiging het AfriForum en vier matrikulante wat hierdeur geraak is, hulle tot die hof gewend en ’n suksesvolle aansoek in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gebring. Motshekga se besluit – wat behels dat alle matrikulante die uitgelekte vraestelle moet herskryf – is toe tersyde gestel.

Natasha Venter, bestuurder van onderwysregte by AfriForum, sê hoewel die hof teen Motshekga se besluit beslis het, beteken dit nie dat die ondersoek nou net onder die mat ingevee kan word nie. AfriForum eis dat die departement terugvoer gee oor die vordering met die ondersoek nadat meer as twee maande reeds verloop het sedert die vraestelle uitgelek het.

“AfriForum wil verseker dat die integriteit van die 2020-matrieksertifikaat bo verdenking is en die oortreders verantwoordelik gehou word. Ons wil daarom weet waar die ondersoek trek, of daar al enige verdere verdagtes geïdentifiseer is en of die ondersoek afgehandel sal wees voordat Umalusi teen einde Februarie 2021 die matrieksertifikate moet akkrediteer,” sê Venter.

“Die skuldige partye moet aan die pen ry om te verseker dat die integriteit van die matrieksertifikaat bo verdenking is, asook om as voorbeeld te dien sodat hierdie tipe bedrog nie sommer weer sal plaasvind nie.”

AfriForum het ook in die brief aangedui dat hy wéér die howe sal nader indien Umalusi weier om die 2020-matrieksertifikaat te akkrediteer as gevolg van ’n gebrekkige ondersoek om die skuldige partye vas te trek en die omvang van die lekkasie van die vraestelle vas te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eiervrug ·

Hou ons asb op hoogte?, ek is self nuuskierig om te sien of daar iets gaan gebeur… Afriforum for President!!!!!!

Jaco ·

Dis net die moeilike vakke se vraestelle wat uitlek, want dis vakke waar vaste wetenskaplike reëls “keer” dat dit maklik gemaak kan word. Maklike vakke soos lewensoriëntering en toerisme se vraestelle lek nooit uit nie.

Deon ·

Wat het gebeur met die vorige jare se matriek vrae stelle wat uitgelek het, ek kan nie onthou dat daar so bohaai daaroor gemaak is nie, ek kan ook nie onthou of die skuldiges ooit iets oorgekom het nie

Jaco ·

Uitlek, geen uitlek. Wat maak dit tog saak? Standaarde is nou so laag dat selfs al word daar min geleer, amper almal nog steeds slaag. Dan is daar ook die plan om 5% by te voeg by elke uitslag, omdat die 2020 skooljaar baie ontwrig is. Ek het al na die matriek hersieningsprogramme op DSTV gekyk, spesifiek geskiedenis en geografie wat my gunsteling vakke op skool was, maar ook die moeilikste. Ek het gelag oor hoe maklik dit nou is. Geskiedenis is net ‘n deurgaanse slegmakery van die ou SA. Stedelike geografie blameer weer alles wat verkeerd is in ons stede op apartheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.