Departement probeer ‘krake toeverf’ oor pleegsorg

Argieffoto

Een van die sluimerende skandes van die Suid-Afrikaanse staat het vandag uit die skadu’s herverskyn toe die departement van maatskaplike ontwikkeling terugvoer gegee het oor die landwye agterstand met hofbevele oor pleegsorg van kinders.

Boonop word die departement van maatskaplike ontwikkeling, wat tans onder die politieke kapteinskap van minister Lindiwe Zulu staan, met vers en kapittel deur die DA daarvan beskuldig dat hulle die parlement mislei.

Die agterstand met hofbevele vir pleegsorg het ‘n jarelange aanloop, uit die dae toe dr. Zola Skweyiya nog minister van maatskaplike ontwikkeling was. Hy het “al die oumas wat omsien na kinders” gevra om aansoek te doen vir ‘n pleegsorg-bevel, wat die hoeveelheid aansoeke vir pleegsorgtoelaes in ‘n ommesientjie laat toeneem het van 173 000 na meer as 500 000, en die stelsel oorweldig het.

Een van die voordele van ‘n pleegsorg-toelaag bo ‘n familielid-toelaag is dat eersgenoemde ‘n groter toelaag per maand behels. Die pleegsorg-bevel moet egter na ‘n omvattende maatskaplike ondersoek vergesel word deur ‘n verslag van ‘n maatskaplike werker aan die hand waarvan ‘n landdros deurtastende vrae moet stel voordat ‘n bevel vir pleegsorg uitgereik kan word.

Dit gebeur in die praktyk dikwels dat die landdros se vrae verdere ondersoek deur die maatskaplike werker noodsaak, wat verdere druk op die maatskaplike werker plaas. Die gevolg van die toename in die hoeveelheid sake was dat die maatskaplike werkers wat die staat in diens het, heeltemal oorweldig is deur die werklas en daar ‘n groot agterstand met die plasing van kinders in pleegsorg ontstaan het.

Die Sentrum vir Kinderreg aan die Universiteit van Pretoria het dus sedert 2011 verskeie oplossings aan die hand gedoen. Hulle het op 28 November 2017 ‘n hofbevel verkry wat die minister van maatskaplike ontwikkeling verplig om die nodige wetlike veranderinge aan te bring sodat die situasie en die onreg teen kinders reggestel kan word, en toe uiteindelik op 26 November verlede jaar ‘n hofbevel van die Pretoriase hooggeregshof verkry wat die minister (tans Lindiwe Zulu) se departement verplig om elke drie maande ‘n vorderingsverslag aan die hof en die Sentrum vir Kinderreg te verskaf en veranderinge aan die wet teen November vanjaar te finaliseer.

Die sperdatum vir die eerste verslag was 26 Februarie, maar volgens die Sentrum vir Kinderreg en die hof is dit nie gehaal nie. Die Sentrum vir Kinderreg het gevolglik ‘n brief aan die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling (weens hul oorsigtelike rol oor die departement) geskryf om die kwessie onder hul aandag te bring, veral aangesien die jongste beskikbare syfer vir uitstaande hofbevele vir pleegsorg ongeveer 129 000 is.

Die Sentrum vir Kinderreg het Woensdag in getuienis tydens ‘n virtuele sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling bevestig dat nie hulle of die hooggeregshof die vereiste verslag van die departement ontvang het nie.

Die departement het Donderdag, ten spyte van Woensdag se getuienis, beweer dat hulle wel die vorderingsverslag ingelewer het.

Dit het die DA-LP Bridget Masango laat opmerk dat dit wil voorkom asof die departement besig is om die parlement te probeer mislei, terwyl onvoldoende toesig gehou word oor die geskiktheid van die huise waarin kwesbare kinders in pleegsorg geplaas word.

“Dit is eenvoudig onverdedigbaar vir die departement om te dobbel met die toekoms van diegene wat aan hul sorg toevertrou is. Die departement probeer krake toeverf terwyl hulle die sistemiese strukturele skade ignoreer, wat tot swaarkry vir miljoene kwesbare mense lei,” het Masango gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amatambo ·

Hoogtyd dat ons – die burgers – hierdie gemors – bekend as ‘n sogenaamde REGERING – so spoedig moontlik tot val bring en ‘n nuwe regering aanstel wat die belange van ALLE burgers sal nakom – en voor iemand tot die verkeerde gevolgtrekking kom – daar is goeiemense onder AL die groepe wat sal kwalifiseer om in so ‘n regering te dien – mense soos Herman Mashaba en Patrick Lekota, Pieter Groenewald, ens…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.