Departement van gesondheid sê oor skuld van R240 miljoen

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die Gautengse departement van gesondheid sê hy wil graag duidelikheid gee oor ʼn bedrag van R240 miljoen wat glo aan die Stad Johannesburg verskuldig is. Dié onthulling is Woensdag tydens die munisipaliteit se perskonferensie gemaak.

“Dit is eerstens belangrik om te stel dat die departement se huidige rekening by die munisipaliteit op datum is, soos teen einde Oktober 2022,” sê Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement.

Volgens Modiba hou die R240 miljoen-skuld verband met ʼn geskiedkundige dispuut oor die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal en Sizwe-hospitaal vir tropiese siektes oor water- en sanitasierekeninge en ʼn gedeelde meter. Volgens hom is die heruitreiking van die faktuur die munisipaliteit se eie skuld. “Die munisipaliteit het ʼn gewysigde faktuur aangestuur waar water tot drie jaar terugdateer is en sanitasie sewe jaar. Dit is ʼn swaar las op die hospitaal se begroting.”

Modiba sê daar is ook ʼn probleem tussen die hospitaal en Wits, omdat die twee afsonderlike instansies ʼn watermeter deel. “Dit lei gereeld tot dispute. Die munisipaliteit moet dit regstel.”

Wat betref Sizwe-hospitaal sê Modiba daar is ʼn dispuut oor ʼn bedrag van R60 miljoen wat verband hou met ʼn meterlesing en waterlekkasies. “Gesprekke duur voort tussen die bestuur van die hospitaal, die munisipaliteit en Johannesburg Water.”

ʼn Vergadering is belê vir Maandag tussen die departement en belanghebbendes om ʼn betalingsooreenkoms op te stel.

“Die departement verwerp die idee dat hy van die munisipaliteit gebruik maak. Die gesondheidsorgfasiliteite verskaf noodsaaklike dienste, en dit kan dus nie verder van die waarheid verwyder wees nie. Die departement bly daartoe verbind om sy skuld te betaal sodra dispute opgelos is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Vinnig om te leen of fasiliteite te gebruik maar as dit by terubetaling kom is daar altyd ‘n storie.

Ronél ·

Wat ookal die “verduideliking”…………..wie anders as hulself sal dit glo?

Anel ·

En hulle wil die Nasionale gesongheidsorg op ons afdwing!!!! Behoede ons!!!!

Kokerboom ·

ANC bly ASB weg van enigiets wat soos syfers lyk of met somme te make het!!!

mattk ·

Ai, die verskonings waarmee hierdie kaders na vore kom verbaas my nie eers meer nie. Toe ek die stuk begin lees het ek dadelik gedink dat apartheid weer die skuld gaan kry, maar wonder bo wonder is dit toe die munisipaliteit (hul eie kaders) se skuld.

JohanR ·

Betaal niemand meer hulle skuld in SA, behalwe vir die armsalige individu belastingbetaler?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.