Departement verkwis meer as miljard midde droogtekrisis

Argieffoto: Pixabay

Die jongste verslag van die ouditeur-generaal (OG) toon die departement van water en sanitasie het sowat R1,7 miljard verloor weens onreëlmatige en verkwistende uitgawes aan belangrike waterinfrastruktuurprojekte.

Luidens die verslag is R8,3 miljoen van die R189 miljoen wat begroot is om die Clanwilliamdam in die Wes-Kaap se wal te lig, verkwis. In KwaZulu-Natal is R498 miljoen opsy gesit om die Hazelmeredam se wal te lig. R3 miljoen hiervan is in die proses verkwis.

’n Astronomiese R3,3 miljard is ook begroot vir die Giyani-waterprojek in Limpopo. Luidens die verslag is R226 miljoen hiervan onreëlmatig bestee en R47 miljoen verkwis.

Kimi Makwetu, Suid-Afrika se ouditeur-generaal, het Woensdag dié syfers bekend gemaak.

Volgens Makwetu gaan die geld verlore omdat die korrekte verkrygingsprosesse nie gevolg is nie. Die departement het ook nie die standaard vir infrastruktuurverkryging en leweringsbestuur geïmplementeer nie, wat die departement aan onnodige hoë projekkoste blootgestel het.

Verder kom dit bloot op ’n gebrek aan behoorlike projekbestuur neer, het die ouditeur-generaal verduidelik.

Leon Basson, die DA se skaduminister vir water, het in reaksie hierop gesê die regering se “chroniese onvermoë” om waterinfrastruktuurprojekte met groot begrotings te bestuur dra ongetwyfeld by tot die voortslepende droogte- en waterkrisis wat die land tans beleef.

“Daar bestaan geen twyfel nie dat die departement die nasionale waterkrisis vererger deur die herhaaldelike misbruik van openbare fondse, wat in totaal R1,7 miljard beloop.”

Basson verduidelik dat dié fondse eerder aan droogtehulp bestee moes word om voedselsekerheid, werksgeleenthede en die beskerming van landelike gebiede te verseker.

Die DA gaan nou ’n skrywe aan Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, rig waarin die party haar versoek om aan die publiek die stappe te verduidelik wat haar departement gaan doen om die ouditeur-generaal se aanbevelings te implementeer.

Lees meer hier wat Basson en ander kenners oor die ineenstorting van die land se waterinfrastruktuur te sê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Isabella ·

Wel dit is seker weer gebruik vir new kar house en salaris te vergroot waar anders gaan die geld heen ek glo ni dit is gebruik om iets te probeer doen ni

marous ·

“Verkwis” is nes soos “staatskaping ” sagte woordjies wat deur die heersers van die land uitgedink is as dekmantel vir blatante diefstal .

Feite ·

Opposisiepartye is absoluut pateties. Julle strukture is veronderstel om spandering van alle staatsfondse te monitor sodat verkwisting en korrupsie betyds opgetel kan word en verhoed kan word. Julle rig absoluut niks uit om bloot te reageer wanneer die onherstelbare skade klaar aangerig is nie. Opposisiepartye beweeg op ongelooflike dun ys en gaan hulle strukture baie vinnig in plek moet kry om verdere skade deur die ANC aangestelde kaders te verhoed. Die kiesers gaan julle by die stembus hard straf, julle is gewaarsku!

Lou ·

@ Feite ek stem saam met jou. Die oposisie partye het baie te sê nadat die skandes oopgevlek is maar daar word bittermin gedoen behalwe om te praat. Na my mening is hulle net so skuldig as die regerings kaders want ons belasting geld betaal ook vir die oposisie partye se salarisse.

Joubert ·

Die politieke stelsel werk nie. SA is ‘n duidelike bewys daarvan. Politici is meestal daar vir persoonlike gewin. Dit sluit ongelukkig die opposisiepartye in. Ons is in hierdie situasie in Suid Afrika vandag agv politiek.

Sven ·

Opposisie LPs leef in ‘n borrel en “voel” nie die pyn van die bevolking nie. Hulle strategië is verouderd en nuwe planne moet gemaak word om die regeerdes tot orde te roep. Om debatte te voer in die parlement is nutteloos. Dit gaan nie kiesers lok nie.

Ema ·

Hahahaha dis Midas omgekeerd. Alles wat Midas aan ge raak het het in goud verander. Alles wat die ANC en sy amnskappe aanraak verander in ??

Hannes ·

As bekwames weer aangestel word soos met Denel en Eskom dan is dit ook nie reg nie.

Kobus ·

Prast praat praat wat help dit. Wat doen iulle pm rekenskap te eis? Sisulu het nog net afgebreek orals waar sy gaan maar haar naam beskerm haar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.