Derduisende ingesamel vir borskankerpasiënte se prostese

Van links na regs is Anthea Ogle en Carol Feher van R4R, Conal Everett van Pick ʼn Pay, Stephné Jacobs van R4R, Ross Richardson van SAMFA en Beulah Jankelowitz van R4R. (Foto: Verskaf)

Reach for Recovery (R4R), ʼn organisasie sonder winsbejag wat daarop fokus om bewusmaking oor borskanker onder Suid-Afrikaanse vroue te kweek, se Power of Pink-veldtog het verlede jaar ʼn allemintige R438 912 ingesamel ten bate van die Ditto-projek.

Dié nasionale projek behels die verskaffing van gratis silikoonprostese aan staatshospitaalpasiënte wat ʼn mastektomie ondergaan het.

Van die meer as 6 000 borskankerpasiënte wat elke jaar deur R4R met oproepe voor operasies, bystand met kliniekbesoeke, inligtingsverspreiding en hospitaalsorgpakkette ondersteun word, is sowat 600 pasiënte tussen Januarie en November verlede jaar met ʼn gemaklike prostese toegerus.

“Die prostese word deur kundiges vervaardig en die grootte en kleur van elke pasiënt se prostese word individueel hanteer,” sê Stephné Jacobs, nasionale voorsitter van R4R.

Teen sowat R3 000 per borsvorm kan die meerderheid staatshospitaalpasiënte nie hierdie soort prostese bekostig nie.

Om die prostese te kan verskaf maak R4R jaarliks geheel en al staat op die Power of Pink-veldtog, wat deur die Suid-Afrikaanse Sampioenboerevereniging (SAMFA) en Pick n Pay ondersteun word. Vir elke pienk houertjie met vars sampioene wat in Pick n Pay-winkels landwyd verkoop word, word R1 aan die Ditto-projek geskenk.

“Ons dra met trots by tot die bewusmaking van borskanker en geldelike bystand vir diegene wat aan die siekte ly. Met die ondersteuning van ons klante wat die pienk sampioenhouertjies aankoop, kan ons ʼn wesenlike verskil in borskankerlyers se lewens maak,” sê Jacqui Peacock, kommersiële bestuurder van varsprodukte by Pick n Pay.

Pick n Pay is reeds sedert 2011 deel van die projek. “Deel van die projek se sukses word daaraan toegeskryf dat klante sampioene geniet vir die smaak sowel as gesondheidsvoordele.

Volgens Ross Richardson, voorsitter van SAMFA, is dit ʼn voorreg om deel te wees van die opheffing van borskankerlyers.

“Ons navorsing toon dat jy jou eie gesondheid ʼn hupstoot kan gee deur vars sampioene, groente en vrugte te eet, en dit kan jou inderdaad gelukkiger laat. Dit motiveer ons om voort te gaan om R4R se Ditto-projek te ondersteun.”

Beatrice Mopp, ʼn 80-jarige afgetrede onderwyseres van die Oos-Kaap, het in November haar prostese ontvang.

Ná twee jaar se strawwe kankerbehandeling is sy op ʼn waglys by ʼn staatshospitaal vir ʼn prostese geplaas. Sy het ʼn jaar lank sonder enige nuus op die prostese gewag, totdat ʼn familievriend haar in kontak met R4R geplaas het.

“Woorde is nie genoeg wanneer ek probeer uitdruk hoe ek gevoel het toe ek my prostese ontvang het nie,” sê Mopp.

“Om te sê ek het weer soos ʼn jong vrou gevoel is om dit ligtelik te stel. Dit verskaf my soveel vreugde om my kleinkinders te kan drukkies gee sonder dat hulle huiwerig is. Eerlikwaar, my selfvertroue en waardigheid as vrou is herstel deur die prostese.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.