Deregulasie van brandstofprys is ingewikkeld

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

Op kort duur kan die skrap van belastingheffings die brandstofprys verminder, maar die regering sal die verlies aan inkomste net weer op ʼn ander wyse moet invorder.

“Die vraag is dus of verbruikers gelukkiger is met dié soort belasting, of eerder nog ʼn verhoging in die BTW-koers of ʼn toename in persoonlike inkomstebelasting verkies,” het Collins Khumalo, die uitvoerende hoof van die Outomobiel Assosiasie (AA) gesê.

Hy was een van die sprekers tydens ʼn geleentheid waar ʼn paneel die deregulering van die plaaslike brandstofprys bespreek het. Die bespreking is deur die AA en die Wits-sakeskool in Johannesburg aangebied.

Die jongste prysverhoging in Julie het die brandstofprys vir 95-oktaan-petrol tot meer as R16,00 per liter laat styg.

Die styging het talle verbruikers warm om die kraag gehad, veral nadat dit aan die lig gekom het dat belastingheffings in die afgelope twee jaar met ʼn stewige 22% gestyg het.

Verder het die Sunday Times vroeër berig dat die tegnies insolvente Padongelukkefonds (POF), ʼn begunstigde van die belastingheffings op brandstof, ʼn huurkontrak vir meubels aangegaan het waarvolgens 300 stoele teen ʼn koste van R500 000 per maand verskaf word.

Die heffing in Julie se brandstofprys was die vierde toename in 2018 nadat die prys in Januarie, Februarie en Maart gedaal het. Die AA meen die vooruitsigte vir ʼn klein afname in die dieselprys is moontlik in Augustus, terwyl petrol na verwagting met omtrent 2c per liter en paraffien met 4c per liter sal styg. Tog het die assosiasie gesê die brandstofpryse bly onder druk om verdere rekordhoogtes in 2018 te bereik.

Khumalo het gesê die petrolprys is ʼn simptoom van ʼn swak ekonomie. “Die verhogings moet binne ʼn breër oorsig van Suid-Afrika se ekonomiese klimaat hanteer word.

“Padgebruikers en verbruikers voel die druk van die verhogings. Baie huishoudings moet op ander uitgawes besnoei om private of openbare reiskoste te finansier en verbruikers van paraffien word die swaarste in dié geval getref.

“Verskeie opsies om die brandstofprys te verminder is al voorgestel, maar die werklikheid is ongelukkig dat die samestelling van die brandstofprys ingewikkeld is en ʼn enkele oplossing kan nie noodwendig die probleem oplos nie,” het Khumalo gesê.

Indien ʼn plan gemaak word met die indirekte belasting op brandstof, soos die algemene brandstofheffing van R3,37 per liter en die heffing van R1,93 vir die POF, kan dit die druk op verbruikers verlig, maar dit sal dan weer op ʼn ander manier verhaal moet word.

Khumalo het ook gevra dat die gemeenskap moet saamwerk om ʼn praktiese oplossing te vind vir ʼn probleem wat eintlik veel dieper as net die brandstofprys is.

“Deregulering op sigself sal nie die hele brandstofprysstruktuur regstel nie en beslis ook nie onmiddellik geld in die sak van die verbruiker terugplaas nie.

“Dit is ʼn langtermynkwessie wat deur die burgerlike samelewing en die regering bespreek moet word. Deregulering kan ʼn gedeelte van die soeke na ʼn oplossing wees en die AA wil graag deel wees hiervan,” het Khumalo gesê.

Hy reken die kwessie van deregulering het talle voor- en nadele, elk met sy eie unieke verwikkelde kwessies.

“Regulering bied byvoorbeeld deursigtigheid aan padgebruikers deurdat die prys maandeliks bekendgemaak word, en al die komponente wat die brandstofprys uitmaak, is daar vir almal om te sien. Daar is bestaande infrastruktuur om die prys te verfyn en, in groot mate, skommelinge in internasionale produkpryse – en die wisselkoers van die rand tot Amerikaanse dollar word boonop oor ’n tydperk verwerk.”

Tog meen Khumalo in ’n dereguleerde omgewing kan brandstofpryse afneem namate groot- en kleinhandelaars hul eie pryse bepaal om mee te ding om kliëntesteun.

“Die nadeel van deregulering is egter dat vulstasies in afgeleë gebiede daaronder kan ly weens hul afstand van toevoerpunte. Kleinhandelaars wat selfdiensopsies aan verbruikers wil bied, moet dalk pompjoggies aflê wat natuurlik sal bydra tot die werkloosheidsyfer in die land,” het hy gesê.

Khumalo het gesê burgerlike optrede teen stygende brandstofpryse, in die vorm van padblokkades en brandstofboikotte, bring nie noodwendig die gewenste resultate aan diegene wat protesteer nie. Hy het bygevoeg die AA weet mense is kwaad, maar oplossings is nou nodig, nie protes wat die ekonomie verder kan benadeel nie.

“Dit is belangrik om te verstaan ​​dat stygende brandstofpryse nie ’n petrolprobleem is nie. Dit is ’n ekonomiese kwessie. Wat ons almal moet besef en begryp, as nasie, is ​​hoe die regering die geld uit die heffings op brandstof bestee, en hoe enige vermorsing in uitgawes verminder kan word. Op hierdie manier sal die aansienlike onus op verbruikers op die lange duur verlig word.”

Nog ’n belangrike kwessie wat tydens die bespreking aangeraak is, was die struktuur van die regering en staatsbeheerde ondernemings wat, volgens Khumalo, doeltreffender bestuur moet word.

“Daar is ’n geweldige behoefte aan die behoorlike toewysing van hulpbronne – en die bestuur van daardie hulpbronne – van die regering en tot by staatsbeheerde ondernemings. As hierdie hulpbronne beter bestuur word, sal die uitwerking van wat ons nou beleef, verminder word,” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Judge Dredd ·

Met ander woorde hul wil maar net nie he ons moet sien waarvoor al die brandstopbelasting eintlike voor gebruik was – beslis nie waarvoor dit bedoel was.

Ekke ·

Jaaaaaa, en?! Praat, praat, praat en dan dink hulle die saak is nou opgelos. Steeds geen werkbare oplossing nie.

Rudy Maritz ·

Ek dink die heffings op brandstof moet bly waar dit is. Dis die enigste vorm van belasting wat nie net deur die “elite” betaal word nie, maar deur alle SA burgers asook diegene wat onwettig die land inkom. Al gebruik mense nie self brandstof nie, word dit in vervoerkoste, mieliepap pryse, koring ens ens ingereken. As alles oorgaan na Persoonlike belasting is dit weer net 8% van die land wat die res subsidieer.

Jannie ·

dit sal nie help om elke keer as regering geld soek heffeing toe pas nie dat ons burgers dit moet betaal nie,dis hoekom ons rand in sy m%&r is,kyk wat het gebeur in ZIM…..jy ry n krywa vol geld kafee toe om n brood te koop…ons regering moet n plan maak om meer waarde in ons land te skep dat ander lande iets by ons wil koop,dis hoe jy geld maak vir jou land,soos die staal bedry wat ons destyds uitgevoer het,nou koop ons van china af,geld wat uit die land gaan.Jy kan alleenlik jou land en dorp bou as jy geld in jou land en dorp gebruik.As daar geld kort in die staats koffers moet die burgers opdok,dis nie hoe dit werk nie.Kry geld vanuit anderlande nie leen nie maar dat ander lande hulle geld in ons land bestee,dis hoe dit moet werk……..

jaco ·

verhoog die petrolprys 1 maal per jaar, dalk op 1 Februarie of 1 Maart, met R1.50 of selfs R2 of wat ook al per liter. HOU DIT DAN DAAR vir presies 1 jaar en verhoog dit dan weer. dit sal almal se lewe deur die loop van daardie jaar, asook vooruitbeplanning vir aanpassings na die volgende verhoging op n datum wat dus algemene kennis is, baie makliker maak.

IK ·

Die spasie tussen my ore sê: ‘Elke land het die regering wat hy verdien’. Niemand doen aan die hand hoe om meer kilometers uit elke liter te haal. Ek het al voorstelle gemaak maar nou-ja.

talk talk ·

maak ddie kabinet kleiner. raak onrslae van al die dooiehout oral in staatsdiens en sela! die land maak wins

JoeV ·

Seker een van die min maniere om belasting by die te kry wat nie belasting betaal nie. As dit wegval, gaan die inkomste drasties val.
Daar moet einlik ‘n manier wees om die hele besigheid van belasting te kan aanwend deur die belasting betaler, dan behoort die gebruik van belasting geld oor nag te verander van vermorsing tot gebruik!

Thinus Erasmus ·

Die enigste ingewikkelde deel van deregulering is; om die monopolie wat brandstof maatskappye in samewerking met die regering het, op te gee en bekend te maak wie ry die SA publiek bloots!

Thinus Erasmus ·

Die belasting en heffings op die brandstof prys is in R en c vasgestel vir lang tydperke, dit is wel hoog en dalk ‘n billike belasting maar dit is nie die rede hoekom die prys so styg nie.

Thinus Erasmus ·

SA voer ru-olie in en vervaardig self die brandstof, die koste van vervaardiging bly ook mos vir min of meer konstant vir ‘n jaar.

Thinus Erasmus ·

En laastens die verspreidings netwerk: net vervoerkoste kan styg – soos die brandstofprys styg, die groothandel en kleinhandel marges word vasgestel.

Thinus Erasmus ·

So R / Dollar bly oor: SA voer nie brandstof in nie, die prys behoort nie maand op maand met wisselkoers te verander nie!
Die prys van brandstof moet soos in die ou dae op die maakkoste daarvan bereken word, dit behoort een maal of twee maal per jaar verander te word. IS DIT SO INGEWIKKELD?

OWO ·

Die laaste paragraaf van die skrywe noem die ”beter bestuur van hulpbronne en staatsbeheerde ondernemings” Dit is al baie jare dat bestuursbeginsels en leierskap in hierdie sfere,gebrekkig is, en in gevalle heeltemal ontbreek, en sodoende gaan groot geld verlore.Die verbruiker trek maar altyd aan die kortste end.Bestuur en leierskap is krities in enige onderneming.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.