DG van gesondheid nou ook tydelik geskors

Dr. Sandile Buthelezi. (Foto: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad)

Die direkteur-generaal van die departement van gesondheid, dr. Sandile Buthelezi, is voorlopig geskors hangende sy verskyning voor ʼn tugkomitee oor sy rol in die Digital Vibes-saga.

Die departement het vroeër vandeesmaand voet by stuk gehou die DG is nie geskors nie en het ook nie bedank nie, nadat hy – nes oudmin. Zweli Mkhize – betrek is by die omstrede toekenning van die kommunikasietender aan Digital Vibes.

Die departement het toe gesê die rede vir Buthelezi se afwesigheid het niks te doen gehad met enige wanoptrede aan sy kant nie. Hy was glo bloot op ʼn paar dae verlof.

Mkhize was aanvanklik ook met spesiale verlof en het later as minister bedank nadat hy glo by die toekenning van die tender gebaat het. Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het destyds gesê Mkhize se bedanking beteken egter nie dat hy nie steeds vervolg kan word nie.

Die eenheid se verslag oor die Digital Vibes-kontrak is reeds vroeg in Julie aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig en maak daarin verdoemende bevindings oor sy ondersoek na die Digital Vibes-kontrak wat die departement teen ʼn koste van R150 miljoen met die maatskappy aangegaan het.

Diegene aan die stuur van Digital Vibes het noue bande met Mkhize.

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal verantwoordelik vir Nasionale Gesondheidsversekering, sal in die posisie waarneem tot die dissiplinêre proses teen Buthelezi afgehandel is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tiptol ·

Nog een wat by die huis gaan sit en geld kry. Dis ook maar korrup.

Dirk Mostert ·

En hierdie korrupte staatsdepartement se covid-statistiek en propaganda word vir soetkoek opgeeet!

Annelize ·

Die laaste een van hulle is kop in een mus, die een so korrup soos die ander. Dit gaan uitsluitlik oor selfverryking, die res is bloot bysaak.

Nie Verbaas ·

So as Mkhize bedank het is hy gevrywaar van vervolging en finansies wat hy by gebaat het nou maar net verlore?

Renee ·

Daar word net vertel van vervolging, tydelik geskors ens maar nie een suksesvolle verhaal van arrestasies of gelde wat teru betaal word nie.

Belinda ·

so maak hulle al hulle maatjies ryk. employ hulle vir n ruk met n moeviese salaris, skors hom en dan kry die volgende weer die beurt. dis heel duidelik almal in daardie poste word nie oordentlik geinterview en kyk of die persoon wel gepas is vir n posisie nie. solank dit n vriend van iemand is kry jy die job. dis darm lekker om in SA te woon ne….

Hasie ·

Die narre het nie grimeering nodig nie….hul is snaaks van nature

Misky ·

Wys my net een van daai ouens wat nie by korrupsie betrokke is nie, net EEN???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.