
Die land se voorste Afrikaanse skole is Vrydag vir hul uitsonderlike prestasies in die matriekeksamen vereer. (Argieffoto: pixabay)
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag die land se voorste Afrikaanse skole vir hul uitsonderlike prestasies in die afgelope matriekeksamen vereer.
Die merietetoekenningsgeleentheid is by die nuwe Sol-Tech-kampus in Pretoria gehou.
Die top-20 Afrikaanse skole se 5 160 kandidate het altesaam 10 956 onderskeidings in verlede jaar se eindeksamen behaal.
Dit is meer as twee onderskeidings per kandidaat.
Die SOS sê die skole se sukses is te danke aan moedertaalonderrig én gebalanseerde kultuuroordrag wat waardes vestig wat leerders lewenslank suksesvol maak.
Die Hoërskool Waterkloof was die topskool wat onderskeidings betref en het verlede jaar net 18 meer matrieks as in 2019 gehad, hoewel die 2020-groep altesaam 298 méér onderskeidings opgelewer het: 1 021 teenoor 723 in 2019.

Chris Denysschen, hoof van die Hoërskool Waterkloof en Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. (Foto: SOS)
Chris Denysschen, die skoolhoof, skryf hul sukses toe aan die samewerking van puik personeel, leerders en die ondersteuning van familie.
“Die leerders het aan die begin van die jaar gevra: ‘Meneer, hoe kan ons van wêreldformaat wees?’ Ons kies toe die tema ‘grensloos’ en ons besluit om te droom.”
Die merietetoekenningsgeleentheid is by die nuwe Sol-Tech-kampus in Monumentpark gehou.
Die top-20 skole wat die meeste onderskeidings landwyd behaal, is:
- Hoërskool Waterkloof
- Hoërskool Menlopark
- Hoërskool Garsfontein
- Afrikaanse Hoër Meisieskool
- Westerford High School
- Paul Roos Gimnasium
- Pietermaritzburg Girls’ High
- Hoërskool Zwartkop
- Hoërskool Stellenberg
- Rustenburg Girls’ High School
- Hoërskool Eldoraigne
- Mbilwi Secondary
- Hoër Meisieskool Bloemhof
- Afrikaanse Hoër Seunskool
- Bishops
- Durban Girls’ High
- Westville Girls’ High
- Hoërskool Parel Vallei
- Pretoria Boys High School
- Hoërskool D.F. Malan
Die SOS sê enkelgeslagskole het weer koningin gekraai: Sewe van die top-20 skole in Suid-Afrika met die meeste onderskeidings per kandidaat is meisieskole.
Volgens Wilna van Heerden, hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, het drie dinge hulle veral voorberei vir die uitdagende jaar. “Ons praat nooit oor punte of prestasie nie. Ons fokus is nie prestasie nie, ons fokus is om onsself te verbeter en om te weet wie ons is. Dít, tesame met die feit dat ons kinders ʼn uiters gesonde werksetiek het en ook daarby selfdissipline, het gemaak dat Covid-19 nie die kinders kon onderkry nie.”
Die top-20 skole met die meeste onderskeidings per kandidaat is:
- Herschel Girls’ School
- Herzlia High School
- Phambili Secondary School
- Hoër Meisieskool Bloemhof
- Rhenish Girls’ High School
- Westerford High School
- Central Islamic School
- Bishops
- Rustenburg Girls’ High School
- Siyabonga School
- Star College
- Cannons Creek School
- Afrikaanse Hoër Meisieskool
- Hoër Meisieskool La Rochelle
- Al Azhar Institute
- Springfield Convent of the Holy Rosary
- Rondebosch Boys’ High School
- Hoër Meisieskool Paarl
- Hoërskool Waterkloof
- Constantia Waldorf School
(*Skole in vetdruk is Afrikaans)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
7 Kommentare
Uitstekend en baie geluk!! Hou so aan.
Nou weet ek hoekom andertaliges hulle kinders na Afrikaanse skole stuur.
En Bishops se waterpolo span was die beste in die land.
Én die Durbanners maak hulself gesien in die eerste groep!
Wel gedaan, baie geluk!