Dié kunstenaars, verhoogstukke met kykNET Fiëstas vereer

David Kramer het die prys vir beste musiekgedrewe produksie: teater ingeoes vir “Ver in die wêreld Kittie”. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die room van die Suid-Afrikaanse teater- en kunstewêreld het Donderdagaand by The Lookout in die V&A Waterfront in Kaapstad byeengekom om die 14de kykNET Fiëstas-toekenningsgeleentheid te vier.

Dié geleentheid laat sedert 2011 jaarliks die kollig val op uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste by die ses vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste – Innibos, KKNK, Momentum Beleggings Aardklop, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en die Toyota US Woordfees.

Verhoogveterane soos Frank Opperman, Antoinette Kellermann en Dawid Kramer is onder vanjaar se wennerslys.

Die KKNK-produksie Droomkraan-kronieke was een van die groot wenners van die aand en het met drie toekennings vir beste produksie, beste regie en beste ensemble weggestap.

Lee-Ann van Rooi het ʼn Fiësta ingepalm vir haar rol in die treffende eenvrouvertoning The Woman Who Fed the Dogs, ’n verhoogverwerking van Belgiese skrywer Kristien Hemmerechts se trefferboek. Dit vertel die verhaal van Michelle Martin, die tweede vrou van die veroordeelde Belgiese reeksmoordenaar en verkragter Marc Dutroux.

Eben Genis, bekend vir rolle in reekse soos Donkerbos, is vir sy ondersteunende spel in Reza de Wet se Mirakel vereer, terwyl nuweling Kerscha Titus die Fiësta vir beste opkomende kunstenaar vir haar spel in Jantjies and the Pearls gewen het.

Tobie Cronjé en die dramaturg dr. Ismail Mahomed is as legendes vir hulle lewensbydrae tot die kunste vereer.

Bekendes soos Vinette Ebrahim, Theodore Jantjies, David Kramer, Amanda Strydom, Cornelia Faasen, Wicus Pretorius, Reynard Slabbert en Laetitia Pople het as die aand se gasaanbieders opgetree.

Tobie Cronjé. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Soos met vorige Fiësta-toekennings het elkeen van die benoemdes, en daarmee al die wenners, asook die Fiësta-beoordelaarspaneel, ’n kunswerk ontvang. Vanjaar se werke is deur die lino-meester Theo Paul Vorster gemaak.

Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van Premium-kanale, het namens kykNET die wenners en benoemdes gelukgewens en ook die prys vir die beste feesproduksie oorhandig.

“Hierdie towenaars van toneelspel, kuns en musiek verstaan hoe om ons te boei met ’n blik op lewens en wêrelde verwyder van ons eie.

“Wanneer ons wegstap, is ons nie meer dieselfde mense nie. Ons is op ’n hoe klein ook al skaal getransformeer. Ons kyk bietjie anders na onsself en dalk selfs mekaar. Ons vergeet vir ’n ruk ons sorge en onthou wat regtig saak maak,” het Pelser gesê.

Hier is die volledige lys van wenners:

Beste produksie

Droomkraan-kronieke (KKNK)

Beste akteur

Frank Opperman vir Reünie (Innibos)

Beste aktrise

Lee-Ann van Rooi vir The Woman Who Fed the Dogs (Suidoosterfees)

Beste manlike byspeler

Eben Genis vir Mirakel (KKNK)

Beste vroulike byspeler

Antoinette Kellermann vir Goed wat wag om te gebeur (Momentum Beleggings Aardklop)

Beste regie

Neil Coppen, Craig Leo en Carlo Daniels vir Droomkraan-kronieke (KKNK)

Beste ensemble

Droomkraan-kronieke (KKNK)

Beste nuutgeskepte teks, verwerking of vertaling

Lynthia Julius en Veronique Jephtas vir My kroon se krank (KKNK)

Beste teaterontwerp

Wolf Britz vir Tuis, ek’s liefie (Toyota US Woordfees)

Beste oorspronklike musiek

Mbuso Ndlovu vir Echoes of Heritage (Vrystaat Kunstefees)

Beste prestasie in visuele kuns

Tafadzwa Tega vir Chisi Hachieri Musi Wacharimwa – A Seed Will Take Its Time to Grow (Momentum Belegging Aardklop)

Beste prestasie in klassieke musiek

Erik Dippenaar en Ralitza Macheva vir Variations (Klein Karoo Klassique)

Beste musiekgedrewe produksie: Buitelug of podium

Echoes of Heritage – Universiteit van Johannesburg-koor (Vrystaat Kunstefees)

Beste musiekgedrewe produksie: Teater

David Kramer – Ver in die wêreld Kittie (KKNK)

Beste kinder- of opvoedkundige teater

Braam en die engel (Momentum Beleggings Aardklop)

Beste opkomende kunstenaar

Kerscha Titus vir Jantjies and the Pearls (KKNK).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MiCheLLe ·

Baie trots op AleXander Steyn van Bloemfontein wat lewe blaas in Hans Haas!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.