Dié kusdorpie binnekort tuiste van eerste Club Med-oord in SA

Henri Giscard d’Estaing, president van Club Med en Murray Collins van Collins Residential. (Foto: Verskaf)

Die Tinley Manor-stranddorpie in die KwaZulu-Natalse Noordkus sal binnekort die tuiste wees van Suid-Afrika se eerste Club Med-vakansieoord met ’n belegging wat meer as R2 miljard sal wees.

Bouwerk aan die luukse oord, Club Med Tinley, sal volgende jaar begin en na verwagting sy deure in 2026 oopmaak.

Dit sal ook die eerste Club Med-oord wees om vir gaste ʼn unieke safari- en strandervaring te bied, met toegang tot beide die strandoord én ‘n Groot Vyf-wildreservaat wat drie en ʼn half uur se ry of ʼn 40-minute-vlug van die oord geleë is.

“Dié projek is reeds meer as ses jaar in wording en ons is verheug om uiteindelik die bal aan die rol te kry om vir beide Suid-Afrikaners en internasionale toeriste die geleentheid te bied om dié pragtige deel van die kontinent te ontdek,” het Henri Giscard d’Estaing, president van Club Med, oor dié oord gesê. Giscard d’Estaing het self die ligging van die nuwe oord gekies.

Hierdie baanbrekerontwikkeling is die gevolg van ‘n vennootskap tussen Club Med en die ontwikkelaars, die Collins residensiële konsortium.

Club Med Tinley sal Afrika se negende Club Med-terrein wees en sluit aan by die drie in Mauritius, twee in Marokko en een elk in Tunisië, Senegal en die Seychelle-eilande.

Tans word 65 ski- en strandoorde wêreldwyd deur Club Med bedryf.

Ekonomiese inspuiting groot danksy werksgeleenthede

Volgens Giscard d’Estaing is daar tans nagenoeg 60 Suid-Afrikaners wat wêreldwyd deur Club Med in diens geneem is, waarvan drie hoofde van internasionale oorde is.

Daar word verwag dat die Tinley-oordontwikkeling die plaaslike ekonomie ’n stewige hupstoot sal gee, met meer as 800 direkte werksgeleenthede en ’n bykomende 1 500 indirekte werksgeleenthede wat uit die projek sal vloei.

Tydens die bouproses sal die projek ook 1 200 konstruksiewerkers in diens neem, wat ’n aansienlike voordeel aan die arbeidsmark sal bied.

Luuksheid op Suid-Afrikaners se agterdeur

Besoekers kan volgens die Tinley-oord se ontwikkelaarspan panoramiese uitsigte oor ongerepte strande en kusduine geniet.

Alles, van die vermaak en selfs kos en drinkgoed, sal deur die ligging, klimaat en kulture van Suider-Afrika geïnspireer word.

Kenmerkende Club Med-aktiwiteite, insluitend swembaddens, ontspanningsareas, ‘n wêreldklas kinderklub met pasgemaakte geriewe en gesertifiseerde personeel vir kinders van vier maande oud af, asook ‘n diverse verskeidenheid van grond- en wateraktiwiteite kan verwag word.

Die beplande Tinley-oordwinkelsentrum sal verder ‘n inkopie-ervaring sowel as fynproewerskos, kroeg en wynkamer bied met vermaak en lewendige musiek bedags en saans.

Ekonomie én ekologie ewe belangrik

Volgens Giscard d’Estaing is Club Med nog altyd daartoe verbind om die konstruksie van al sy nuwe oorde deur die BREEAM-omgewingsassesseringsmetode te laat eko-sertifiseer.

BREEAM is ʼn gesogte internasionale erkende en onafhanklike eko-konstruksie-sertifiseringsinstansie.

Club Med Tinley poog ook om ’n 4-ster-gradering van die Groenbouraad van Suid-Afrika (GBCSA) vir hierdie ontwikkeling te behaal.

Voedselvermorsing en oormatige plastiekgebruik is ook iets wat Club Med-handelsmerke regoor die wêreld takel. Al Club Med se oorde volg tans die sogenaamde “Bye Bye Plastics”-beweging, wat kyk na die progressiewe vermindering van die gebruik van veral plastiekwaterbottels.

Club Med en organisasies soos Agrisud, ’n vooraanstaande nie-winsgewende organisasie wat klein landbou-ondernemings bevorder, vat volgens Giscard d’Estaing dikwels hande om die groei en ontwikkeling van plaaslike besighede binne die oorde te bevorder.

“Sedert sy ontstaan ​​in 1950, was Club Med ’n baanbreker in die ontdekking van nuwe uitsonderlike bestemmings. Club Med Tinley staan ​​gereed om ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse gasvryheidlandskap te maak en om ’n simbool van bemagtiging en volhoubare groei vir die streek en die land te word,” het Giscard d’Estaing bygevoeg.

  • Lees hier meer oor Maroela Media se onlangse besoek aan Club Med se La Plantation d’Albion-vakansieoord in Mauritius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Seder op die horison ·

dit lyk my soos bevoegde mense wat werkskepping bewerkstellig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.