Dié pad nog lank gesluit weens sinkgat

‘n Skermgreep van die beeldmateriaal op sosiale media.

Snake-rylaan naby die N12 in Benoni gaan nog lank gesluit wees nadat ’n sinkgat ’n gedeelte van dié pad ingesluk het.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het aan Maroela Media gesê verskeie ingenieurs werk tans saam om die oorsaak van die sinkgat te bepaal en planne te beraam omtrent dié gat wat op een van die suidwaartse bane ingeval het.

Volgens Ntladi is albei bane onbepaald gesluit ter wille van motoriste se veiligheid.

Maroela Media het vroeër berig die Gautengse departement van paaie en vervoer het motoriste reeds aan die begin van November gewaarsku teen die sinkgat van vier meter diep.

Beeldmateriaal van die sinkgat is vandeesweek op sosiale media versprei waarin dit voorkom asof dié gat heelwat groter is te midde van vandeesweek se swaar reën. Ntladi het egter Donderdagoggend gesê die gat is nié groter as middel November nie.

Daar is vroeër vanjaar voorspel dat die pad eers teen die middel van volgende jaar gereed sal wees vir gebruik.

Die sinkgat in November vanjaar. (Foto: Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Julie Jansen van Rensburg ·

As ek moet raai sal dit DALK in die jaar toet weer herstel wees… Die feesseisoen is hier en dis mos nou tyd om te eet, drink, vrolik wees en jou roes af te slaap…

Lorinda Gerber ·

Weet enige iemand wanneer die sinkgat naby Unitas Hospitaal reggemaak gaan word?

'n Gat vir 'n gat. ·

Iemand hey kom kyk na die gat. Toe besluit hy, dis iemand anders se gat om reg te maak. Daarna is vergader (met hoenderburgers en skyfies by die wavrag). Derhalwe word besluit dis eintlik ‘n ander dept wat moet pa staan vir die gat. Nog ‘n vergadering, (met die kolonel se hoender op die tafel) waarna ‘n afvaardiging gestuur word na die ander departement om die gat te bespreek. Niemand sien kans vir die gat nie. Na nege verlore jare, sal die geskokte president (wie hy ook mag wees), tot die slotsom kom, daar was sabotasie betrokke, daarom dat die gat nou reeds die hele deurpad ook ingesluk het. ‘n Kommissie van Ondersoek sal geloods word. Uiteindelik sal ingenieurs, padbouers en die privaatsektor aanbied om die gat reg te maak. En dan sal die gat uiteindelik verdwyn. Tot die volgende gat sy verskyning maak….die een wat kom sê die sinkgat is suksesvol deur die regering reggemaak, want hulle dra alle burgers se belange op die hart. Waarskynlik net so voor ‘n verkiesing? En wie is ons om te stry oor ‘n gat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.