Dié span moet Tshwane regruk

(Foto: Zakysant via Wikimedia Commons)

Die nuwe uitvoerende burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, het Vrydag sy span burgemeesterskomiteelede aangekondig wat die metro gaan regruk ná ʼn onstuimige paar weke.

Brink sê die veelpartykoalisie het in “ʼn kwessie van dae” daarin geslaag om tien burgemeesterskomiteelede aan te wys. Van dié komiteelede het in die verlede dieselfde amp beklee.

“Die feit dat die veelpartykoalisie so vinnig kon saamwerk demonstreer ons dringendheid en toewyding om die uitdagings wat Tshwane in die gesig staar, reg te stel,” het hy tydens die aankondiging gesê.

Tshwane se nuwe burgemeesterskomiteelede is:

  • Kingsley Wakelin (DA) – burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste;
  • Hannes Coetzee (ActionSA) – burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning;
  • Themba Fosi (DA) – burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en streeksbedrywighede;
  • Ziyanda Zwane (IFP) – burgemeesterskomiteelid vir omgewing en landbou;
  • Peter Sutton (DA) – burgemeesterskomiteelid vir finansies;
  • Katlego Mathebe (DA) – burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer;
  • Grandi Theunissen (VF Plus) – burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid;
  • Peggy de Bruin (ActionSA) – burgemeesterskomiteelid vir sosiale ontwikkeling;
  • Ofentse Madzebatela (DA) – burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings; en
  • Rina Marx (VF Plus) – burgemeesterskomiteelid vir gesondheid.

“Hierdie is ʼn sterk span individue wat eties en gereed is om die mense van die Tshwane-metro te dien,” het Brink gesê.

Die komiteelede het Vrydagoggend ná die aankondiging reeds ingespring om aan die metro se aanpassingsbegroting en die aangepaste dienslewering- en begrotingsimplementeringsplan te werk. Die komiteelede sal na verwagting volgende week ook hieraan werk nadat die Gautengse tesourie die metro uitstel gegee het.

Die stad het in die afgelope paar weke in wanorde verval nadat Randall Williams in Februarie as burgemeester bedank het. Sy opvolger, dr. Murunwa Makwarela van Cope, is kort daarna as raadslid afgedank aangesien hy in 2016 insolvent verklaar is.

Brink is Dinsdag as die metro se nuwe burgemeester aangekondig en het onderneem om ʼn hoofstad te bou wat werk.

Brink se plan vir Tshwane

Cilliers Brink (Foto: CityTshwane/Twitter)

Brink het Vrydag vlugtig uiteengesit wat sy vyf hoofprioriteite is om dienslewering in Tshwane te verseker.

Hy het onderneem om die finansies van die munisipaliteit reg te ruk en die finansiële kontrole op te bou wat afgebreek is of nooit bestaan het nie.

Brink wil die aantal onbeplande water- en kragonderbrekings verminder deur die metro se infrastruktuur op te bou en in stand te hou. Hy wil boonop verseker dat die infrastruktuur teen misdadigers beskerm word deur die Tshwane-metropolisie reg te ruk.

Brink beplan om basiese dienste te verbeter – soos herstelwerk aan slaggate en straatligte en selfs net die munisipaliteit se grondgebied se gras in toom te hou en die strate skoon te hou.

Hy wil laastens die produktiwiteit en professionaliteit van die stad se amptenare met behulp van toepaslike prestasiebestuurstelsels verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bernard ·

Grootliks dieselfde span wat die probleme veroorsaak het!

Harley Davidson ·

Ek hoop hulle kry kans voor die anc/eff alliansie weer chaos en anargie aanhits soos dit hulle manier is wanneer iets positief is en doeltreffend werk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jammer boet, die probleme bly dieselfde. Jou inwoners wat nie vir dienste betaal nie en onbeheerste plakkers is besig om die metro te sink. Administrasie is julle voorland. Maar jou party sal vir jou ‘n joppie in die parlement gee. Die res van die raadslede is dan werkloos.

M ·

Fantasties !!!! Skep ‘n 2de Weskaap wat Syril Riller frustreer ….. Rykste seën en voorspoed.

Vrystaat2109 ·

Goeie voornemings sterkte, tot die klomp weer mosie van wantroue instel as hulle sien dinge word in ‘n positiewe en opbouende rigting gestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.