Dié toelae nie meer by Poskantoor beskikbaar

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) gaan nie meer die spesiale R350-noodtoelae wat deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) voorsien word, uitbetaal nie.

Begunstigdes word aangeraai om dit voortaan by enige Pick n Pay-, Boxer-, Shoprite-, Checkers- en USave-winkel of kitsbanke te kry.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van die Poskantoor, is dié besluit geneem om lang toue en groot groepe mense by poskantore te voorkom.

Hy sê mense het ook uit hul eie begin om eerder die toelae by supermarkte af te haal waar hulle direk daarna kruideniersware kan koop. Dit spaar volgens Kruger die begunstigdes tyd en geld.

“Dit is soveel makliker vir begunstigdes om toelae by supermarkte te kry waar hulle die geld in elk geval gaan gebruik,” sê Kruger.

Volgens Kruger kan begunstigdes met ʼn bankrekening die opsie kies om toelaes sommer direk in hul bankrekeninge te laat inbetaal. Die toelae kan dan by kitsbanke in die vorm van kontant getrek word of bankkaarte kan by betaalpunte gebruik word.

Sassa se ouderdom-, ongeskiktheid- en kindertoelae word steeds by die Poskantoor uitbetaal.

Die DA is egter nie tevrede met dié besluit nie en gaan aan die minister van digitale tegnologie en kommunikasie, sowel as die minister van maatskaplike ontwikkeling, skryf om dit om te keer.

“Hierdie stap sal ongetwyfeld miljoene arm Suid-Afrikaners benadeel wat op hierdie toelae staatmaak. Hulle word nou gedwing om onnodige bykomende reisuitgawes aan te gaan om toegang tot plekke buite hul gemeenskappe te verkry om toegang tot hierdie toelae te kry,” sê Solly Malatsi, DA se skadu-minister vir kommunikasie.

Malatsi sê die lang toue by poskantoortakke is die gevolg van die entiteit se “chroniese ondoeltreffendheid”, tekort aan personeel en uitgediende tegnologiese infrastruktuur. “Hulle kan dus nie die skuld hiervoor op die begunstigdes van die R350-toelae pak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Anel ·

Ek kan nie glo dat die lot wat die R350. 00 kry nod bankrekeninge het nie! Betaal hulle dan nie bankkostes nie? En wat se rekeninge het hulle? As ek ‘n rekening wil oopmaak is daar allerhande voorwaardes en dan kan ek ook nie my rekening leeg trek nie, selfs nie ‘n spaar rekening nie. Hoekom gee hulle nie vir die mense maar eerder ‘n R350. 00 koopbewys van ‘n supermark naby hulle nie? Baie meer prakties.

Johan ·

Nou praat jy Anel, ek staan eenkeer in die checkers en die blinkgesmeerde dame voor my koop n trollie vol meestal luukshede met pakke en pakke voedsel koepons. TIA.

Frank ·

Omdat drankwinkels nie daardie koopbewyse sal vat nie want dit is tog waarheen die geld gaan

Marthinus W ·

Ek is een van die “lot” wat die R350-toelaag ontvang. Ek het n FNB rekening, omdat Capitec nie een vir my wou oopmaak nie – hulle het gese ek is te arm. Ek het n gewone rekening, wat R5,00 per maand kos. Dis makliker om die geld elektronies te kry.

koopbewys: ek gebruik die geld ook om hospitaal toe te gaan, R70 vir n ondersoek en medisyne, of R40 net vir medisyne.

drank: ek is 59 en het nog nooit in my lewe gerook nie. Die enigste drank wat ek gebruik is nagmaal.

Ons mag arm wees, maar ons verdien ook bietjie respek!

Karoomeisie ·

In die dorpie waar ek bly, is nie een van die winkels wat genoem word nie. Net ‘n poskantoor. Hoe nou gemaak?

Niel ·

Plaas hul die geld laat uitbetaal by drankwinkels Die meeste gaan soontoe!

domheks ·

Jy slaan die spyker op sy kop! Selfs die kinder gelde gaan bottelstoor toe!

Dries ·

Hahahaaa. Hulle lewer nie meer pos af nie. Wat doen hulle nog ??????

Grassie ·

In die dorp waar ek woon was die tou mense by die poskantoor omtrent ‘n blok lank op dae wanneer die uitbetalings gedoen is. Van al die genoemde besighede is net P&P in ons middedorp. Ek koop al donkiejare daar maar sal nou seker ‘n ander winkel moet soek. By die poskantoor was nie toilette nie en no 1 en no 2 is net daar gedoen. Ek wonder hoe gaan P&P se stoepe lyk.

Boatsie ·

DA as jul guns en stemme wil wen, lewer beter kommentaar as dié

LANA is ELANè ·

Van wat, swak diens? Enige rower wat sy sout werd is sal weet daar is niks om te roof nie behalwe die klante en die sg personnel.

miche ·

Daar hardloop die DA om seker weer nóg ‘n hofsaak te begin…

Waarnemer ·

Elke tweede boom het n shoprite….dit is reg so poskantoor ek ondersteun julle besluit want die lang toue by die poskantoor lok net rampokkery uit.

Johan ·

Weet jy wat n gemors gaan dit nou afgee by daai winkels as jy kruideniers gaan koop hulle kan nou al geld trek wat dit uiters stadig maak daai winkeks nie banke nie.

Remnandt ·

Die hoeveelheid inbrake by die Poskantoor het werknemers geknak. Ek ken persoonlik mense waar die poskantoor se kluis met ‘n bom oop geblaas is….

Casper ·

Malatsi se redenasies is ongegrond.Die begunstigdes moet in elk geval dorp toe kom om geld te trek so hulle kan dit net sowel by ‘n supermarkte doen.

Nici ·

Ek dink die DA is verkeerd, soos met ‘n klomp ander dinge ook. Daar is baie opsies beskikbaar om hierdie toelae te ontvang. As iemand ‘n pakkie moet pos gaan hul mos vir ewig in ‘n ry staan by die poskantoor. Pakkies en pos is hul primere doel, nie sosiale toelaes vir elke liewe ding wat verskyn nie.

LANA is ELANè ·

Ek verstaan werklik nie waarom daar nog enigsins ñ posdiens in SA is nie, daar is absoluut geen diens in die vervalle, onveilige, vuil plekke nie. Die personeel is bot en onhulpvaardig, hulle laat jou duidelik verstaan dat hul diens aan jou ñ voorreg is en nie ñ gegewe – so tipies van enige staatsdiens entiteit. Geen werksetiek of trots nie, net daar vir hul maandelikse salaristjek en dan toi toi die werknemers gedurigdeur oor hul astronomiese vergoeding vir niksdoen nie.

Mrs H ·

Ag nee DA, nou is julle soos n lastigge hondjie, ek stem vir julle – maar waragtag, wat die poskantoor se, maak sin. Daar is belangrikker probleme, hierdie is nie een van hulle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.