Dié verdagtes steeds soek ná Valke-lede se moord

Van links: Tebo Phuthegolo, Jabulani Andrew Sibisi en Pascal Wiseman Langu. (Foto: SAPD)

Die Valke is steeds op die spoor van nog drie verdagtes wat verbind word met ’n mislukte transitorooftog wat vroeër vanjaar in Mahikeng in Noordwes plaasgevind het. Drie verdagtes is die betrokke dag in Maart deur die polisie doodgeskiet. AO Delene Grobler-Koonin (44) en speursers. Wynand Herbst (42) is ook doodgeskiet toe hulle die groep verdagtes agternagesit het.

Ses verdagtes is intussen in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het Donderdag in ’n verklaring gesê die owerhede doen ’n beroep op mense om met enige inligting na vore te kom wat kan lei tot die inhegtenisneming van Pascal Wiseman Langu (48), Tebo Phuthegolo, ook bekend as Boitumelo Mashishi, en Jabulani Andrew Sibisi, bekend as Mkhulu (53).

Sers. Wynand Herbst (42).

Mense word egter gewaarsku om nie self die gesoekte verdagtes te probeer aankeer of konfronteer nie aangesien hulle moontlik gewapen en gevaarlik kan wees, het Hlathi gesê.

Inligting kan by lt.kol. Gert Serfontein by 071 481 3394 of AO Trevor Shaw by 082 697 5873 aangemeld word.

Maroela Media het vroeër berig ’n groep gewapende mans het op 5 Maart op ’n Fidelity-transitovoertuig in Mahikengweg naby die Itsoseng-nedersetting toegeslaan.

Lede van die polisie se spesiale taakmag het gereageer nadat ’n gewapende bende op ’n geldwa losgebrand en die bestuurder gedwing het om stil te hou. Die rowers was net besig om die geldwa met plofstof oop te blaas toe die taakmag toegeslaan het.

“Die verdagtes het in verskillende rigtings laat spat en in hul poging om te ontsnap het twee van die betrokke voertuie voor lede van die Valke se taktiese operasionele bestuurseenheid (Toms) tot stilstand gekom,” het ’n woordvoerder van die Valke vroeër gesê.

Ao. Delene Grobler-Koonin (44).

Dit is tydens die daaropvolgende skietery dat Grobler-Kroonin geskiet is.

Die verdagtes het gevlug. Een van hulle is later in ’n Johannesburgse hospitaal opgespoor en in hegtenis geneem.

Die soektog na verdagtes het die polisie ook na Coligny gelei, waar van die verdagtes by ’n vulstasie voorgekeer is. Die rowers het met AK47-aanvalsgewere op die Toms-lede losgebrand en Herbst ook doodgeskiet.

Jabulani Yika (38), Phahlane Ngubeni (47), Musa Mkhabele (34), Neo Marule (38), Simpiwe Msibi (24) en Tafere Dimmissie (38) is later in hegtenis geneem. Dié verdagtes staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie en poging tot rooftog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

Ek verstaan nie hoe die polisie op die spoor is van die verdagtes, maar dan om hulp vra as iemand weet waar die verdagtes hulle bevind. Hel man as jy op die spoor is weet jy mos, anders het jy die spoor verloor en vra dan om hulp.

Die Wolf ·

Sal enigiets kwytraak om die media van hulle skouers af te kry. Ek kry die laer range jammer want hulle probeer. Die top wil net politiek speel en hulle agterstewes beskerm om hulle onbevoegdheid te verbloem.

Pampoen ·

Die polisiemanne was dapper en het hulle lewens verloor in die uitvoering van hulle goeie taak. Laat ons help as ons kan. Vergeet van die taalkundige issues.

Lezette ·

Sover ek weet het hulle koelvaste baadjies gedra….hulle is in die kop geskiet!
Koelvaste baadjies gaan nie daarvoor help nie. Ek glo nie enige polisie man/vrou gaan uit om vermoor te word nie – hulle doen wat hulle moet en meeste van die tyd tref hulle alle voorsorg maatreëls, Punt is: – hulle is vermoor in die uitvoering van hulle pligte!!

Hekwag ·

Laat my mos nou wonder; presies hoe effektief is ons sogenaamde Valke dan dat hulle nou nog nie die kriminele kon opspoor en vasvat nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.