Dié vroue neig na oorgewig, vetsug

Tydens die studie is bevind dat vroue in stedelike gebiede ʼn groter kans het om oorgewig of vetsugtig te wees as diegene wat in plattelandse gebiede woon. (Argieffoto: pixabay)

Al hoe minder oefening en al hoe meer ongesonde kos beteken ook al hoe meer Suid-Afrikaanse vroue van vrugbare ouderdom is oorgewig of vet.

Waar vroue met geen laerskoolonderrig nie vantevore meer geneig was om oorgewig of vetsugtig te wees, is dit nou vroue uit meer welgestelde omgewings en met hoër onderrigvlakke wat die stryd teen vetsug stry.

Doktorale student Mweete Debra Nglazi, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, het in ʼn studie gekyk na hoe die voorkoms van oorgewig of vetsug tussen 1998 en 2017 onder vroue tussen 15 en 49 jaar oud – dus van vrugbare ouderdom – verander het. Sy het ook probeer bepaal wat tot oorgewig of vetsug lei.

Luidens die studie het die voorkoms van oorgewig in die tydperk van 51,3% tot 60% toegeneem, terwyl vetsug van 24,7% tot 35,2% gestyg het. Die voorkoms van oorgewig was in albei tydperke groter onder ouer vroue, het Nglazi bevind.

Leefstyl behels baie stilsit

In 1998 het vroue met geen laerskoolonderrig nie en diegene met sekondêre onderrig ʼn hoër voorkoms van oorgewig en vetsug ondervind, in vergelyking met vroue wat tersiêre onderrig ontvang het.

Dié patroon het egter in 2017 omgeswaai.

Volgens Nglazi het die voorkoms van oorgewig en vetsug toegeneem onder vroue uit ʼn meer welgestelde sosio-ekonomiese agtergrond as hul eweknieë in minder gegoede omstandighede.

“Diegene met ʼn hoër onderrigvlak is geneig om werk te doen wat minder energie vereis; hulle is fisiek onaktief en volg ʼn leefstyl waar hulle baie sit.

“In teenstelling daarmee het ons bevind dat die kans in 1998 om oorgewig of vetsugtig te wees, laer was onder vroue met ʼn tersiêre onderrigvlak in vergelyking met diegene wat geen laerskoolonderrig gehad het nie.”

Nglazi het ook bevind vir die meeste vroue was die voorkoms van oorgewig en vetsug in 2017 beduidend hoër as die geraamde koers in 1998. Noemenswaardige voorspellers van oorgewig en vetsug sluit in ʼn hoër ouderdom, selfidentifisering met die swart Afrika-bevolkingsgroep, hoër onderwyskwalifikasies, blyplek in ʼn stedelike gebied en welvaart.

“Rook is omgekeerd eweredig verbind met oorgewig en vetsug,” sê sy.

Suid-Afrika ondervind ook ʼn voedingsoorgang wat gekenmerk word deur die toenemende voorkoms van oorgewig en vetsug. Die bevinding dat die verskynsel oor die afgelope paar jaar toegeneem het, kan dalk toegeskryf word aan vinnige ekonomiese ontwikkeling sedert die aanvang van demokrasie in 1994, verstedeliking en al hoe meer vroue wat deel van die arbeidsmag vorm.

“Vroue is geneig om lae-energie-werk te doen. Beweging is ook minder energie-intensief weens korter pendeltye en die gebruik van voertuie vir vervoer.”

Te min tyd om gesonde maaltye voor te berei is ook vir talle vroue ʼn probleem. Hulle werk lang ure en het boonop groter toegang tot verwerkte kosse, het Nglazi in die studie bevind.

Tydens die studie is ook bevind dat vroue in stedelike gebiede ʼn groter kans het om oorgewig of vetsugtig te wees as diegene wat in plattelandse gebiede woon.

Die Covid-19-pandemie het die afgelope ruk groot klem gelê op die belang om behoorlik om te sien na diegene met toestande soos vetsug of mense wat oorgewig is, aangesien dit hulle blootstel aan ʼn groter risiko van ernstige Covid-19 en selfs die dood.

Nglazi sê die toename in vroue wat oorgewig of vetsugtig is, vereis dringende ingryping in die openbare gesondheidsektor.

“Verhoogde aandag is nodig rakende vetsug en die gesondheidsgevolge wat dit vir hierdie kwesbare bevolkingsgroep inhou.

“Daar moet oor verskillende sektore heen gewerk word om te verhoed dat vrugbare vroue uitermatig gewig aansit en daar moet ʼn fokus wees op die risikofaktore wat uitgelig is,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Hoekom word daar nie gesê wie die teikengroep vir hierdie studie was nie? Vroue wat nie laerskool opvoeding gehad het nie? Kyk na onse regering en sekeres wat uniform dra! Het al gewonder waar kom daardie grotes vandaan? Skandelik!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.