Dié water skadelik vir jou tuin

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Groep navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die eerste omvattende studie oor die uitwerking van gebruikte wasgoedwater op die lewensvatbaarheid van grond in huishoudelike tuine gedoen.

Die studie, wat gebaseer is op navorsing van een van die medeskrywers, Ncumisa Madubela, bewys dat gryswater wat afkomstig is van wasmasjiene etlike nadele vir grond inhou indien dit daarmee besproei word.

“Talle Kapenaars het met die onlangse droogte en die naderende Dag Zero gryswaterstelsels ingestel om hul tuine met hul wasgoedwater nat te lei. Hoewel hulle sommige plante daarmee aan die lewe kon hou, is die hergebruik van wasgoedwater nie tot voordeel van die grond waarin hulle geplant is nie,” sê dr. Ailsa Hardie, navorser van die US se Departement Grondkunde wat die studie gelei het.

Dr. Cathy Clarke en Vink Lategan, albei van dié departement, het ook aan die studie meegewerk.

“Die chemikalieë wat in wasgoedseep voorkom, stroop die voordelige humus uit die grond. Humus is die beste organiese bestanddeel in grond, en dra by tot die gesondheid, vrugbaarheid en waterbergingsvermoë van grond,” verduidelik Hardie.

Weens hierdie stropingseffek word die kleipartikels in die grond versprei. Dit versper die grond se porieë en vorm ʼn kors aan die oppervlak. Die grond word dan verseël.

“Dit maak dit moeilik vir water om in die grond in te dring en wanneer dit wel reën of die tuin word natgemaak, gaan heelwat water in die proses verlore. Eintlik word baie water hierdeur gemors omdat dit nie die plante se wortels kan bereik nie.”

In droogtetye droog die grond uit en dan word dit toenemend brak en alkalies.

“Plante kan nie in sulke grond floreer nie, en sukkel om water en ander belangrike voedingstowwe daaruit op te neem. Die agteruitgang van grond vind plaas vanaf die eerste keer dat dit met wasgoedwater natgegooi word en mettertyd raak dit moeilik om te herstel.”

Die hoeveelheid humus wat een skeppie wasgoedpoeier (links) of vloeibare wasgoedseep (middel) uit sanderige grond kan stroop. Heel regs is hoeveel humus deur kraanwater gestroop word. (Foto: Ailsa Hardie)

Hardie sê dat gryswater wat wasgoedpoeier bevat meer nadelig is vir die grondgehalte, terwyl gryswater waarin vloeibare wasgoedmiddels opgelos het, beter is. Dit is glo weens die verskil in hul basiese chemiese bestanddele. Wasgoedpoeier is baie alkalies – met ʼn pH-vlak van 9 of 10 – en bevat heelwat natriumkarbonaat. In vloeibare wasmiddels is water die hoofbestanddeel.

“Hoewel gryswater wat wasgoedseep bevat oor die algemeen nie gebruik moet word om grond te besproei nie, is water met vloeibare wasgoedmiddels, in plaas van poeier, beter. Dit moet steeds slegs matig gebruik word.”

Die navorsers het grondmonsters afkomstig van Kaapstad en Stellenbosch in hul studie gebruik en bevind dat sommige grondtipes selfs meer vatbaar is vir die negatiewe uitwerking van gryswater met wasgoedpoeier in, as ander.

Sanderige grond is onder dié wat mees vatbaar is vir die stropingseffek van waspoeierwater op die humusinhoud van grond. “Sowat 58% van grond in die groter Kaapstad is sanderig.”

Die porieë van graniet- en skalieverwante grond, wat ʼn laer ysterinhoud het, is meer geneig om toe te maak as dit met wasgoedwater natgegooi word. Dit beïnvloed die grondtipe se vermoë om water op te neem en te berg.

Die navorsers het verder vasgestel dat ysterryke rooi en geel grond beter bestand is teen die degraderende uitwerking van hergebruikte wasgoedwater, maar steeds geneig is om te hoë konsentrasies natrium en soute te bevat. Plante floreer nie in sulke grond nie, en sal dus in droë maande selfs meer sukkel.

Op grond van ongepubliseerde data reken Hardie dis veel beter vir grond, en vir die plante wat daarin groei, om eerder stort-, bad- en selfs kombuiswater te hergebruik. Dis omdat sulke gryswater nie noodwendig soveel aggressiewe chemikalieë bevat wat die grond afbreek nie.

Die navorsers hoop om finansiering te bekom om bekostigbare maniere te vind hoe om grond wat reeds deur hergebruikte wasgoedwater afgebreek is, te rehabiliteer.

Dr. Ailsa Hardie, Vivian White, ʼn nagraadse assistent, en Ncumisa Madubela het grondmonsters in en om Kaapstad en Stellenbosch ingesamel. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hansie ·

Ek is seker daarvan dit kan teengewerk word deur sekere kunsmis mengsels in die grond te werk.

Robert ·

Kompos, kompos en nog meer kompos. Ons tuin is gered in die droogte deur gryswater te gebruik maar ek moet byvoeg ons het bad en stortwater saam met die wasmasjien water gemeng deur dit in tenks te stoor en dan uit te pomp.

Robert ·

Dit moet met stort en badwater gemeng word deur alles eers in ‘n tenk te pomp en dan tuin toe, met genoeg kompos kan die effek tot die minimum beperk word, as dit nie was vir gryswater nie sou ons tuin nou ‘n woestyn wees.

casper ·

Have been irrigating my lawns for 25 years — No side effects at all !!

Dirk Mostert ·

Gmf!! Ons gebruik al vir dekades lank grys water in die tuin. Die tuin floreer. Ons hark en ry nie blare weg nie. Dit gaan in die akkers en onder bome. Dan bly die grond langer klam.

Estelle ·

Ek stem, ons grond is juis sanderig en die tuin floreer met gryswater (wasmasjien water).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.