Soorte resepte:

Dié wenner-brandewyn het duidelik nie brieke

Marlene Bester. (Foto: Verskaf)

Die Van Ryn’s-brandewyndistilleerdery in Stellenbosch is vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar met die prys vir die beste brandewyn by die World Brandy-toekennings in Londen, Engeland, vereer.

Dié brandewyntoekennings word deur TheDrinksReport.com aangebied en vereer jaarliks die beste brandewyne ter wêreld. Elke inskrywing word blindelings getoets, en punte word vir die reuk, palet, afronding, balans, karakter, kompleksiteit en algehele gehalte van die brandewyn gegee.

Van Ryn’s se 15-jaar-gestookte brandewyn het vanjaar sterk mededingende en internasionale brandewynmakers van lande soos Frankryk, die VSA, Australië en Suid-Afrika, se produkte uitgestof.

KWV en Viceroy’s van Suid-Afrika is ook vir die toekennings benoem.

Van Ryn’s se 20-jaar-gestookte brandewyn het verlede jaar die prys vir beste brandewyn losgeslaan terwyl die 12-jaar-gestookte brandewyn in 2020 met dieselfde titel vereer is.

Van Ryn’s se 15-jaar-gestookte brandewyn het met die louere weggestap. (Foto: Verskaf)

Die paneel en internasionale beoordelaars het Van Ryn’s se 15-jaar-gestookte brandewyn beskryf as ʼn “simfonie van aromas wat ontvou, baie kompleks en ook goed gebalanseerd tussen geure – groot en magtig, maar steeds elegant.”

Marlene Bester, die meestervermenger, het oorstelp gesê die jongste wentitel is ʼn hoogtepunt in haar loopbaan.

“Brandewyne is aanloklik vir ʼn nuwe generasie wat outentiekheid omarm, wat aangetrokke is tot produkte wat ʼn storie vertel en migreer na diegene met getuigskrifte,” sê Bester.

“Die toekennings wat ons oor die laaste vier jaar ontvang het, segmenteer ons toewyding tot innovasie, kwaliteit en die kuns om uitnemende brandewyn te maak, en bou op ons reputasie as een van die wêreld se voorste brandewynhuise.”

Van Ryn’s se 15-jaar-gestookte brandewyn is geurig met ondertone van ʼn sigaarboks, lemoenskil en gebalanseerde eikehout. Donkersjokolade, warm speserye, geïntegreerde eikehout en vrugte skep ʼn romerige en komplekse afronding.

Die finaliste vir vanjaar se World Brandy-toekennings was:

Van Ryn’s 15-Year-Old Potstill Brandy, Suid-Afrika – goud

Van Ryn’s 20-Year-Old Potstill Brandy, Suid-Afrika – silwer

KWV 10-Year-Old Brandy, Suid-Afrika – silwer

KWV 12-Year-Old Brandy, Suid-Afrika – silwer

KWV 15-Year-Old Brandy, Suid-Afrika – silwer

Beehive XO, Frankryk – brons

Hector Legrant 15-Year-Old, Frankryk – brons

Ironroot Republic Sleight of Hand Sister City Blend, VSA – brons

KWV 20-Year-Old, Suid-Afrika – brons

Sullivans Cove XO Double Cask Brandy, Australië – brons

Sullivans Cove XO Single Cask Brandy, Australië – brons

Viceroy 10-Year-Old Potstill, Suid-Afrika – brons

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

‘n Besoek aan die Van Ryn brandewyn kelders is beslis die moeite werd.

Samuel ·

Nee, die inligting omtrent die stook van brandewyn en die maak van kuipe het my interesseer.

mattk ·

Samuel, ek stem saam…. die manier waarop hulle jou verwelkom, die aanbieding aangaande hul produkte en dan ook die proe-sessie. Besoek hulle twee jaarliks as ek Kaap toe gaan, uitstekende brandewyn. (Het darem nog nooit daar uitgestrompel nie)

Gawie ·

Moet net nie op ‘n Maandag gaan nie. Dan is hulle toe. Geen kennesgewingsborde om dit aan te dui nie. Het dit by ‘n veikigheidswag uitgevind.

Martie Smartie ·

Wonder wie van daai beoordelaars het al ‘n sigaarboks geproe …

Nommer 7 ·

Wat min mense weet, is dat brandewyn gemaak word deur witwyn, gewoontlik chenin blanc, te stook. M.a.w. “brand die wyn”.

FJ ·

Die edel cultivar van brandewyn stook is Colombard. Sample Roux, destyds keldermeester by Van Ryn’s, het so gesê en dan aanvaar ek dit.

Marthinus ·

Well gedaan Marlene. Ons het 6/12! ‘n Prestasie om op trots te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.