Dienslewering ly, want politici baklei

Adj.pres. David Mabuza beantwoord vrae in die parlement. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

“Daar is geen sekerheid nie en ons mense ly.”

Só het adj.pres. David Mabuza Donderdag tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie in die parlement gereageer op ʼn vraag van Siviwe Gwarube, hoofsweep van die DA, oor of hy wetgewing sal steun om plaaslike regerings te help stabiliseer.

Verskeie koalisieregerings by talle plaaslike owerhede is op wankelrige bene weens binnegevegte tussen politici.

Dié vlak van regering is die naaste aan mense op voetsoolvlak en is eindelik ook verantwoordelik vir die lewering van basiese dienste aan Suid-Afrikaners. Volgens Gwarube is dit noodsaaklik om koalisies te stabiliseer.

Mabuza het met die DA saamgestem dat groot ontwrigting plaasvind.

“As partye kan ons nie saam regeer nie. Al die koalisies wat ons opgestel het, werk nie. Vandag is daar een burgemeester en môre is daar ʼn ander. Dit is onbestendig. Dit raak die mense wat ons lei. Ons is almal hier [in die parlement] as partye. Hoekom kan ons nie saam regeer nie? Wat veroorsaak dat ons daar baklei?”

Volgens die adjunkpresident is dit nie net ʼn kwessie wat die ANC as regerende party raak nie omdat daar oral gevegte is waar koalisies regeer.

“Dit is ʼn politieke probleem wat ons onder mekaar moet oplos.”

Mabuza sê op enig gegewe punt is daar ʼn party of leier wat lei. “Diegene wat in die opposisiebanke is, moet daar wees – want dit is wat die mense besluit het.

“Ek verwelkom die idee dat daar hieroor gedebatteer word, want dit lyk of ons mense nie die dienste kry wat hulle nodig het nie omdat ons elke dag stry. Daar is geen sekerheid nie en ons mense ly daaronder.”

Hy het ook verwys na die Johannesburg-, Tshwane- en Ekurhuleni-metro waar “rioolvuil in die strate afstroom”.

“Dit is onaanvaarbaar,” het hy hieroor gesê.

“Ek wil nie sê wie daardie munisipaliteite regeer nie, want ek is nie hier om iemand die skuld gee nie.

“Plaaslike regering is ʼn gebied wat ons gesamentlik moet regruk.”

Die DA het verlede maand wetgewing voorgestel waarmee koalisieregerings doeltreffend bestuur kan word. Die voorstel is gedoen in aanloop tot die 2024-verkiesing en sprake dat ʼn koalisieregering op nasionale vlak ʼn al hoe groter werklikheid word.

Volgens die party moet die land voorbereid wees op koalisiepolitiek en moet wetgewing oor verkiesings en die kiesproses byhou by die huidige stand van die demokrasie en die heersende Suid-Afrikaanse werklikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Feit is, die ANC sal nooit mag afstaan nie. Hulle sal eerder oorgaan tot enorme ontwrigting.

Kobus ·

Dit is juis die ANC wat die ontwrigting veroorssak meneer. Julle dink net aan julleself, julle voel vere vir die “people” .Alles gaan oor julle

Frank ·

Vinger wys na koalisieregerings terwyl alles waar die ANC in beheer is tot rioolstatus degradeer herinner aan “splinter in ander se oog sien terwyl daar balk in jou eie oog is” (nee sommer altwee oe)

Delia ·

sjoe, kyk net hoe HARD baklei die politici vir die “community se benefit”

Jakes ·

Ek dink dis n belediging vir enige regdenkende mes om na hierdie nar te luister. Hy kannie Mpumalanga eers op n redelike wyse regeer nie en sal dit beter wees as hy liewer in Rusland gaan bly om ‘gesond ‘ te word.

Jacobus ·

Los die ANC dat hulle baklei die derde hond stap met die been weg.

Jakes ·

Ek gesels liewer met n kleuter as om te probeer verstaan waar hy met sy belaglike aannames vandaan kom.

JohanR ·

Alweer “ons mense”. Van waaneer af het die ANC ‘n duit omgegee vir die mense van SA. Is net julle sakke wat belangrik is!

Pietertjie ·

Ja-nee, dis nou weer tyd vir heuningkwas en mooi broodjies bak. Daar is ‘n verkiesing oppad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.