Digital Vibes: Senior amptenaar in beskuldigdebank

Popo Maja, woordvoerder van die departement van gesondheid. (Foto: Twitter)

Popo Maja, die nasionale departement van gesondheid se direkteur van kommunikasie, het Woensdag in die beskuldigdebank ingeskuif vir sy beweerde rol in die Digital Vibes-skandaal wat oudminister Zweli Mkhize tot ’n val gebring het.

Maja (63) het homself vroeër vandag aan die polisie oorgegee voordat hy in die gespesialiseerde handelshof in Pretoria op twee aanklagte van korrupsie verskyn het.

Hy is tydens die verskyning op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Maja word daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van R15 000 in 2019 aanvaar het om daardie tender van meer as R141 miljoen in Digital Vibes se guns te beïnvloed.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Maja het in 2019 as lid van die bodspesifikasie- en bodevalueringskomitee gedien. Die komitee was daarmee getaak om ’n diensverskaffer aan te stel om kommunikasiedienste met betrekking tot die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) aan die departement te verskaf.

Maroela Media het vroeër berig die departement het in November 2019 ʼn diensvlakooreenkoms met Digital Vibes aangegaan om ʼn mediaveldtog rakende die NGV te lewer. In 2020 is die dienste uitgebrei vir ʼn verdere Covid-19-mediaveldtog.

Mahanjana sê lede van die bodspesifikasie- en bodevalueringskomitee het op 1 November 2019 moontlike bieërs geëvalueer nadat aanbeveel is dat Digital Vibes aangestel word.

Dit word beweer dat daar op dieselfde dag wat die komitee in sitting was, ’n bedrag van R10 000 in Maja se persoonlike bankrekening, uit die Digital Vibes-bankrekening, inbetaal is.

’n Bedrag van R5 000 is ’n maand later (op 5 Desember 2019), wéér deur Digital Vibes, in Maja se persoonlike bankrekening inbetaal.

Staatsaanklaer Phumla Dwane-Alpman het nie vandag borgtog teengestaan nie, maar wel voorgestel dat Maja op borgtog van R10 000 vrygelaat word.

Sy prokureur het egter aan die hof gesê dat Maja reeds by die werk gedegradeer is weens sy beweerde betrokkenheid by die skandaal en kan net R5 000 bekostig. Hy het ook aan die hof gesê dat Maja sedert die begin van die saak met die staat saamwerk en nie ’n vlugrisiko is nie.

Maja verskyn weer volgende maand in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Althes ·

Hul kry voorkeur agv velkleur om hoë posisies te beklee, salarisse te ontvang waarvan die gemiddelde mens net droom, en tog is dit nie genoeg vir hul nie. Gierigheid en gulsigheid.

Theuns ·

Het simpatie met hom. Hy het peanuts gekry maar Mkhize en familie wat MILJOENE gevat het loop vry rond??.
Hy is FALL GUY en mkhize word deur slap ramaposa beskerm. Ramsposa loop ook rond al het Miljarde by Phala phala verdwyn .

Estelle ·

Sjoe, net R15 000? Sy omkoopgeld is maar kleingeld in vergelyking met al die ander op die soustrein …

Amelia ·

borgtog dis n grap hy moes ook maar soos alle ander probeer spaar het as publiek borg kry en kan nie betaal nie gaan jy tronk toe maar die klomp lyk my bepaal self hul borg geld Dis n grap

skurweberg ·

Spaar die mense die verleentheid en stel mense aan nie net om rasteikens te haal nie.

Theuns ·

Net nog ‘n clown show soos oral waar NVG van ramaposa cadre deployees betrokke is….
Batoi is nes ramaposa ‘n mislukking.

Lily ·

Hy plaas sy loopbaan op die spel vir R15 000 terwyl hy ‘n bo-gemiddelde salaris verdien. Eintlik onverstaanbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.