Digitale banksake veiligste – Sabric

(Foto: SAPD)

Daar word deesdae meer digitale banksake (app, aanlyn en oor die foon) as op enige ander bankplatforms gedoen en volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) is dit ook die veiligste manier om banksake te doen.

Sabric het pas die jongste syfers oor misdaadneigings in die bankbedryf bekend gemaak.

Tussen 2020 en verlede jaar het voorvalle van digitale bankbedrog met ʼn algehele 18% gedaal, met die grootste afname in selfoonbankbedrog. Hoewel die getal voorvalle minder is, was daar nietemin ʼn 45%-toename in die algehele bruto verlies in digitale bankdienste.

“Digitale bankprodukte is veel veiliger as om in persoon banksake te doen en stel mense in staat om veilige transaksies op enige plek te doen,” sê Nischal Mewalall.

Maar, waarsku Mewalall, misdadigers het reeds aangepas om data van sosiale media of data wat elders uitlek te gebruik en dit maak hul pogings om verbruikers te manipuleer, moeilik om raak te sien.

Aanlyn bankdienste

Hoewel aanlyn bankbedrog die kleinste gedeelte uitmaak van voorvalle wat aangemeld word (20%), is dit steeds verantwoordelik vir die grootste bruto verliese (45%) per voorval.

Finansiële verliese per voorval het die afgelope jaar ook met 9% gedaal. In 2020 was die gemiddelde waarde van die verlies per voorval altesame R37 308, terwyl dit verlede jaar tot R33 781 afgeneem het.

Bedrogvoorvalle deur selfoonbankdienste het met byna die helfte gedaal. In 2020 is 21 106 voorvalle aangemeld, terwyl die syfer vir verlede jaar op 10 998 staan.

Kitsbank-aanvalle

Volgens die jongste syfers was daar in 2021 ʼn toename van 11% in aanvalle op kitsbanke met verliese wat nou 17% meer is as vantevore.

Misdadigers maak ook toenemend van springstof gebruik om by hul buit te kom en daar was ʼn 15%-toename in voorvalle waar springstof gebruik is. Die gebruik van hoeksnyers om kontant te bereik het afgeneem van 47 voorvalle in 2020 tot 42 voorvalle verlede jaar.

Sabric is egter bekommerd oor die toename in kitsbank-aanvalle, ondanks tegnologie en veiligheidsmaatreëls wat ingespan word om kitsbanke te beveilig.

Die meeste kitsbank-aanvalle was in Gauteng (31%), gevolg deur Limpopo (19%), Mpumalanga (17%) en Noordwes (15%).

Hoewel die Vrystaat nie onder die voorste vier provinsies is wat aangemelde voorvalle betref nie, het die provinsie ʼn styging van 300% in kitsbank-aanvalle ondervind. In 2020 is net ses aanvalle aangemeld, in vergelyking met die 24 wat verlede jaar aangemeld is. In tien van die voorvalle is springstof gebruik om toegang tot die geld te verkry.

Kaartbedrog

Debietkaartbedrog in gevalle waar ʼn kaart nie teenwoordig is nie (“card not present”), is verantwoordelik vir 55,3% van alle sulke voorvalle en daar was sedert 2020 ʼn toename van 31,5% in hierdie soort bedrog.

Volgens Sabric bly dit ʼn bekommernis omdat transaksies met aanlyn handelaars al hoe meer gereeld gedoen word.

Mewalall waarsku ook teen die gevare van aanlyn inkopies, met fop-webwerwe wat gebruik word om mense te bedrieg en hul kredietkaartinligting te steel. In sommige gevalle gaan bedrieërs selfs so ver as om produkte van swak gehalte te lewer, net om die indruk te wek dat die webwerf nie ʼn bedrogspul is nie.

Inbraak, rooftogte by banke

Daar was verlede jaar ʼn afname van 16% in inbrake by banke en dit het gepaard gegaan met ʼn 89%-daling in die hoeveelheid kontant wat eindelik gebuit is. In 2020 is 55 voorvalle van inbrake by banke aangemeld, in vergelyking met die 46 voorvalle wat verlede jaar aangemeld is.

In agt gevalle wat verlede jaar aangemeld is, is kontant tydens die rooftog geteiken, hoewel boosdoeners ook waardevolle items soos rekenaars en skootrekenaars gryp.

In meer as die helfte van gevalle (52%) is niks egter tydens die voorvalle gesteel nie.

Sabric sê die algemeenste manier vir bankrowers om toegang tot die perseel te verkry, is deur die dak aan die agterkant van die bank. Hamerbore en hoeksnyers word dan ingespan om tot in die kluis te kom.

Bankrooftogte het egter verdubbel en altesame 10 voorvalle is verlede jaar aangemeld, in vergelyking met vyf in 2020.

Sabric sê die toename kan toegeskryf word aan “opportunistiese oortreders” wat banktellers uitsonder om die betreklik klein hoeveelhede kontant wat in hul geldlaaie gehou word, by te kom.

“Tradisionele bankrooftogte, waar ʼn groep verdagtes personeel en kliënte met ʼn vuurwapen aanhou, het nie verlede jaar voorgekom nie danksy veiligheidsmaatreëls wat die banke in werking gestel het.”

Transitorooftogte

Transitorooftogte bly steeds ʼn probleem en die meeste voorvalle (32%) word in Gauteng aangemeld.

Tussen Januarie en Desember verlede jaar is altesame 313 transitorooftogte landwyd aangemeld – ʼn styging van 5% sedert ʼn jaar tevore.

Waar rowers vantevore veral rooftogte gepleeg het wanneer ʼn geldwa êrens stilhou, word daar nou meer aanvalle op die pad aangemeld, sê Sabric.

Opleiding gedoen

“Ons maak vordering om bank- en finansiële misdaad in Suid-Afrika te beveg. Ons het meer as 900 polisielede en lede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor bankprodukte en verwante bewyse opgelei. In samewerking met die Valke het ons ook taakspanne in al die provinsies op die been gebring om die bedreiging van bankmisdade kragdadig te pak,” sê Mewalall.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Witwax ·

Dit is Afrika (Suid Afrika) hierdie, daar sal geen oplosing
wees nie.

domheks ·

In ons land VAT/GRYP jy wat jy wil he – hoekom werk om geld te verdien? Dan moet jy nog sweet ook somtyds van al die harde werk.

Francois ·

Ek hou van regte geld – sodat ek dit kan gebruik waar en hoe ek wil.
Dit help byvoorbeeld selde om geld in iemand in nood se rekening oor te plaas, aangesien dit gewoonlik dadelik ingesluk word deur die bank, en só nie die behoeftige se honger kan stil nie.

Ons land kort streng dissipline, en genadelose optrede teen skurke. Ek woon en werk tans in Oman, waar Suid-Afrika se tipe probleme ongehoord is.

Miskruier ·

Snert, vertel dit vir die ou tannie wat ek die laaste week help omdat sy al haar spaargeld maand vir maand verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.