Diplomate wat smokkel deel van ‘breër probleem’

Salba waarsku teen die voortgesette gevaar wat ‘n algehele verbod op drankverkope vir die bedryf inhou. (Argieffoto: SA Polisie)

Die drankbedryf het die regering se stappe teen die onwettige handel in alkohol verwelkom, maar weereens benadruk dat ʼn algehele verbodsbepaling op drankverkope aanleiding gee tot ʼn swartmark daarvoor.

Die Suid-Afrikaanse Drankhandelsnaamvereniging (Salba) het gereageer op berigte dat diplomate van onder meer Malawi en Lesotho daarvan beskuldig is dat hulle belastingvrye alkohol herverkoop het.

Verskeie diplomate van Malawi en Lesotho is verlede week 72 uur gegee om Suid-Afrika te verlaat omdat hulle die aksynsvrye drank verkoop het.

Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, sê die voorvalle bevestig weereens wat die drankbedryf uit die staanspoor sê: ʼn Verbod op drankverkope bevorder onwettige handel en ontneem die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die plaaslike bedryf van belasting en inkomste.

“Die onwettige handel moedig ook nienakoming van handelsvoorwaardes aan wat kan lei tot onverantwoordelike drankverbruik,” sê Moore.

Die onwettige verkoop van aksynsvrye alkohol deur diplomate het Suid-Afrika glo sowat R100 miljoen in belasting gekos. Diplomate het die voorreg om belastingvrye drank vir hul eie gebruik te koop, maar mag dit nie herverkoop of vir enige kommersiële rede gebruik nie.

Salba sê luidens ʼn verslag deur Euromonitor International oor onwettige drankverkope in Suid-Afrika wat verlede maand bekend gestel is, het die saamgestelde jaarlikse groeikoers vir die handel in onwettige drank met 17% sedert 2017 gegroei.

Dit staan nou op 12% van die algehele mark van R177,2 miljard en maak 22% van die mark se algehele volume uit.

“Die groei in onwettige handel het ʼn verwoestende maatskaplike uitwerking op burgers se gesondheid en welstand gehad, dit stuit ekonomiese herstel en vuur die enjin van georganiseerde misdaad aan,” sê Moore.

Salba sê hoewel die stappe verwelkom word wat die departement van internasionale betrekkinge en samewerkende regering (Dirco) teen die betrokke diplomate gedoen het, dui die verslag daarop dat die bedrag vir algehele onwettige handel op sowat R20 miljard staan.

Die vereniging sê voorvalle van smokkelary en nagemaakte alkohol is verantwoordelik vir 70% van die onwettige mark wat in die vraag na drank gaan voldoen solank verbodsbepalings ingestel word.

Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê die betrokkenheid van vooraanstaande mense dui op die winsgewende aard van die onwettige drankbedryf – iets wat deur die afsonderingstydperk vererger is.

“Wanneer formele verkope verban word, word onwettige dranksmokkelaars die enigste verskaffers aan die mark. Wanneer formele verkope heropen, onderkruip dit formele handelspryse omdat daar nie belasting op die produkte betaal word nie. Dit is gewoonlik sowat R74 per bottel spiritualieë,” sê Mngadi.

Salba sê die voorvalle soos dié waarby die diplomate betrokke was, dui op ʼn behoefte aan groter samewerking tussen die bedryf en wetstoepassingsowerhede om onwettige drankverkope en die smokkel daarvan te stuit.

Die vereniging sê hy steun steeds die president se ekonomiese groeiplan en dat die bedryf ʼn belangrike rol in dié groei én in werkskepping deur die waardeketting speel.

Salba sê dit kan egter net gedoen word in ʼn goed gereguleerde omgewing.

“Ons steun nie algehele verbodsbepalings op drankverkope wat tragiese en rampspoedige gevolge het nie. Dít terwyl alternatiewe, doeltreffende en geteikende ingrypings beskikbaar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piper ·

stop belasvrye drank verkope aan diplomate. hoekom moet nie landsburgers so n voordeel geniet.

Baardman ·

Verstom. Word hulle nie beperk op die aantal drank wat hulle mag koop nie. Jy kan mos werklik nie soveel drank vir eie gebruik koop sonder dat iemand onraad vermoed nie. Of is almal in die “ketting” korrup?

Persheks Adri ·

Hou vir kopdoek verantwoordelik sy’t mos begin met die snert en sy en haar kinders het hoeveel drank en sigarette verkoop toe inperking begin het? Ek keur nie dit goed nie nog minder drink ek, maar dis die waarheid!

Michal ·

dankie tog vir “diplomatic immunity” amper slaan ek nou sweet uit

Die Goodwoodianer ·

Salba se opmerkings maak sin maar die regering het aan die begin van die pandemie hul afgevee aan die gevare van die swartmark. Ons kan raai hoekom… Ek’s steeds vies oor die streng verbod op tabak-produkte vroeg in 2020. Dit het tot gevolg gehad dat die goeie “roast” sigarette (Gunston, Paul Revere ens) nie meer op die rakke is nie want dit het te duur vir die maatskappye geword om dit te vervaardig as gevolg van die verliese wat hulle gelei het tydens die verbod.

Ketting-reaksies van swak besluite. En dit was net één voorbeeld, die van die tabak.

Hoeveel méér skade aan ons ekonomie lê voor agv al die ander swak besluite wat die regering geneem het / gaan neem? Klein-sakeondernemings maak toe, terwyl sommige reuse net al groter raak. Daar is PnP besig om die grootste stoor in Afrika te bou, in die Noordelikes. In ñ manier is dit ñ goeie teken dat ons ekonomie wel groei maar die kleiner ouens en vrouens (besighede) trek swaar en raak al minder.

Oom Hennie Pennie ·

Gierigheid. Pure gierigheid geskep deur ondeurdende reels en wetgewing

Keith ·

Ek lag lekker. “Salba” probeer so hard om “nice” te wees, want hulle weet dat daar n klomp ANC kadres en ook mense in SAID is, wat met die bedrog betrokke is, hulle is net te bang om hulle name te noem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.