Dirco waarsku oor SA’ners in buitelandse weermagte

Israeliese weermagsvoertuie op die grens tussen Israel en Gaza. (Foto: Jack Guez/ AFP)

Die Suid-Afrikaanse regering is bekommerd oor berigte dat sommige Suid-Afrikaanse burgers en permanente inwoners hulle vanjaar by die Israeliese verdedigingsmagte (IDF) aangesluit het in die oorlog in Gaza en ander Palestynse gebiede, of dit oorweeg om aan te sluit.

Volgens die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) kan so ʼn stap lei tot die skending van internasionale reg en die pleeg van verdere internasionale misdade, asook tot vervolging van diegene betrokke in Suid-Afrika.

Dirco sê Suid-Afrikaanse regulasies bepaal dat enigiemand wat buitelandse militêre hulp in Israel wil verleen, eers by die nasionale konvensionele wapenbeheerkomitee (NCACC) moet aansoek doen. Dié komitee doen dan ʼn aanbeveling aan die minister van verdediging en militêre veterane dat so ʼn aansoek toegestaan ​​of geweier word, sê die departement.

“Enigiemand wat sonder die nodige toestemming van die NCACC by die IDF aansluit, oortree die wet en kan vervolg word.”

Daarbenewens bepaal die Wet op Suid-Afrikaanse burgerskap dat enigiemand wat Suid-Afrikaanse burgerskap deur naturalisasie verkry het, sy burgerskap kwyt sal wees mits hy of sy onder die vlag van ʼn ander land in ʼn oorlog betrokke raak wat Suid-Afrika nie steun of met sy standpunte saamstem nie.

“Suid-Afrikaanse burgers moet bewus wees van die gevolge van aansluiting by die IDF – of enige buitelandse gewapende magte – wat by konflikte betrokke is, met die oog op die voorkoming van onopsetlike aandadigheid aan internasionale misdade of oortredings van binnelandse wetgewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.