Dis Cele vs. Sitole in stryd om beheer van polisie

Bheki Cele, minister van polisie (links) en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof. (Foto: GCIS)

Die DA het pres. Cyril Ramaphosa se besluit om polisiehoof Khehla Sitole kennis te gee van sy voorneme om hom te skors verwelkom, terwyl die VF Plus sê die situasie – wat misdaadbestryding betref – is slegte nuus vir die polisie en vir gewone Suid-Afrikaners.

Die presidensie het Donderdag bevestig dat ʼn brief van Ramaphosa se voorneme om die generaal te skors op hom beteken is en dat Sitole reeds daarop gereageer het. Dit volg na ʼn hooggeregshofuitspraak vroeër vanjaar waarin regter Dennis Davis bevind het dat Sitole versuim het om met die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) saam te werk.

“Die stap deur die president is ʼn geleentheid vir hom om die polisiediens heeltemal op te ruim en ook van polisieminister Bheki Cele ontslae te raak,” sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie.

“Die president het hom wesenlik by die polisieminister geskaar in ʼn voortgesette twis met genl. Sitole wat die polisie lamgelê het.”

Dit is egter nie net Sitole wat die polisie in oneer gebring het nie, Cele moet ook die skuld kry vir die voortgesette wanfunksionering, sê Whitfield.

“Sitole se skorsing open die deur vir Cele om in wese die skadupolisiekommissaris te word. Dit is presies die soort beheer en mag wat hy nog altyd wou hê sedert hy onder ʼn wolk van omstredenheid deur oudpres. Jacob Zuma uit sy pos verwyder is.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, meen ook dat dit lyk of die verwikkeling die gevolg is van ʼn botsing tussen Cele en Sitole oor veral sleutelaanstellings in die polisie.

“Daar hang wel ’n wolk oor Sitole se kop aangaande ʼn hofuitspraak dat hy en ander senior offisiere die klassifikasie van dokumente as ‘rookskerm’ gebruik het om ongerymdhede rondom die aankoop van ’n selfoonsein-onderskepper toe te smeer.

“Dit sou nogtans jammer wees om ’n kommissaris met polisie-ervaring te verloor aangesien stabiliteit in die topbestuur van die polisie van die grootste belang is te midde van stygende misdaadvlakke in die land,” aldus Groenewald.

“Sedert 2000, met die aanstelling van Jackie Selebi, is elke polisiekommissaris in omstredenheid gedompel. Een van die grootste bydraende faktore hiervoor was omdat dit politieke aanstellings was van mense sonder enige polisie-ervaring.

“Selebi was ’n diplomaat, Cele ’n politikus en Riah Phiyega ’n maatskaplike werker. Nie een van hulle het enige ervaring gehad van die polisie nie. Dit het direk bygedra tot ’n verval in die polisie en ’n agteruitgang in misdaadbestryding. Eers teen einde November 2017 is ’n ervare polisielid, genl. Sitole, as nasionale kommissaris aangestel. Hy het toe reeds sowat 35 jaar ervaring in die polisie gehad.”

Groenewald meen dit sou jammer wees as persoonlike botsings en meningsverskille tussen die minister en die kommissaris hierdie onenigheid veroorsaak het. Dit moet so gou as moontlik opgeklaar word om weer stabiliteit in die polisie te bewerkstellig.

Die DA sê ook as Ramaphosa ernstig is daaroor om die polisie in ʼn gedemilitariseerde en professionele diens te verander, moet hy Cele sonder versuim die trekpas gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Johann ·

Mags spel tussen die ANC KADERS oor wie wat van wie weet. Ter wille van die ANC ten koste van n land en sy mense. ANC LEGACY van onbevoegde mags mal pêlle.

Kokerboom ·

Die Kommissaris behoort die HUB van die Dept te wees MET behoorlike opleiding en kennis…Nie soos nou! EN die Minister is slegs die politieke hoof en mag nie in bedryfsake van Dept inmeng tensy wanbestuur. Die Cele kader se arrogansie ken geen perke. Beide in die geval moet waai. Cele se onvermoeë skrei ten hemele en hy is ‘n “disgrace” vir land

Dup ·

As jy NARRE in poste aanstel dan sal jou land in ñ sirkus verander.Suid Afrika is n sprekende voorbeeld hiervan.

Jedi Knight ·

Tydens die NP bewind was Roelf Meyer minister van verdediging. Ook met geen militêre ondervinding nie. Hy was darem n kanarie tydens sy diensplig.

Dries ·

Maar Roelf wou nie mag hê nie hy WOU en HET dit vir die kriminele gegee

Joe Olivier ·

En kon die kanarie sing toe ramaphosa hom by kodesa druk.

KB ·

Miskien moet Cele én Sithole albei liewers bedank.
Hulle gedra hulle soos laerskool kinders. Nie een van die twee is hierdie posisies/poste werd nie.

Jack ·

Mag cele so gou moontlik waai. Daar is genoeg top manne wat wag. Ook wittes

annie ·

Wie is aan die kant van Cyril en wie ondersteun Zuma… En wie maak of hy wie steun? Cyril regeer met sy hande gebind. Inderwaarheid is hy dalk eintlik die een onder ‘arres’ en Zuma vry soos ‘n otjie in Palestina. Looters en liars regeer en Cele is ons fancy face omie wat snags sy beauty sleep moet inkry. CR regeer soos iemand voorgeskryf wie mag bly en wie moet gaan. Is ons land onder beleg?

Stephen ·

If Cele was one notch up on the intelligence scale he could be classified as an idiot.

Elize ·

Raak van albei ontslae. Veral Cele beteken niks vir hierdieland nie.

Mariana ·

Nie een van hulle hoort enigsins in hierdie poste te wees nie. Cele het homself al oor en oor bewys as lamsakkig en onbetroubaar. Hy moes nooit minister gewees het nie, geen intergriteit nie. Kyk hoe lyk die SAPD onder sy beheer. Hulle altwee moet die trekpas kry.

Swerwer ·

“Praat maar, ek luistr, ek weet julle kan niks aan my doen nie, lankal ondergrondse beplanning gedoen”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.