Dis nóú tyd vir self-isolasie, maar nie vir paniek nie

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Die nuwe koronavirus (Covid-19) kruip al nader aan ons elkeen se dorp, woonbuurt en huis, en beroepe word uit alle oorde op mense gedoen om self-isolasie toe te pas.

Studies oor strategieë wat gevolg is in lande waar die virus reeds ʼn draaipunt bereik het, toon dat self-isolasie in ʼn vroeë stadium van die virus se verspreiding een van die beste metodes is om die verspreidingskurwe te laat afplat. Dit is nie ʼn maatreël wat deur die regering of president ingestel is nie, maar is wel die beste maatreël wat enige verantwoordelike Suid-Afrikaner kan volg.

Maar wat presies behels self-isolasie? Hier is antwoorde op die tien algemeenste vrae hieroor.

  1. Wat is self-isolasie?

Self-isolasie beteken dat jy jou en jou huishouding moet voorberei om vir ʼn tydperk van sowat 14 dae in afsondering in julle huis te kan funksioneer met die minimum kontak met ander mense. Jy en jou gesin behoort die situasie in die land deurlopend te herevalueer om ʼn ingeligte besluit te neem oor of verdere self-isolasie nodig is. “Elke stap wat jy doen om kontak met ander mense te vermy, is ʼn stap wat moontlik ʼn lewe kan red,” sê Carolyn Cannuscio, ʼn sosiale epidemioloog aan die University of Penns, in ʼn onlangse video oor sosiale distansiëring.

  1. Wanneer behoort ek self-isolasie vir my en my gesin in te stel?

Onmiddellik, indien moontlik; anders, so gou moontlik. Moenie uitstel nie.

  1. Waarom is self-isolasie belangrik?

Hoewel sowat 80% mense wat Covid-19 opdoen nie ernstig siek word daarvan nie, is die risiko dat dit oorgedra kan word na iemand wat weens ʼn swak immuniteitstelsel of onderliggende siektetoestand wél ernstig siek kan word of selfs kan sterf, baie groot indien jy nie self-isolasie toepas nie. Jy doen dit dus nie vir jouself en vir jou gesin nie, maar vir die gemeenskap om jou.

  1. Hoekom is self-isolasie in Suid-Afrika van besondere belang?

Suid-Afrika se bevolking is besonder vatbaar vir virusse soos die koronavirus omdat die persentasie mense met gesondheidstoestande soos TB en MIV baie hoog is. Weens armoede en werkloosheid leef miljoene mense in nou ruimtes met gebrekkige higiënemaatreëls met mekaar saam. Bejaardes in veral aftreeoorde – waar hulle mekaar maklik kan aansteek – is ook besonder vatbaar vir die virus indien hulle in aanraking kom met iemand wat dit oordra. Boonop is die seisoen aan’t draai, en kouer weerstoestande kan mense verder vatbaar maak vir die virus. Weer eens – jy kies nie self-isolasie vir jouself nie, maar vir die gemeenskap rondom jou.

  1. Beteken dit ek moet vir 14 dae in my huis sit sonder om uit te gaan?

Nee – dit beteken wel dat jy dit tot die absolute minimum beperk. Sorg dat jy basiese noodsaaklikhede in die huis het vir minstens twee weke, sodat jy nie nodig het om winkel toe te gaan nie. Wanneer jy wel items benodig, maak ʼn lysie, en besoek die winkels wanneer jy baie items nodig het. Enige besoeke aan openbare omgewings soos winkelsentrums wat nie dringend noodsaaklik is nie, behoort uitgestel te word. Wanneer jy wel ʼn winkel besoek, maak seker dat jy alle voorgeskrewe maatreëls volg.

  1. Kan ek saam met vriende kuier wat gesond is?

Nee. Mense kan Covid-19 onder lede hê sonder om dit te weet – die simptome vir ʼn gesonde, sterk persoon is soortgelyk aan dié van ʼn effense verkoue.

  1. Kan ek werk toe gaan?

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Werknemers behoort saam te staan en ʼn beroep op hul werkgewers te doen om hulle in die volgende paar dae in staat te stel om van die huis af te werk. ʼn Werksomgewing bring mense uit ʼn groot verskeidenheid gemeenskappe saam in een plek, waar ruimtes soos kombuise, kleedkamers en werkoppervlakke gedeel word. Baie werknemers maak gebruik van openbare vervoer om by die werk te kom, wat ʼn verdere risiko vir die verspreiding van die virus inhou.

Die frustrasies en verliese wat werkgewers gaan ly weens ʼn korttermyn-maatreël om personeel van die huis af te laat werk, is beduidend kleiner as die verliese wat gely gaan word indien Covid-19 handuit ruk in Suid-Afrika. Klik hier om ʼn artikel te lees en na ʼn podsending te luister waarin Maroela Media met ʼn aantal kenners gesels oor wat jou as werknemer se regte tydens die Covid-19-pandemie is.

Natuurlik is daar talle mense vir wie dit nie so eenvoudig is nie omdat hulle nie ʼn inkomste verdien as hulle nie opdaag vir werk nie, en vir wie werk van die huis af nie ʼn opsie is nie. Sien om na dié om jou, soos jou huishulp – dis nou tyd vir medemenslikheid.

  1. Kan ek my huis verlaat?

Ja, dis belangrik vir jou en jou gesin se gesondheid en psigiese welstand dat julle wel die huis verlaat. Gebruik die tyd om buite te kuier. Ons het in Suid-Afrika die sonderlinge voorreg dat dit nog warm en sonnig is. Slegs tien minute lange regstreekse blootstelling aan sonlig per dag is voldoende vir ʼn volwassene se daaglikse vitamien D-behoeftes, en vitamien D speel ʼn groot rol in ʼn gesonde gemoedstoestand. Werk en kuier as gesin saam in die tuin of gaan stap – behou net ʼn afstand van ander stappers. Probeer ook om in die natuur tyd deur te bring – gaan stap op die strand of in ʼn reservaat, veral vroeg soggens wanneer die kans dat jy ander mense gaan teëkom, skraal is.

  1. Wat behoort ek aan te koop voor ek en my gesin ons self isoleer?

Moenie oorboord gaan nie. Koop slegs wat julle nodig het vir sowat twee weke; onthou dat jy wel die winkels sal kan besoek vir noodsaaklikhede. Indien jy paniekaankope doen, veroorsaak jy (en talle ander saam met jou) dat daar onnodige druk op winkels en winkelpersoneel is om rakke vol te hou en voorraad doeltreffend te bestuur. Koop net wat jy nodig het, ter wille van die gemeenskap om jou. Sorg dat jy genoeg vars produkte en ander gesonde produkte het om jou gesin gesond te hou en hul immuniteit te beskerm.

  1. Watter voorsorgmaatreëls moet ek tref wanneer ek wel moet uitgaan?
  • Dis nie nodig om ʼn masker te dra nie, tensy jy reeds positief getoets is vir Covid-19 – jy dra die masker om te keer dat jy ander aansteek, nie om te keer dat ander jou aansteek nie. Klik hier vir riglyne oor die korrekte gebruik van ʼn masker.
  • Die virus kan deur oppervlakke oorgedra word, en dis onmoontlik om te weet waar die virus voorkom. Was of reinig dus jou hande voor jy die winkel binnegaan, vermy kontak met jou gesig terwyl jy in die winkel is, en reinig weer jou hande wanneer jy die winkel verlaat en sodra jy tuiskom.
  • Behou ʼn afstand van minstens twee meter (verkieslik meer) van ander mense in die openbaar.
  • Vermy kontak met oppervlakke soos deurhandvatsels, toonbanke, die sleutelbord van kaartmasjiene, ensovoorts sover moontlik. Reinig jou hande indien jy sulke kontak gehad het.
  • Vermy kontak met ander mense se hande.

Moenie later spyt wees nie – ons elkeen het ʼn dringende, lewensnoodsaaklike rol te speel om die verdere verspreiding van die korona-virus te bekamp.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Louis ·

Ek kan rerig nie verstaan hoekom ons mense nog so n “no care” houding het nie. Hierdie virus gaan nog baie erger raak. Kyk bietjie op Euronews hoe dit in Italie lyk. Dis n “eye opener”…..Mense gaan nog op boot trips, beplan vakansies ens. Dis asof ons dink ons is ver en nie in gevaar nie. Mens wil nie paniekerig raak nie, maar ek dink rerig mense moet wakker word en meer begin doen. Ek weet voorraad van alles is alreeeds n probleem, maar as ek die regering was sou ek ten minste maskers al verpligtend gemaak het. Rather safe than sorry.

werner ·

Dit is die beste om die virus te beveg self isolasie vir twee tot drie weke ,waar is die politieke leiers waarom plaas hulle nie druk op die president nie,suid afrika het baie kroniese siekte leieres wat as daar n uitbreek op groot skaal begin elke dag is daar nuwe gevalle van orals waarvan ons weet,wat van die mense in afgelee gebiede wat na tradisionele dokters gaan in plaas van mediese gekwalifiseerde mediese personeel,dat n inpak op die ekonomie gaan he definitief dat mense gaan swaar ky is so,ons kry reeds swaar in alle gebiede,beter om nou swaarder te kry as om familie lede te verloor deur n president wat nie sy gesonde verstand gebruik en doen wat reg is nie,nee ek dink ons word weereens te na gekom deur leiers wat gekies is deur die mense vir die veiligheid van mense wat van die oumense en kinders ,nee die president moet wakker skrik en die regte besluit neem

Johan Venter ·

Louis, ek stem, ek het juis vanoggend ‘n stuk in die verband geskryf om aan Maroela te stuur, toe los ek dit liewer. Dis natuurlik lewensnoodsaaklik dat ons met die krisis ingelig bly, die media moet ons net nie te veel bombardeer nie, elke rubriekskrywer en berig wil dat dit oor die virus gaan. Ek voel al klaar die beklemming, soos ‘n oordeelsdag wat onafwendbaar nader sluip, sukkel amper om asem te kry, en dis nog maar die begin van die virus in die land.

Dis reg en verantwoordelike om mense ingelig te hou, maar die media, ook Maroela moet die lesers nie in ‘n siektetoestand en depressie in skryf nie. Al wat finansiële instansie is gooi mens toe met e-posse, afdelingswinkels, mens kan nie Google News oopmaak nie of dis net Karona, enige nuuswebwerf. Hier in SA is dit nou ‘n week na Cyril Ramaphosa maatreëls afgekondig het.

Veral diegene wat nie werk het nie, daagliks werk toe gaan nie, maar tuis deurbring, sal iets konstruktiefs moet kry om hul mee besig te hou.

Anel ·

Ek kan nie die histerie verstaan nie. Mense kry griep en al hierdie gewone siektes in die winter. Ons winter het nog nie begin nie en die mense is al histeries. Wat gaan gebeur as dit hier winter is? Meer mense gaan doodgaan van paranoïa en heserie as van die vitus. Man, ad ju olik voel klim in die bed, drink gemmer, suurlemoensap en heuning en sweet dit vir paar dae uit. Drink dan maar ook hoesstroop. Dis ‘n virus. Nie ‘n bakterie nie. Medisyne maak dit nie dood nie. Gaan ons nou tot September od wanneer ookal in afsondering moet bly? Asseblief, en ek is ook nie meer jonk nie en het kanker. Maar genade, geen mens kan so paranoïs wees nie. Geloof en vertoue. So stenig my maar.

Cherokee ·

Dankie tog vir ‘n positiewe skrywe na al die paranoia.

Elsabie ·

Die probleem is dat ek nie van die huis af kan werk nie. Ek werk by ‘n vakansie-oord en kan nie gaste bedien vanaf die huis nie. So nie almal is so gelukkig om van die huis af te werk nie. En om die vakansie-oord toe te maak sal nie moontlik wees nie, hoeveel rande sal nie verloor word nie? Hoe word ons salarisse betaal as die mense nie die oorde besoek nie? Sover is ons nog gelukkig en niemand het gekanselleer nie. Maar ook kwesbaar om die virus op te doen.

Africangrey ·

Natuurlik moet mens Alle vakansie plekke en restourante toemaak, ook n kroeg, diaco fliek, ALLES, en ja, mens gaan geld verloor, maar weeg dit op teen verlore lewens? Hier by ons is alles gesluit, Ek bly in Nederland, glo my, hier is duisende mense besmet, maar op die nuus gister sê hulle mos net verby 3000, by julle is daar ook reeds BAIE besmet, maar by BAIE mense is die ongerief so min dat hulle nie bewus is daarvan nie. Maar hulle besmet wel swakker of ou mense, bly binne, en gee om vir julle medemense……

DieKriek ·

Mense dink altyd hulle weet beter; geen salf te smeer nie. Op FB is n vrou wat vra waar al die maskers is want sy is die enigste in die sentrum met een op. Later blyk dit dat sy vermoed het sy is aangesteek en het op die uitslag gewag terwyl sy in die winkels rondgeloop het. Die toets was negatief. Wat as dit nie was nie? Nee, ek dink nie maatreëls gaan werk nie.

Anoniem ·

Kyk dit is nou goeie wenke maar kan dit werk. Ek het net verlede week gese hoe ek of my vrou moet uitgaan o. Brood en melk te koop met n verkoue wat deur my dr waargeneem is toe word ons gekruisig. Nou se die wenk jy moet so bietjie bene rek en jy sal kan winkel toe gaan maar een wat my nou opval en waarmee ek nou nie lekker saamstem is daai een van gaan loop op die strand of in n natuur reservaat vroeg oggend. SA is bekend vir geweld en moorde en dit is die regte tyd om dit te doen alleen vroegoggend neewat vat dan maar liewers die kans met die griep of vermy alle plekke. Koop jou trollie vol en bly in jou huis.

Vlekkie ·

Maroela… met nr 10 stem ek nou nie heeltemal saam nie… dra slegs n masker as JY siek is?? Aikona! Dra n masker sodat n ou wat langs jou praat of nies se kieme nie op jou land nie!

Niné ·

Sy kieme land op jou klerasie, hare ens.. en jy vat daaraan……en tjoef tjaf, daar het jy die virus.

Jan ·

As die virus so erg is hoekom is daar geen begrafnisse nie…nee wat mense julle glo alweer al die politici se bangmaakstories…

Alida ·

Wat help al die maatreels en gehamer oor handewas as 40% van die mense nie eers lopende water het nie. Wonder wie se skuld is dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.