Dís wat TLU in begroting wil sien

(Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Kommersiële boere is van onskatbare waarde vir Suid-Afrika en dié waarde moet dus ook in die regering se begroting vir die komende boekjaar weerspieël word, aldus TLU SA.

Om die landbougemeenskap te ondersteun en bevorder, stel die landbouorganisasie onder meer voor dat belastingvoordele, geld vir noodgevalle en belangrike infrastruktuur, meer hulpbronne aan die polisie en dies meer ingereken word wanneer die regering sy begroting opstel.

As deel van sy pleidooi het TLU SA ʼn skrywe aan die minister van finansies, Enoch Godongwana, gerig om sake wat “lewensbelangrik is vir volhoubare voedselvoorsiening” onder sy aandag te bring.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dié brief beklemtoon die feit dat kos op die tafel die belangrikste stabiliserende faktor in Suid-Afrika is.

“Gegewe dat ongeveer 68% van die land se inwoners in stede woon, kan die regering nie anders nie as om te besef dat kommersiële landbouers inderdaad Suid-Afrika se grootste bate is en dus gekoester moet word.

“Die hartseer kwessie is dat hulp deurentyd, onder die boeg van landbouhulp, afgewentel word aan diegene wat ongeveer 3% van die land se voedsel produseer. Die kommersiële sektor, wat boere van alle geslagte en rasse insluit, ontvang bykans geen hulp in tye van nood nie,” het Van Zyl Maandag gesê.

In sy skrywe het TLU SA die volgende sake uitgelig wat die regering by die opstel van sy begroting moet oorweeg:

  • ʼn Voorstel dat kommersiële boere in goeie jare winste belastingvry kan spaar om sodoende in tye van verliese steeds in produksie te kan bly.
  • Paaie, spoorlyne, kommunikasiestelsels en kragvoorsiening moet dringend aandag kry, aangesien Suid-Afrika se infrastruktuur só verval het dat produksie- en verspreidingsprosesse nadelig beïnvloed word. TLU SA sê dit word al hoe moeiliker om produkte by markte en hawens te kry.
  • Die polisie moet met die nodige toerusting en opleiding bemagtig word om hul werk behoorlik te doen en moet gesuiwer word van korrupte lede om mense se vertroue te herwin, aangesien groot kommer oor veiligheid in veral landelike omgewings en op plase heers.
  • Landbouers is blootgestel aan rampe soos vloede, droogtes, brande en veesiekte-uitbrekings en daarom moet daar beter voorsiening gemaak word om in sulke tye hulp vinnig en doeltreffend aan landbouers te gee.
  • Indien siektes soos bek-en-klouseer of voëlgriep uitbreek, moet die nodige bemagtiging in plek wees sodat die staat sy pligte doeltreffend kan nakom.
  • Doeltreffende gehalte-opleiding is van sleutelbelang en derhalwe moet onderwysstandaarde met rasse skrede verbeter.

Van Zyl sê voorts elemente wat ekonomiese groei in die land bewerkstellig, moet deurgaans die prioriteit wees wanneer die begroting opgestel word.

“Suid-Afrika beleef uiters swak ekonomiese groei. Al hoe minder buitelandse beleggings word in ons land gedoen. Die elemente wat ekonomiese groei sal bewerkstellig, behoort die minister se kernfokus te wees, en die belangrikste aspek wat die begroting moet aanpak, is aansporingsmaatreëls wat groei sal aanmoedig,” het Van Zyl gesê.

“Korrupsie in al sy vorme moet sonder aansien des persoons uitgeroei word voordat ʼn begroting, wat veronderstel is om tot voordeel van die land se mense aangewend te word, van enige waarde sal wees. Al die tyd, moeite en kundigheid wat gebruik word om ʼn deeglike begroting saam te stel, sal van nul en gener waarde wees indien die belastingbetaler se geld steeds in die sakke van korrupte amptenare verdwyn.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Grassie ·

Ek stem saam met die TLU oor wat benodig word maar dit bly tog net ‘n droom. Die ANC-regering is tot niks goeds in staat nie, al wat hulle verstaan is korrupsie en eiebelang.

Willem ·

Ek will ok graag wanneer ek in goeie jaar n bonus kry dit belastingvry ontvang sodat ek dit kan spaar vir slegter jare wanneer daar nie bonusse betaal word nie. Watse snert is dit?

Jacobus ·

Die boere sal moet begin besef dat elke boer op homself en sy nabye boere en omgewing is. Vergeet van hierdie anc regime en staan saam en maak alternatiewe planne.

Gaitsigubib ·

Willem in jou bedryf, beplan jy net om moeilike ekonomise omstandighede tebowe te kom of moet jy ook beplan vir ongunstige wetgewing, maar veral ook vir droogtes en abnomale weer? Onthou asb dat, wanneer n Zimbabwe situasie hier ontvou, kry alle industrie in plattelandse dorpe baie swaar, dan volg die stede en dan begin manne soos jy hul tasse pak vir die buiteland. Wat word egter van die wat nie dieselfde opsies het nie?

Willem ·

Gaitsifubib. Eerstens praat ek sonder pm my naam weg te steek. Tweedens is ek in die kommoditeits bedryf en verstaan ek baie goed dat bykans alle noodsaaklike landbou produkte vandag n kommoditeit is wat globaal verhandel. So graan in Rsa word op invoerpariteits beginsels geprys. Plaaslike tekorte het dus n weglaatbare invloed op prys. Verwys maar na euforie op hierdie selfde webwerf oor vleis wat nou na UAE en Rooibos na China toe. Sê jy bir my watter persentasie van daardie dollar inkomste bly oorsee in die produsent se “ bemarkings” rekening ?

Gaitsigubib ·

Meer eenvoudig gestel; “as boere te veel vir hul graan sou wou he dan het die regering ingevoer” en as hul meer kon kry vir uitvoer, sou dit kastig beteken die prys moet plaaslik aangepas word. Die Boere kom egter altyd kort. Elke produk en elke land het sy eie reels en dit verander van tyd tot tyd. Ek kan sien dat Boere wereld wyd tans die teiken is van Bill Gates en Klaus Schwab se obskure agenda, maar in SA is omstandighede wat bykomend is, soos ons uiters gevaarlike omgewing, die feit dat niks gesubsideer word nie, hawens wat nie behoorlik funksioneer nie en ander infrastruktuur verval, maar ons moet internasionaal kompeteer, soos jyself erken. Soos ek al tevore gese het, in 1980 was daar 100000 boere maar nou is daar net 46000. Jongmense verlaat die bedryf vanwee die regering se vyandigheid. As die wal eers gebreek het gaan jy wil emigreer. Jy kan my maar glo, want dit is presies wat in Zimbabwe gebeur het. Om jou vraag te antwoord, as jy ‘n uitvoerder gebruik kry hy so 7% van die produk wat jy uitvoer. Die vrye mark en vrye handel is die model waarna mens sou strewe as kommunisme nie vir jou n aanvaarbare opsie sou wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.