Discovery waarsku oor ‘dodelike’ derde virusgolf

(Foto: pixabay)

Discovery se mediese fonds waarsku indien versigtigheid nie aan die dag gelê word nie, Suid-Afrika nes Europa binnekort  ʼn derde golf van infeksies kan beleef, wat derduisende bykomende sterftes tot gevolg kan hê.

Volgens Nthabiseng Chapeshamano, reputasiebestuurder by Discovery Limited, het Discovery met behulp van aktuariële ontledings die waarskynlikheid en impak van ʼn derde golf voorspel deur drie scenario’s uiteen te sit. Na aanleiding hiervan het die mediese fonds gesê Suid-Afrikaners se gedrag in die volgende paar weke sal deurslaggewend wees om te verhoed dat ʼn derde virusgolf talle lewens eis.

In die eerste scenario word ʼn derde golf voorkom deur superverspreidingsgeleenthede te vermy, goeie higiëne te handhaaf en maskers te dra. “Só hou Suid-Afrika aan om laer infeksiesyfers te sien en is daar slegs 9 000 nuwe Covid-19-verwante sterftes tot die einde van die jaar.”

Die tweede scenario is minder rooskleurig. Hiervolgens sal ʼn derde golf so vroeg as April voorkom en in Junie of Julie ʼn hoogtepunt bereik. In dié tydperk kan die land ʼn bykomende 76 000 Covid-19-verwante sterftes sien. “Volgens dié scenario sal superverspreidergeleenthede tydens Paasfees die aantal infeksies die hoogte in laat skiet en talle mense kan vir ʼn tweede keer die koronavirus opdoen.” Volgens die versekeraar sal die derde golf waarskynlik groter as die eerste, maar nie so groot soos die tweede golf wees nie.

Volgens die derde scenario sal 35 000 mense voor die einde van die jaar hul lewens aan Covid-19 verloor. Die inenting van hoërisikogroepe in April sal egter hoër vlakke van kudde-immuniteit en ʼn laer koers van Covid-19-gevalle en -sterftes tot gevolg hê. “Indien die entstofprogram vertraag word en daar enkele superverspreidingsgeleenthede tydens Paasfees is, kan sterftes tot 58 000 toeneem.”

Discovery meen daar is ʼn aantal faktore wat bepaal watter scenario binnekort Suid-Afrika se realiteit sal wees.

Volgens dié mediese fonds kan inwoners nie slap lê wanneer afsonderingsregulasies verslap word nie. “Totdat die entstofplan van stapel gestuur is en ons immuniteit verwerf het, moet ons nooit aanneem dat dit veilig is om al die maatreëls te verontagsaam nie,” sê Chapeshamano.

Discovery waarsku ook dat superverspreidingsgeleenthede, veral in die aand, vermy moet word. Volgens Vitality Drive se opsporingsdata het Suid-Afrikaners weke voor die tweede golf saans baie meer sosiaal verkeer. “Ons data wys dat mense landswyd enkele weke voor die uitbreek van die tweede golf weer verval het in sosiale gewoontes soortgelyk aan die tyd voor die koronavirus in Suid-Afrika aangemeld is.

“Ons weet nou dat die tweede golf hoofsaaklik deur sosiale byeenkomste tydens die Desembervakansie aangevuur is, veral in KwaZulu-Natal. Veral matriekvakansies het ʼn toename van 27% in die infeksiekoers onder jongmense gehad.”

Tesame hiermee waarsku Discovery dat die mutasie van die koronavirus ook die doeltreffendheid van die entstowwe beïnvloed. “Die voorkoming van die virale verspreiding tussen mense, beperk die moontlikheid dat die virus muteer en beskerm ons ook teen nuwe en hoogs aansteeklike variante wat nog nie gedokumenteer is nie.”

Laastens beveel die groep aan dat die entstofprogram so vinnig moontlik geïmplementeer word. “Ondanks die ingewikkeldheid en omvang van die nasionale Covid-19-entstofprogram, moet ons eenvoudig so vinnig moontlik beweeg om alle Suid-Afrikaners in te ent, veral diegene met ʼn hoë risiko,” sê Chapeshamano.

“Dit is in ons hande om ander mense se lewens te red. Ons gedrag is bepalend van watter scenario Suid-Afrika uiteindelik sal ervaar. Die lewensverlies wat in scenario’s twee en drie beskryf word, is verwoestend. Suid-Afrikaners moet nou meer as ooit saam werk om die eerste scenario ons realiteit te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

JohanR ·

Wat soek julle nou al weer Discovery? Daar is niks wat ons aan die saak kan doen behalwe distansie hou, masker dra en SANITISEER. Ons het ‘n useless goverment wat soe ver 0.3% van sy mense ingeent het teenoor die voorste land Israel, teen 58%. My gooiste ANC maar daai Jode is darem goed!

Samuel ·

Is dit net nog ‘n bangmaakstorie?? Waar kry die aktuaris die data vandaan? Waarom doen Discovery nie iets vir sy lede nie.

Johan ·

So bly eks weg by daai klomp…hulle het net nie n idee nie. Verkoop nou weer vrees, mense begin darem stadig maar seker agterkom hoe daar vir ons gelieg word. Regulasies maak BAIE meer mense dood as wat die virus kon, en dit word aangevuur deur organisasies soos Discovery wat BAIE geld daaruit maak. 35k hul lewens verloor…ja goed, maar hoeveel gaan dood omdat hul nie kos het nie agv jul regulasies! Nou gryp almal na n entstof, los dit net, ons sal okay wees.

Joe Olivier ·

Ek voorspel dit kan moontlik môre reën. ‘ n tweede scenario is dat dit defnitief gaan reën en dan is daar ‘n derde scenario dat dit glad nie gaan reën nie. Hel, en ek is nie eers ‘n aktuaris of ‘n weervoorspeller nie.

Deon ·

Hierdie virusse gesels met die eksperts, ek het tot al gehoor van n golf en n half, dan ook golf so en so nommer gaan so en so tyd hier wees.

Excalibur ·

Die naam “Discovery” se dit alles! Net jammer die inligting is niks nuut nie want die oorsaak is alreeds ontdek en bevestig en dat goeie gesonde higiene voorkomend is met ‘n titsel “social distance”. Dettol se dit al jare!

Pieter ·

Die aanvanklike Covid-19 scenarios van 2020 is verkeerd bewys, die ernstigheid is veel minder as voorspel. Die ekonomiese skade veel groter.

KB ·

Ag asseblief, Discovery…
Kry net jou imuunstelsel in plek (veral Vitamiene D) en drink sommer jou Vitamiene B-kompleks vir daai onnodige stres/spanning agvd emosionele uitlatings van sogenaamde “kenners”.

Robert ·

Nee, D, dit is bewys dat ‘n tekort daaraan you immuunstelesel verswak.

Janman ·

Ek voorspel ons gaan dalk doodgaan aan Covid. Anders gaan ons dit oorleef.

Jan ·

Opeenvolgende “golwe” word deur die inperkingsmaatreëls gedryf, nie deur die virus nie. Dít is ‘n wetenskaplike bevinding deur die hoogaangeskrewe navorsers by Pandata.

Johan ·

Uit hul duime…dan spin hul dis vir almal wat reeds in paniek is.

Anoniem ·

Ek ontken geensins dat Covid 19 bestaan of dodelik is nie, maar het tog ‘n paar lastige vrae. 1. Wat het van 2020 se gewone seisoenale griep geword waaraan duisende mense jaarliks sterf? 2. Wat het van 2020 en 2021 se griep inspuiting geword wat voorheen jaarliks beskikbaar was, maar sederdien nie meer beskikbaar is nie? 3. Hoeveel mense het gedurende 2020 aan TB en Vigs gesterf, wat nou alles as Covid 19 verwante sterftes aangemeld word? 4. Gee asseblief vir ons die getalle en verskille tussen al die griep verwante sterftes van 2019 en 2020 en vergelyk dit met mekaar. 5. Hoveel meer mense is in 2020 aan griep verwante oorsake oorlede? Ek glo nie ons sal ooit daardie antwoord kry nie, dis groot geheime.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.