Dissiplinêre stappe teen prof geëis ná hondeuitlatings

Prof. Jonathan Jansen. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Raadslede van die Universiteit Stellenbosch (US) versoek nou dat prof. Jonathan Jansen aan dissiplinêre stappe onderwerp word vir sy verwysing na wit manstudente as “honde”.

Adv. Jan Heunis SC, raadslid en president van die konvokasie van die US, het in ʼn skrywe aan prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, sy besware bekend gemaak.

“Hiermee versoek ek u vriendelik om onverwyld dissiplinêre stappe teen prof. Jansen in te stel, aangesien sy opmerkings prima facie ongegrond, rassisties, van alle waarheid ontbloot en erg verdelend is,” skryf hy.

Ander raadslede soos dr. Leon Schreiber, Danie Rossouw en Willem Liebenberg het in dieselfde brief beswaar aangeteken.

Heunis vra dat daar by die volgende raadsvergadering, wat op 28 November plaasvind, ʼn aanduiding gegee word of sodanige dissiplinêre stappe onderweg is.

Jansen is sedert 2017 werksaam by die US en is ʼn professor in die Fakulteit Opvoedkunde waar hy navorsing oor skoolbeheer, bestuur, leierskap en beleid onderneem het.

Jansen het in ʼn rubriek, wat vroeër vandeesweek in TimesLive gepubliseer is, ʼn vergelyking tussen honde wat ʼn gebied met urine merk en die optrede van manstudente aan die US getref.

Hy het geskryf “nes honde urine gebruik om hul grondgebied en angs te merk, gebruik wit manstudente dieselfde strategie om teen swart instroming in hul intieme ruimtes, soos koshuise, te protesteer”.

Dié stelling het skerp kritiek gelok en daartoe gelei dat die burgerregteorganisasie Kaapse Forum die Menseregtekommissie (MRK) genader het om die saak te ondersoek en op te tree “indien die kommissie ook hierdie kommentaar as onmenslik, haatlik en kwetsend beskou”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JM ·

‘n Vrye sê oor almal en ‘n rassis by uitstek. Mag hy deeglik in die bek geruk word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.