MRK genader oor prof wat wit studente ‘honde’ noem

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. (Foto: SA Human Rights Commission/Facebook)

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het die Menseregtekommissie (MRK) genader nadat ʼn professor glo na wit manstudente as “honde” verwys het.

Prof. Jonathan Jansen het in ʼn rubriek vir TimesLive ʼn vergelyking tussen honde wat ʼn gebied met urine merk en die optrede van manstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) getref.

Die rubriek, getitel “Why Stellies racists behave like animals: last kicks of a dying horse”, is geskryf in reaksie op die afgetrede regter Sisi Khampepe se kommissie van ondersoek na bewerings van rassisme aan die US.

Die kommissie is van stapel gestuur nadat Theuns du Toit van rassisme beskuldig is oor hy op die lessenaar en skootrekenaar van ʼn ander student aan die koshuis Huis Marais geürineer het. Du Toit is intussen skuldig bevind aan wangedrag en is uit die universiteit geskors.

Intussen is eenderse voorvalle ook in koshuise aan die US aangemeld.

Jansen bied sy siening oor die oorsaak van hierdie soort voorvalle aan die US en ʼn voorval wat jare vantevore by die Universiteit van die Vrystaat, terwyl hy as die instelling se visekanselier en rektor gedien het, plaasgevind het.

Jansen skryf in sy rubriek dat die rede waarom die beweerde rassistiese voorvalle almal mans en urine betrek, is omdat “nes honde urine gebruik om hul grondgebied en angs te merk, gebruik wit manstudente dieselfde strategie om teen swart instroming in hul intieme ruimtes, soos koshuise, te protesteer”.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê die vergelyking is “ongevraagd, opruiend en beledigend”.

“Die geskiedenis het ons geleer van die gevaar om lede van ʼn sekere gemeenskap, etniese of kulturele groep as ʼn soort dier of insek te etiketteer, of dit nou die Suid-Afrikaanse Penny Sparrow is wat swart burgers ‘ape’ noem of ʼn Rwandese politikus wat na Tutsi’s as ‘kakkerlakke’ verwys wat bygedra het tot die voorkoms van volksmoord in 1994 in sy land.”

Volgens Wyngaard lewer Jansen se opmerkings geen opbouende bydrae om rassistiese optrede in ons demokratiese samelewing te ontwortel nie.

Kaapse Forum het Donderdag die klag by die MRK ingedien om die saak te ondersoek. Kaapse Forum hoop vir optrede van die MRK “indien die kommissie ook hierdie kommentaar as onmenslik, haatlik en kwetsend beskou”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Goldy ·

Hierdie ou se grade moet ondersoek word, hy tree gladnie wys eers in sy eie belang op nie.

Nick ·

Hierdie is dieselfde ou wat destyds loop en vertel dat Malema inteligent is. Shame. Hy wil ook maar relevant probeer wees.

H.A. ·

Ja ons tree soos honde op. Ons blankes word dan so behandel in die land.

Frank ·

Sjoe, hoe skielik het my jarelange opinie nie nou van Jansen verander nie.
Maar net nog ‘n outjie met ‘n ou chippy op die skouer, spoke wat hom jaag… Shame, man!!!

Prikkie ·

Mooi Heinrich! Jy is nie bang om jou man te staan en die waarheid te praat nie.

Doen so voort!

Felix ·

As ‘n swart man ‘n MVO maak agv te veel alkohol en slegs wit mense is dood,was hy dronk of is dit ook dan agv rasisme?

kommentaar ·

Was nog nooit n aanhanger van hom nie, nou weet ek hoekom

annie ·

Was Jansen nie destyds die dekaan van lettere by UP nie toe dit nog trots-Afrikaans was. En toe na UV waar hy Afrikaans onder die bus gegooi het. US kan hom gerus ook benut. Hy sal baanbrekerswerk verrig.

Vincent ·

Die kamtige prof moet ook eiertjie le om aandag te kry. Anders is hy ook maar net “non entity”

Johan ·

En tog, hoe kan ons sulke gedrag itv om op ander se goed te urineer onder die mat probeer vee. Ek kan die vergelyking insien tussen iemand wat dit doen soos wat ‘n hond sou doen, ongeag die ras van die boosdoener.

Gideon ·

Gaap…twee weke van nou af het almal alreeds daarvan vergeet want n wit mens in die land se gevoelens word lankal glad nie ernstig opgevat nie, ek stem egter saam dat Theuns geskors is, hoogtyd dat n voorbeeld gemaak word vd jeug wat so drank misbruik

Wakkerslaper ·

jansen seker maar gereken as jy mag sing “maak dood die Boere” kan jy seker maar sê “hulle is honde” ook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.