Dissiplinêre verhore volg ná Khayelitsha-video

(Foto: Skermgreep uit die video)

Vier wetstoepassers sal dissiplinêr verhoor word ná ʼn video gewys het hoe ʼn man glo kaal uit ʼn plakkershut in Khayelitsha gedwing en hardhandig hanteer word.

Dan Plato, uitvoerende burgemeester, het gesê die verrigtinge sal onafhanklik plaasvind. “Dit is volgens die aanbeveling van ʼn onafhanklike ondersoek, wat bepaal het watter stappe die stad moet doen oor die gedrag van die betrokke beamptes.”

Hy het gesê personeellede moet voldoen aan die Munisipale Gedragskode. “Onafhanklike dissiplinêre verrigtinge sal ʼn regverdige en onpartydige oorweging verseker,” het Plato gesê.

Die stad neem kennis van ʼn verklaring wat die man, Bulelani Qolani, intussen by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien het waar hy bevestig hy het in die struktuur ingegaan, sy klere uitgetrek en sonder enige dwang kaal te voorskyn gekom en homself aan omstanders ontbloot, terwyl beamptes besig was om onwettige strukture af te breek.

“Mnr. Qolani beweer hy het daarna onmiddellik weer by die struktuur ingestap om te bad. ʼn Video, wat wetstoepassers tydens die operasie geneem het, wys verder hoe mnr. Qolani uit naak en sonder enige dwang uit die struktuur gestap kom. Dit het gebeur voor die onderonsie met beamptes, wat nou die basis vorm van die onafhanklike dissiplinêre proses.”

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het bygevoeg doelbewuste ontkleding is ʼn taktiek wat beamptes al vantevore gesien het. “Ons het vandeesweek in Welbeloond drie voorvalle gehad en ons het nou ʼn nuwe strategie ontwikkel om dit te hanteer, waar beamptes die naakte persoon met ʼn kombers beklee en hulle uit die strukture vergesel sodat die struktuur afgebreek kan word.”

Stad Kaapstad ontken berigte in die media dat die struktuur, wat in die video gesien kan word, Qolani se huis was. Lugfoto’s deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap weerlê ook Qolani se weergawe van gebeure oor die onwettige grondbesetting op 16 Maart, aldus News24.

Volgens die Sunday Times het Qolani gesê hy was twee weke voor die onderonsie met beamptes reeds daar. Beamptes het egter vir die eerste keer die betrokke struktuur op die dag van die voorval, 1 Julie 2020, opgemerk. Hulle het die vorige dag dieselfde perseel besoek om ʼn onwettige struktuur te verwyder.

Teen-grondgryp-operasies word byna daagliks uitgevoer om te voorkom dat die perseel verder beset word. Die perseel is direk in die pad van ʼn R162 miljoen waterpyplyn van Faure na Khayelitsha, wat tans onder konstruksie is. Meer as R50 miljoen is reeds aan die projek spandeer, het Plato bygevoeg. Die stad het ʼn hofbevel bekom om die onwettige strukture te verwyder, wat dié groot infrastruktuurprojek bedreig. Die pyplyn het ten doel om water- en sanitasiegeriewe te verskaf aan Khayelitsha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Ek glo nie die wettoepassers moet vervolg word nie.
Die man het hul geprovokeer en in ñ sleg lig gestel.
Verder is burgers geneig om erg beledigende en vernederende uitsprake teenoor wetstoepassers toe te snou sonder dat die publiek dit op kamera sien.
Natuurlik is nie alle sake regverdig behandel nie

Mallie ·

Hy het homself uitgetrek om die polisie in n swak lig te stel. Polisie lewens “do also matter”, not only Blm. Ek hoop hulle deporteer hom. Hy is moontlik onwettig in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.