Dít is sakelui se regte ná hofuitspraak

(Foto: pixabay)

Die organisasie Sakeliga sê sy hofgeding teen die lisensiëring van sakeondernemings tydens die afsonderingstydperk was ’n oorwinning vir sakevryheid in Suid-Afrika en danksy die hofuitspraak staan dit ondernemings nou weer vry om sake sonder voorafgoedkeuring deur die regering te doen.

Die hof het beslis geen permitte, lisensies of sertifikate mag ingevolge die regulasies kragtens die Wet op Rampbestuur meer van sakeondernemings of hulle werknemers vereis word nie.

Sekere soorte ondernemings, soos haarkappers, word egter steeds nie toegelaat om te heropen nie.

Sakeliga het nou ook ʼn uiteensetting gegee van die regte van ondernemings, asook die oorblywende regulasies waaraan hulle moet voldoen.

Volgens Sakeliga is dit:

Onwettig vir wetstoepassers om permitte te vereis, boetes op te lê, of sakebedrywighede te belemmer 

Die organisasie sê volgens sy regspan kan alle ondernemings, werknemers en kontrakteurs wat toegelaat word om te werk, sonder permit vir werkdoeleindes reis, met uitsondering van beweging tussen munisipale of provinsiale gebiede.

Die vryheid om te beweeg en handel te dryf in die distrik waar ’n persoon woon bestaan ongeag of daar ’n selfuitgereikte permit of ’n staatsuitgereikte permit uitgereik sou wees. Sakeliga sê dit sal onwettig wees vir ʼn wetstoepassingsbeampte om aan te dring op ʼn permit of lisensies rakende die afsondering, aan te dring op ʼn CIPC-sertifikaat, iemand in hegtenis neem, te verhinder of op enige manier in te meng in sakebedrywighede omdat só iemand nie ’n permit, lisensie of sertifikaat vir die afsondering het nie. Geen boetes mag ook opgelê word vir reis of handel sonder permitte, lisensies of sertifikate vir die afsonderingstyd nie.

Die enigste uitsondering is wanneer daar tussen distrikte gereis word.

Sakeliga sê indien ʼn grens tussen provinsies, metrogebiede of munisipaliteite oorgesteek word, kan daar van ʼn persoon verwag word om ʼn selfuitgereikte permit te toon by die plek waar die grens oorgesteek word.

Die organisasie sê geen ander permitte vir sakeverwante doeleindes op vlak 3 van die ramptoestand mag as deel van die regering se rampbestuurmaatreëls vereis word nie.

Wat as jy ʼn grens sonder ʼn permit oorsteek?

Sakeliga sê hoewel dit ingevolge die vlak 3-regulasies steeds ’n verbode aktiwiteit is, is die versuim om ’n Vorm 2-permit te hê of te toon wanneer ’n distriksgrens oorgesteek word, nie ingevolge die regulasies tot ’n strafregtelike misdryf verklaar nie.

Omdat dit nie ’n misdryf is nie, mag wetstoepassers net optree om die oorsteek van grense te voorkom, en niks meer nie. Die organisasie sê geen boetes mag deur ʼn wetstoepasser in dié verband opgelê word nie en niemand mag in hegtenis geneem word nie.

Wetstoepassers kan wel daarop aandring dat die regulasies nagekom word. Sakeliga sê in dié verband kan die verontagsaming van ’n wettige opdrag om aan die regulasies te voldoen, egter dwarsboming van die gereg wees. Dít is ʼn misdryf waarvoor die persoon in hegtenis geneem kan word.

“Ons is geadviseer dat ’n wettige opdrag in hierdie omstandighede net ’n opdrag kan wees om nie die distriksgrens oor te steek nie,” het Sakekliga gesê.

Omvattende lys misdrywe 

Sakeliga sê sy regspan het ook ʼn omvattende lys opgestel van wat ingevolge die afsonderingsregulasies op vlak 3 misdrywe is.

Die organisasie sê met uitsondering van die items op hierdie lys kan wetstoepassers nie wettig op iemand se vryheid inbreuk maak nie, tensy hulle spesifieke verbodsbepalings ingevolge die afsonderingsregulasies toepas.

Sakeliga het mense wie se sakebedrywighede deur byvoorbeeld die oplê van boetes, inhegtenisnemings of die aandring op permitte belemmer is, gevra om die voorvalle by die organisasie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Wat hom Wagter oubaas se hoene……kry soe lekker tot in my tone!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.