‘Dit is swaar,’ vertel susters oor Vaalharts-verhoor

Trudie de Beer en Heidie Taljaard (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Trudie de Beer en Heidie Taljaard het van die staanspoor af in die hof gesit tydens die verhoor in die saak van moord op hul ouers en suster, Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54), om te hoor hoe hul geliefdes op 26 Julie 2020 op hul kleinhoewe in Magogong, naby Hartswater, ontvoer en vermoor is.

Die saak het tot dusver antwoorde op talle van hul vrae gegee, hoewel dit nie maklik was om te hoor nie.

Die verhoor van Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20) het op 15 Mei vanjaar in die hooggeregshof in Kimberley hervat, waartydens die staat sy saak verder gestel het.

Die staat het Vrydag (26 Mei) sy saak gesluit.

“Dit was ’n baie moeilike twee weke. Dit was swaar om al die detail van die verskillende getuies te hoor,” vertel die susters aan Maroela Media.

‘Hulle het saak gemaak’

Elzabie, Breggie en Dan Brand (Foto: Verskaf)

Trudie en Heidie vertel hul ouers en suster “het iets beteken en saak gemaak” en daarom wil hulle dit graag aan die wêreld verkondig.

“Hulle was ons alles. Ons sal elke hofverrigting bywoon totdat die beskuldigdes gevonnis is. Ons het aan die begin van die saak vir die staatsaanklaer mooi foto’s van ons ouers en Elzabie gegee. Mooi foto’s. Ons wou hê hulle moes die mense wie hulle was, raak sien en hulle nie net herken aan verminkte forensiese foto’s in hul lêer nie,” sê die susters.

Die susters vind dit ook ontstellend dat die verdagtes “doodluiters voortgaan met hul lewens” en dat “hul regverteenwoordigers alles in hul vermoë doen om op klein tegniese punte hul kliënte los te kry”.

“Terwyl hulle presies weet met watter wreedheid en kwaadwilligheid hulle ons geliefdes gemartel en uiteindelik vermoor het. Die verdagtes het geen berou nie. Hulle gesels en kuier saam met hul families, die bewaarders dra kombersies vir die koue aan en ons mense se gebroke liggame was in die winter koue iewers in ’n veld gelos.

“Die ironie is dat ons in ons land so hipersensitief is vir mense se menswaardigheid, maar mense se lewens beteken niks nie. Ons is kwaad, want as jy mense se lewens nie respekteer nie, verdien jy nie om in die samelewing te wees nie.”

Volgens die susters is hulle bowenal ongelooflik hartseer oor alles wat hulle verloor het.

Brand-gesin erg aangerand

Die vier verdagtes van links: teen Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43). Agter: Tsepaone Melato (20) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dié susters moes onder meer getuienis van dr. Lemaine Fouché, ’n forensiese patoloog, aanhoor oor hoe hul geliefdes wreedaardig aangerand en vermoor is.

Volgens die nadoodse ondersoek is Dan dood weens ʼn kopbesering wat deur ʼn stomp voorwerp veroorsaak is en Breggie weens veelvoudige wonde aan haar kop en nek wat deur stomp en skerp voorwerpe veroorsaak is. Elzabie is erg aangerand en dood weens verwurging.

Breggie se liggaam is Woensdag vroegoggend (29 Julie 2020) in ʼn blou duvet in ’n watergat in die Taung-omgewing gevind, gevolg deur Dan en Elzabie sʼn op dieselfde dag naby Taung in die veld. Al drie oorledenes was vasgebind.

Fouché het getuig Breggie het ʼn horisontale wond van 6 cm aan haar keel gehad en ook snywonde aan haar arms.

Breggie en Elzabie se oë was potblou en toegeswel, is getuig.

Volgens Fouché het Elzabie swelling en bloeding op die brein gehad nadat sy met ʼn stomp voorwerp aangerand is.

Getuienis het verder gelui dat Dan verskeie skeurwonde aan sy liggaam gehad het. Hy het minstens 11 wonde aan sy kop gehad het wat ook vermoedelik deur ʼn stomp voorwerp veroorsaak is.

Beskuldigde een: Donald Seoleseng (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Kgomotso Mpulwana. Die vyf verdagtes wat aangekla word van Breggie, Dan en Elzabie Brand se moord, het Maandag in die hof in Kimberley verskyn. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Tshepo Visagie. Die vyf verdagtes wat aangekla word van Breggie, Dan en Elzabie Brand se moord, het Maandag in die hof in Kimberley verskyn. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die nadoodse ondersoek het getoon dat hy bloeding op die brein gehad het, ʼn fraktuur aan sy skedel en dat sy regteroog ook toegeswel en blou was.

Die stasiebevelvoerder van die Marydale-polisiestasie, kapt. Siyabonga Mpofu, wat destyds die misdaadtoneelondersoeker was, het in die hof beskryf hoe die gesin se huis ’n bloedbad was. Die mure, deure en vloere was bloedbevlek. ’n Bruin bloedbevlekte handdoek is ook op die toneel gevind, het hy getuig.

Mpofu het ’n grys hoed, oorbelle en ’n bril as bewysstukke van die huis op die kleinhoewe ingesamel.

Die saak hervat weer tussen 10 en 14 Julie, wanneer die verdediging dan hul saak sal stel.

  • Lees die vorige berig oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

Ai, dis so ontsettend, mens het nie woorde nie. Dis nie net die pyn en lyding van die liggaam nie, maar die ontsettende vrees, angs en skrik waardeur die arme mense moes gaan. Die bekommernis en paniek oor wat gebeur met jou ander geliefdes. Die adrenalien wat jou liggaam oorneem.

Ek hoop hierdie monsters word vir die res van hul armsalige lewens toegesluit. Ek sou meer geregtigheid wou sien, maar dis die beste waarop ons kan hoop. Ons vertrou dat God sal wel wraak neem eendag, en ons trane afvee wanneer ons herenig word met ons geliefdes, terwyl hierdie monsters in die ewige duisternis gegooi word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.