Ditsobotla brand terwyl ministers sloer

Die museum in ligte laaie. (Foto: Verskaf)

Die DA in Noordwes het weer aan die nasionale ministers van samewerkende regering en finansies (Cogta) geskryf om ʼn dringende antwoord te vra op sy versoek om die Ditsobotla- plaaslike munisipaliteit onder artikel 139(7) nasionale administrasie te plaas wat op 13 Oktober 2023 aan hulle voorgelê is.

“Terwyl Cogta-minister Thembi Nkadimeng en minister van finansies, Enoch Godongwana, sloer, ly inwoners steeds weens die algehele ineenstorting in bestuur en dienslewering,” sê Freddy Sonakile, DA-koukusleier in die Noordwes- provinsiale wetgewer.

“As gevolg van die totale onvermoë van die Ditsobotla-munisipaliteit om gereelde instandhouding aan infrastruktuur uit te voer, is inwoners vir 10 dae sonder elektrisiteit nadat ‘n kabel ontplof het. Die munisipaliteit was traag om op hierdie krisis te reageer weens ‘n gebrek aan kundigheid, onderdele en toerusting.”

Sonakile sê munisipale personeel is boonop nie hul September- en Oktober-salarisse betaal nie. “Dit dra aansienlik by tot ‘n totaal gedemotiveerde arbeidsmag wat nie in staat is om hul pligte doeltreffend uit te voer nie, nie net weens ‘n gebrek aan toerusting en onderdele nie, maar ook die impak op hul gesinne wat ander maniere moet vind om kos op die tafel te sit.”

Maroela Media het vroeër berig die Lichtenburg-museum en die stadsaal het Dinsdagaand ook in vlamme opgegaan en die museum se hele versameling historiese artefakte is vernietig. Dit is ’n verlies aan kulturele erfenis wat nooit vervang kan word nie.

Die oorsaak van die brand by die museum word nog ondersoek, maar berigte dui daarop dat die brandweer met ‘n vuurwa sonder enige water by die toneel aangekom het.

“Soos ons regdeur Noordwes gesien het, is daar ‘n ineenstorting in die vermoë van brandweerdepartemente om doeltreffend op brande te reageer om die verlies van eiendom te voorkom en skade te beperk.”

Ditsobotla-inwoners het in hul frustrasie die strate ingevaar om verbeterde dienslewering te eis.

“Ministers Nkadimeng en Godongwana moet uit hul slaap wakker word voordat die situasie in Ditsobotla verder versleg. Drie maande gelede het die DA ’n hofproses namens Ditsobotla-inwoners begin toe Eskom onregmatig geweier het om elektrisiteitstoevoer te hervat ná die vandalisering van ’n elektrisiteitsubstasie.

“Brand-, elektrisiteit- en watertoevoeronderbrekings en ’n magdom ander diensleweringsprobleme loop die gevaar om die bietjie wat in Ditsobotla oor is, te vernietig. Dringende en onmiddellike optrede is nou nodig aangesien al die ingrypings deur die Noordwes- provinsiale regering misluk het. Die DA sal voortgaan om op te staan vir inwoners van Ditsobotla om die dorp van algehele ineenstorting te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

HOEKOM neem inwoners nie hul verwoeste dorpe oor en bestuur dit binne wetgewing? Hou op kerm,kla kruip voor ANC regime!!!

PYPORREL ·

Kan ek asb net een versoek aan Maroela rig… wanneer julle van dorpe skryf wat ‘n naamsverandering ondergaan het, sit asb die bekende naam in hakkie na die nuwe naam. Julle skryf en ek weet nie waar in die land is julle nou nie! Ek is ‘n pensioenaris en die veranderinge sluit my uit – ek hou nie by met alles nie. Gister was dit die straatnaam vandag iets ander! More het ‘n dorp weer ‘n ander naam. Ek voel verward!!

John ·

Wat kan nog daar gebeur………..Wys net hoe treurig is ons ANC Regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.