DKD-beampte onder dié vas vir onwettige mynbedrywighede

Sewe Zimbabwiërs is op heterdaad betrap waar hulle besig was om onwettig op ’n plaas by Barberton te grawe. (Foto: SAPD)

’n Beampte van die departement van korrektiewe dienste is een van 11 verdagtes wat Donderdag buite Mbombela in verband met onwettige mynbedrywighede in hegtenis geneem is.

Volgens kol. Donald Mdhluli, Mpumalanga se provinsiale polisiewoordvoerder, is die verdagtes op ʼn plaas by Barberton vasgestrek.

Die inhegtenisnemings volg nadat die betrokke plaaseienaar vroeër ʼn saak van betreding by die polisie aanhangig gemaak het teen mense wat glo met onwettige mynbedrywighede op sy plaas besig is.

“Nadat alle inligting ingesamel is, is ’n intelligensie-operasie deur polisiebeamptes verbonde aan Operasie Vala Umgodi van stapel gestuur.

“Voordat beamptes die geteikende gebied bereik het, het hulle ’n verdagte bakkie met ’n Zimbabwiese nommerplaat en vier insittendes opgemerk. Toe die bakkie voorgekeer en deursoek is, het die polisie toerusting ontdek wat vermoedelik vir onwettige mynbedrywighede gebruik word, asook goudhoudende materiaal.”

Al vier verdagtes, onder wie ’n korrektiewedienstebeampte en twee Suid-Afrikaners, is op die toneel in hegtenis geneem. Die vierde verdagte is ’n Zimbabwiese burger.

Met beamptes se aankoms by die geteikende gebied is sewe Zimbabwiërs op heterdaad betrap waar hulle besig was om op te die plaas te grawe.

“Verskeie onwettige mynboutoerusting, waaronder ʼn metaalopsporingstoestel, is in hul besit gevind,” sê Mdhluli.

“Die polisie werk tans saam met die departement van binnelandse sake aangesien die Zimbabwiese verdagtes nie geldige dokumente kon lewer dat hulle in Suid-Afrika mag wees nie. ʼn Bykomende klag vir die oortreding van die Wet op Immigrasie is teen dié verdagtes aanhangig gemaak.”

Al 11 verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Barberton-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronél ·

Kan ‘n waardige/waaghalsige NUUSNEUS die onwettige mynbedrywighede in Tlhatlhaganyane, Noordwes ondersoek???

Witwax ·

Ek sal graag wil weet hoeveel onwetigge oor loopers is in die land. As jy nuus lees is die wat in hegtenis geneem is onwetig in die land.

Amelia ·

Witwax as ek so kyk seker helfte van land se mense is nie hier gebore nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.