Dodetal in KZN nader 400; dood van skoolleerders betreur

Die dodetal weens grootskaalse vloede staan nou op 395. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die dodetal weens rampspoedige vloede in KwaZulu-Natal het tot 395 gestyg terwyl talle mense steeds vermis word.

“Ongelukkig bly die aantal sterftes toenemend styg, met die jongste dodetal wat op 395 te staan kom,” het Sipho Hlomuka, LUR vir menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdag in ʼn verklaring gesê dat 18 leerders en een onderwyser tot dusver hul lewe verloor het.

“Ons is hartseer dat soveel lewens verlore gegaan het en wil ons innige meegevoel met alle geraakte gesinne en families betuig.

“Dit is ʼn uiters tragiese verlies en ons gebede gaan uit aan almal wat geliefdes en besittings verloor het.”

Die dodetal weens grootskaalse vloede staan nou op 395. (Foto: Cogta/KZN)

Maroela Media het vroeër berig dat die provinsiale onderwysdepartement genoop was om talle skole te sluit weens skade aan infrastruktuur en die risiko wat die vloede vir leerders en onderwysers inhou. ʼn Provinsiale ramp is amptelik Woensdag in die provinsie afgekondig.

Volgens Kwazi Mshengu, LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal, is meer as 500 skole tot dusver beskadig – onder meer deur die huidige vloede, asook vorige storms wat die provinsie onlangs getref het.

Volgens Motshekga het die departement ʼn senior bestuurspan na die provinsie gestuur om ondersteuning aan die provinsiale departement te bied en ʼn assessering van die skade aan skole te doen.

“Dit is ʼn katastrofe en die skade is ongekend. Wat selfs meer kommerwekkend is, is dat nog reën verwag word in dieselfde gebiede wat reeds geraak word.”

Motshekga sal KwaZulu-Natal na verwagting binnekort besoek.

  • Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.