Dodetal reeds op sewe ná kragtige aardbewing in Taiwan

Nooddienswerkers soek na oorlewendes in ‘n gebou wat getref is deur ‘n reuse aardbewing in New Tapei-stad. (Foto: AFP)

Sewe mense is dood en meer as 700 beseer in die sterkste aardbewing in Taiwan in meer as twee dekades. Drie van die slagoffers het vroegoggend deur die heuwels gaan stap, toe rotse wat weens die aardbewing losgeraak het, hulle vergruis het, het amptenare gesê.

ʼn Vragmotorbestuurder is in ʼn afsonderlike voorval ook dood toe sy voertuig deur ʼn grondstorting getref is net nadat hy ʼn tonnel in die gebied genader het.

Vlugte by Okinawa se lughawe is aanvanklik opgeskort, maar weer hervat.
Die aardbewings het Woensdag net voor 08:00 (Japanse tyd) plaasgevind met die Amerikaanse agentskap vir geologiese opname (USGS) wat die episentrum 18 km suid van Hualien in Taiwan en op ʼn diepte van 34,8 km plaas.

Die aardbewing het gelei tot tsoenami-waarskuwings wat tot in die Filippyne kan voorkom.
Amptenare waarsku teen nóg skuddings in die komende dae. Wu Chien-fu, direkteur van die sentrale weeradministrasie se seismologiesentrum in Taipei, sê die aardbewing is naby aan die land gevoel, regoor Taiwan en die omliggende eilande. Hy sê die aardbewing was die naasgrootste sedert een in September 1999, waarin sowat 2 400 mense dood is en wat 7,6 gemeet het. Dít was die dodelikste natuurramp ooit op die eiland.

Dit blyk sterk bouregulasies en wydverspreide openbare rampbewustheid het in die onlangse aardbewing ʼn reuseramp afgeweer vir die eiland, wat gereeld onder aardbewings deurloop. Die rede hiervoor is omdat dit geleë is naby die aansluiting van twee tektoniese plate.
Die nasionale brandbestrydingsagentskap sê al die sterftes is in Hualien aangemeld. Tot dusver is 736 mense beseer. Chia-Yen Wei, burgemeester, sê meer as 50 oorlewendes is uit die puin van verskeie beskadigde geboue gered.

Die grootste aardbewing in Japan, in 2011 naby die noordoostelike kus onder die see, het 9,0 gemeet. Dié aardbewing in Maart 2011 het 18 500 mense dood of vermis gelaat.

Die 2011-katastrofe het ook drie reaktors by die Fukushima-kernaanleg laat ineenstort. Dit was Japan se ergste ramp sedert die oorlog en die ernstigste kernkrag-ongeluk sedert Tsjernobil.

Op Nuwejaarsdag het ʼn reuseaardbewing van 7,5 die Noto-skiereiland getref en 230 mense dood gelaat. Baie van dié slagoffers is dood toe geboue ineengestort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.