‘Doodse stilte’ ná siekte tehuis se trooshasies eis

Om inwoners te help vertroos het personeel nou begin om sagte speelgoedhasies in te samel. (Foto: Mariska Nanni)

“Die hasieverkeer.”

Dít is wat hartseer inwoners en personeel van Irene Homes – ʼn tehuis vir mense met intellektuele gestremdhede – veral mis nadat ʼn uitbreking van dodelike hemorragiese haassiekte onlangs 275 van hul geliefde hase geëis het.

Hase vorm nog altyd ʼn kerngedeelte van die tehuis, sy ryk geskiedenis en die terapeutiese omgewing wat oor die afgelope dekades vir inwoners hier gevestig is.

Alishia Steyn, bestuurder van gesondheidsorg by die tehuis, sê die uitbreking en vrektes het inwoners en selfs personeel laat steier onder die verlies.

Die voorval was uiters traumaties vir die personeel en 86 vroue-inwoners wat vanaf 24 Oktober magteloos moes toekyk hoe die hase, waarvan sommiges nog klein hasies was, gely en die een ná die ander gevrek het: eers 31 hase, toe 48, daarna 37.

Alishia Steyn, bestuurder van gesondheidsorg by Irene Homes, en Elize Breet, werkswinkel- en programbestuurder. (Foto: Mariska Nanni)

Só het dit aangehou totdat die laaste vier hase op 6 November dood is.

Net twee hase het oorleef.

“Om al ons hasies te verloor het ʼn groot emosionele uitwerking op almal gehad. Daar was altyd soveel interaksie tussen die dames [inwoners] en die hase. Dit was selfs vir ons as personeel lekker om soms buite te sit en net na die hase te kyk.

“Ons werk kan soms emosioneel belaai wees, en dan het dit baie gehelp,” sê Elize Breet, werkswinkel- en programbestuurder.

“Irene Homes is 117 jaar oud en op meer as 6 ha grond geleë. Ons het ʼn baie rustige, terapeutiese omgewing; hier is werklik ʼn landelike gevoel, waarvan ons hase ʼn groot deel is. Nou is daar sommer so ʼn doodse stilte.”

Steyn sê sy sit ook met vier klein hasies wat sy vroeër op die terrein gered het nadat hul ma hulle verwerp het. Sy het dié hasies, wat nou drie maande oud is, by haar huis versorg en ná die uitbreking laat inent. Sy hoop om binnekort nuwe, liefdevolle huise vir die mak hase te kry.

Speelgoedhase troos

Om inwoners te help vertroos het personeel nou begin om sagte speelgoedhasies in te samel. (Foto: Mariska Nanni)

Om inwoners te help vertroos het personeel nou begin om sagte speelgoedhasies in te samel en stuk-stuk aan inwoners te oorhandig. Die inisiatief is deur die liefdadigheidswinkel op die perseel van stapel gestuur.

“Die winkel het voorgestel dat geskenkte speelgoedhasies aan inwoners gegee word. Dit was wonderlik om die glimlagte op hul gesigte te sien toe ons dit aan hulle oorhandig. Elke haas het al ʼn naam en die inwoners dra hulle oral saam,” sê Steyn.

Al die inwoners het egter nog nie ʼn speelgoedhaas ontvang nie, aangesien die tehuis op skenkings vir die kosbare bederf staatmaak.

“Ons wil graag vir elkeen haar eie een gee.”

Finansiële knou

Benewens die hartseer wat die voorval meegebring het, het die uitbreking ook groot finansiële implikasies vir die tehuis, aangesien die perseel ingevolge gesondheidsregulasies vir 90 dae in kwarantyn moet wees.

Dit beteken die tehuis sal nie sy jaarlikse Kersmark of Kerssangdiens kan hou nie; dit is van hul grootste en belangrikste fondsinsamelingsinisiatiewe.

Die tehuis gaan wel volgende maand deel vorm van die Kersmark by die Irene Link-winkelsentrum.

Enigeen wat by die tehuis betrokke wil raak of ʼn skenking wil doen, kan Irene Homes by 012 667 1035 skakel of hul webwerf besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina ·

Ek is jammer om te hoor – die mensies kan seker nie verstaan wat het van hul hasies geword nie. Ek hoop julle kry gou vir elkeen ‘n eie hasie. Sterkte en seenwense aan almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.